In Amerika raak vennootskappe tussen vee- en saaiboere waarin die saaiboer wat nie vee het nie, sy dekgewasse vir beweiding aan die veeboer uithuur, ’n praktyk wat boere daar toenemend beproef, veral in ’n era waarin pryse vir kontantgewasse besonder laag is. Daar word selfs al riglyne vir sulke kontrakte gegee.

Twee Vrystaatse boere het nou ook die sinergistiese winsgewendheid daarvan besef, en ’n stel riglyne vasgemaak. Mnr. Ray Strydom, Gautengse sakeman en boer van Ficksburg, is al lankal van die waarde van dekgewasse oortuig. Op sy plaas Nassaux in die Franshoekvallei was kontantgewasverbouing nog nooit juis, indien ooit, ’n winsgewende opsie nie.

Hy behaal wel groot sukses met armmanslusern daar, op die ou lande en in afgetakelde veld. Terwyl hy as entrepreneur by ’n bou-onderneming in Gauteng betrokke was, nog voordat hy die plaas by Ficksburg gekoop het, het hy altyd ook vee as ’n soort bank op huurgrond aangehou. Vir hom was dit nog altyd die beste seven-day call account waarin jy kan belê, sê hy.

Aan die sakekant het hy baie ondervinding opgedoen oor al die maniere waarmee beleggers se geld optimaal benut en belê kan word. Toe hy op Nassaux begin boer het, was sy doelwit om in die somer vee op die plaas te hê, maar nie in die koue en onproduktiewe winters nie.

Dit strook met sy doelwit om saam met die natuur te boer. Hy glo wildtroppe sou in die verlede, voordat daar begin boer is, in die somer daar wei, maar voor die strawwe winters elders trek.

Geleidelik het die idee by hom posgevat om soos ’n byeboer wat korwe op ander boere se plase uitsit, ’n “bees-byeboer” te word deur kalwers op ander boere se plase te sit en uit so ’n vennootskap in die wins te deel. Deur ’n sameloop van omstandighede het ’n agent wat speenkalwers aankoop, Strydom aan mnr. Hentie Kruger, ’n saaiboer van Winburg, voorgestel.

Mnr. Hentie Kruger in sy silk-land. Dié meerjarige weidinggewas veroorsaak nie probleme met blousuur nie en is besonder droogte­bestand.

“Hy het na my storie geluister en gesê hy ken ’n kommersiële boer wat ek moet ontmoet . . . dat ons persoonlikhede ooreenstem. Dit was ’n bietjie soos ’n toe-oë-afspraak.” Dís waar Strydom en Kruger se vennootskap begin het.

Vir Kruger, vir wie somersaaiery weens die kosteknyptang en lae mielieprys nie meer so winsgewend soos in die verlede is nie, was dit ’n finansiële uitkoms. Hy het die afgelope seisoen 700 ha van sy lande met ’n dekgewasmengsel beplant. Die insetkoste was R1 800/ha teenoor die R4 500/ha wat dit hom gekos het om mielies op die res van sy lande te plant.

Strydom het die dekgewasaanplantings met ’n produksielening gefinansier, soortgelyk aan wat ’n landboumaatskappy vir die verbouing van kontantgewasse sou gee. Hy en Hentie het ook saam ’n elektroniese skaal gekoop waarmee elke kalf se groei individueel gemonitor kan word.

Speenkalwers in ’n mengsel somerdekgewasse op een van Hentie se lande. Hy het vanjaar 700 ha van sy lande met dekgewasse beplant sodat sy vennoot Ray Strydom se speenkalwers daarop afgerond kan word.

Só werk dit

Die winsdeling is 67% vir Kruger en 33% vir Strydom. Strydom koop die kalwers aan wanneer hulle van 170 kg tot 210 kg weeg. Elke vrag speenkalwers word geweeg en elke kalf individueel aangeteken, met ’n elektroniese oorplaatjie, ’n kuddenommer in die ander oor, sowel as ’n brandmerk.

Elke bees is dus ’n individuele, afsonderlike, identifiseerbare bate vir Strydom. Hy sê hierdie beginsel van eienaarskap is van groot belang.

“Daar moet nooit ’n vraag of debat wees oor wie die bees se eienaar is nie. Daar moet ’n baie duidelike lyn wees tussen wie die versorger en wie die eienaar is. Die een wat die bees betaal, besit hom. Hy moet die belastingkant ook behartig en die dier moet sý brandmerk hê. “Ek behartig al die finansies, betaal die BTW oor en finansier die aankope.”

Alle uitgawes vir die versorging van die beeste is Hentie se verantwoordelikheid en vrektes is sy verlies. Transaksies en winsdeling tussen die twee vennote word afgehandel elke keer as ’n bees verkoop word, binne twee dae van die verkope se ontvangs.

Kies die regte vennoot

Vir Strydom is dit ’n hoogtepunt dat hy deur die sameloop van omstandighede die regte vennoot vir hierdie soort boerdery gevind het. “Dis belangrik dat jy die regte vennoot kies. Julle moet dieselfde lewensbeginsels en etiek deel. “Kies jou vennoot en die mense met wie jy sake doen reg. Dis soos ’n huwelik . . . maak seker julle is op dieselfde golflengte.”

’n Deel daarvan is Strydom se standpunt dat geenbewerking sonder dekgewasse nie kan werk nie. Daarmee saam moet ’n veekomponent met drukbeweiding tot die stelsel toegevoeg word om grondgesondheid te laat herleef en uitgeputte saaigrond se koolstofinhoud te verhoog.

“Hierdie praktyke werk nie op hul eie nie. Konvensionele geenbewerking (sonder dekgewasse en wisselbou met ten minste drie gewasse) werk meestal nie. Nou begin ons besef dit is belangrik om die impak van diere ook in te bring. In die verlede het hierdie dinge elkeen net op sy eie been gestaan, maar nou sien ons jy moet die hele prentjie voltooi,” sê Strydom.

Kruger, wat voorheen konvensioneel geboer het, aanvaar deesdae dié filosofie. “Hentie het nog altyd verstaan koolstof is die groot probleem in sy konvensionele stelsel,” sê Strydom.

“Hy is ’n topboer. Toe ek met hom begin praat oor hierdie goedkoper manier van beesvleis lewer, het ons vriende in die ding geword. Ons glo nou in dieselfde saak – dat daar (met herlewingslandboupraktyke) ’n beter en makliker manier is.”

Mnre. Ray Strydom (links) en Hentie Kruger met een van die radyse uit hul mengsel somerdekgewasse.

Naspeurbaarheid dringend nodig vir finansiering

Die verpligte naspeurbaarheid van elke individuele dier is vir Strydom ’n groot klip in die skoen. Daarsonder is finansiers, soos banke en landboumaatskappye, nie bereid om die aankoop van vee te finansier wat op hul beurt dekgewasaanplantings kan bewei om daardie herlewingspraktyk winsgewend te maak nie, sê hy.

Mnr. Cobus van Coller, bewaringsboer van Viljoenskroon, stem saam. Hy vertel van ’n geval waar ’n boer ’n bank gevra het om vee-aankope vir die beweiding van dekgewasse te finansier, wat besonder winsgewend kon wees.

Die aansoek is summier afgekeur, maar kort daarna het dieselfde bank ’n voertuiglening aan die boer toegestaan – vir ’n nuwe bakkie wat waarde verloor sodra hy by die agentskap uitry. Strydom sê dit is hoog tyd dat die Regering ’n verpligte registrasiestelsel vir alle vee instel, soortgelyk aan die Natis-stelsel vir voertuie.

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) behoort voorbrand vir hierdie saak te maak, meen hy. In lande soos Botswana en Namibië is sulke stelsels reeds suksesvol in bedryf. Nie net sal so ’n stelsel naspeurbaarheid vir toegang tot finansiering en uitvoer verseker nie, maar ook diefstal en belastingontduiking bekamp.

“Hoekom dus nie?” Strydom sê daar is ’n lang lys boere wat soortgelyke vennootskappe met hom wil aangaan, maar die finansiering is nie beskikbaar nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.