Die meeste heuningbostee en boegoe in Suid-Afrika groei wild in bergagtige gebiede en boere oes wat beskikbaar is. Dit beteken dat die vraag mettertyd die aanbod kan verbysteek. 'n Wilde plant kan net 'n sekere hoeveelheid keer geoes word, waarna dit nie meer kan voorbly om te produseer nie.

Met die toenemende gewildheid van hierdie tipies Suid-Afrikaanse produkte stuur hierdie praktyk op probleme af, sê mnr. Pierre Taljaard, bekende heuningbostee- en boegoeprodusent en eienaar van die verwerkingsaanleg Cape Honeybush Tea op Mosselbaai.

Hy sê die meeste produsente produseer steeds goedkoop en het nog nie hul plante vermeerder nie Dit het noodsaaklik geword dat produksieprobleme aandag kry. Dit sou dom wees om te wag tot die bedrywe se groei momentum begin kry.

Op sy plaas Kanetberg in die bergagtige noordelike deel van Riversdal se distrik is alles gereed om die stygende aanvraag van veral oorsese markte te hanteer. Dit is egter 'n langtermynstrategie wat gevolg word en wat selfs as baanbrekerswerk beskou word. Want wat op Kanetberg gebeur, is dat heuningbostee en boegoe nou op groot skaal in landerye geplant word. Daarby is 'n hele vallei waar al die heuningbostee en boegoe geplant is as organiese produksiegebied geregistreer.

Die grond word omgeploeg, organiese fosfaat toegedien, plastiekstroke gelê (om die jong plante 'n voorsprong teen onkruid te gee) en die plantjies gevestig.

Om 'n hektaar te vestig, kos mnr. Taljaard R7 000 tot R8 000 sonder besproeiing. As besproeiing sou bykom, kan R8 000/ha tot R10 000/ha bygetel word, meen hy. Op Kanetberg vorm egter genoeg kapulêre vog teen die hange waar die lande geleë is, en selfs in droë tydperke was dit nog nie nodig om te besproei nie. In diestadium het mnr. Taljaard sowat 40 ha onder heuningbostee.

'n Groot persentasie van die boegoe word uitgevoer, veral na Amerika.

Mnr. Taljaard sê dit is feitlik onmoontlik om te keer dat boegoe elders in die wêreld gekweek word. Die enigste mate van beskerming van die Suid-Afrikaanse bedryf is die vestiging van 'n sterk bedryf waarmee ander lande nie kan meeding nie. 'n Voordeel is dat boegoe goedkoper na Amerika uitgevoer kan word as wat dit daar geproduseer kan word. Dieselfde geld heuningbostee.

Boegoesmokkelary, 'n groeiende probleem veral nader aan die Kaapse metropool, is nie 'n probleem op die taamlik afgeleë Kanetberg nie. Fabrieke betaal nou gemiddeld R28/kg, en dit maak diewe aktief. 'n Smokkelaar kan vir 'n ton boegoe R28 000 kry - wat dit gesogte smokkelmateriaal maak. 'n Boegoeplantjie kos R4.

'n Vraag wat nog beantwoord moet word, is waar die produksieplafon vir boegoe en heuningbostee lê. Daar is baie nuwe toetreders, en binne enkele jare kan 'n oorproduksie ontstaan. Daar is goeie oorsese markte, maar niemand weet waar hul versadigingspunte is nie. Dieselfde geld heuningbostee.

'n Moederblok is gevestig om aanvanklike heuningbossaailinge te kweek waaruit steggies gemaak kan word. Dit was nodig, want om uit byvoorbeeld net 20 plante 'n seleksie te maak, word later allerlei kompromieë gemaak en standaarde word só verlaag. Met 'n moederblok met baie plante om uit te kies, word net die allerbeste plantmateriaal geselekteer.

Dr. Hannes de Lange, bekende botanikus van Oudtshoorn wat hom vroeër op Kirstenbosch aan die kweek van verskillende heuningbostee toegewy het, is besig om nuwe heuningboskruisings te kweek. Dit is heeltemal nuwe kruisings en nie bloot 'n veredelingsproses van bestaande soorte nie, sê mnr. Taljaard.

Dit is 'n ingewikkelde en tydrowende proses, maar die resultate is reeds sigbaar. In diestadium word met ses nuwe kruisings geëksperimenteer, maar die welslae daarvan sal eers ná vier tot ses jaar bepaal kan word. Dit moet getoets word vir aromatiese kenmerke, smaak en hergroei.

Uit dieses nuwe kruisings sal minstens een (en dalk meer) uiteindelik as nuwe kultivars bekend gestel word. As die uitstekende eienskappe van verskillende goeie kultivars saamgevoeg word, is die kans uitstekend dat die nuwe kruising wat daaruit voortvloei, nog meer uitstekende eienskappe sal hê as die "ouers". Swakker eienskappe word uitgeteel.

Die heuningbosteebedryf is maar sowat vier jaar behoorlik op koers in Suid-Afrika. "Ons het onsself as produsente van organiese produkte laat registreer, en ons tee word as 'n organiese produk oor die hele wêreld heen gebruik," sê hy.

Veral die laaste jaar spits hy hom op die bemarking daarvan toe, plaaslik en in die buiteland, en dit gaan goed. Hy het 'n paar groot buitelandse kontrakte. In baie oorsese lande is heuningbostee 'n gesogte produk, en die vraag groei stewig - veral in Duitsland. Bemarking is grootliks op die buiteland gekonsentreer, en sowat 80 % van die Suid-Afrikaanse produksie word uitgevoer.

Cape Honeybush Tea bemark nou ook klaar verpakte tee. Dit is maklik om tee in groot volumes te verkoop. Maar om 'n klaar verpakte produk te verkoop, is baie moeiliker.

Die grootste deel van die maatskappy se heuningbostee word uitgevoer, hoewel verpakking op kontrak vir 'n plaaslike supermarkgroep ook gedoen word. Die mark is besig om stadig maar seker ook binnelands te groei.

Die heuningbosteebedryf word nie beheer nie, en boere moet hul eie markte oorsee vind. Die enigste aspek wat baie nougeset gemonitor word, is gehalte. 'n Enkele boer wat 'n vrag swak heuningbostee in die buiteland probeer bemark, sal die hele bedryf 'n knou toe dien. In die buiteland word die hele land se produksie oor een kam geskeer. Die Vereniging vir Produsente van Heuningbostee waak oor die gehalte van uitvoertee.

'n Interessante verwikkeling is dat die heuningbostee- en rooibosteebedryf nou saamwerk. 'n Mengsel daarvan, bekend as Honeyred, is besig om baie gewild te raak in Suid-Afrika. "So kry jy die beste van twee wêrelde in een koppie tee," sê mnr. Taljaard.

Die heuningbos-groentee wat deur Cape Honeybush Tea vervaardig word, is die enigste in sy soort ter wêreld. Die maatskappy vervaardig dit met 'n unieke proses wat hy in die fabriek buite Mosselbaai ontwikkel het. Sekere prosesse om oksidasie te voorkom sodat die tee hul groen kleur behou, moet gemanipuleer word. Sekere masjinerie wat self ontwerp is, is daarvoor nodig.

Daar is verskillende pryse vir verskillende grade tee. Hoe fyner die tee, hoe beter die prys, want dit word in teesakkies gebruik. Growwer tee word in grootmaat verkoop en is goedkoper. Die pryse wissel van 2,30 euro/kg tot 3,80 euro/kg. Organies gekweekte tee se prys is15 % hoër.

Hoewel hy net organiese tee kweek, is van die tee wat hy bykoop nie organies verbou nie. Binne 'n jaar gaan hy egter net organiese tee by die fabriek verwerk, wat die produksie sal vergemaklik. Baie teenavorsing, nie net op heuningbostee nie, word in Duitsland gedoen, en vergelykende studies word gepubliseer. 'n Teekenner in Duitsland, dr. Susan Reuter, is besig om 'n boek te skryf oor tee, en heuningbostee word ook deeglik behandel. Sowat 15 produsente uit die Langkloof, van wie heelparty uit die agtergeblewe gemeenskappe is, lewer tee aan die fabriek. Streng gehaltebeheer word in die fabriek toegepas en tee wat nie aan die standaarde voldoen, word nie ingeneem nie.

Boegoeplantjies van steggies gekweek

Mnr. Pierre Taljaard en sy dogter, Wiena, het die bykans onmoontlike reggekry om boegoe van steggies te kweek. Vandag word al die boegoeplantjies op die plaas van steggies gekweek.

Sommige boegoeplante het beter medisinale eienskappe as ander. Dit is onbekend waarom plante van dieselfde soort en in dieselfde omgewing van mekaar verskil. Dit gebeur dikwels dat 'n bos wat langs 'n bos met hoë genetiese waarde groei, min hergroeivermoë het en uiters vatbaar vir siektes is.

Boegoe en heuningbosteeplante met beter genetiese eienskappe word voortdurend geïdentifiseer. Dit is 'n baie streng seleksieproses, want teling vorentoe word net met dieplante gedoen wat oor die beste genetiese eienskappe beskik en 'n natuurlike weerstand teen siektes het.

Alle heuningbostee- en boegoelande op die plaas word elke jaar deurgestap en plante wat die beste groeikragtige eienskappe toon, word gemerk. Sulke plante moet 'n sekere groeiwyse en die blaar 'n sekere smaak hê. Steggies word uit die gemerkte bosse gemaak, wat vermeerder word.

Mnr. Taljaard sê dieselfde beginsel word met boegoe en heuningbostee gevolg. Hoewel die nuwe plantjie wat na 'n veldbrand uit die ondergrondse knolle uitloop, jonk en nuut lyk, is die knolle waarskynlik al oud.

"Ons deurbraak was dat ons splinternuwe saailinge gekweek het."

Niemand weet hoe lank so 'n nuwe plant produktief sal wees nie, sê mnr. Taljaard. Dit is nog nooit nagevors nie. Hy skat as die plante goed behandel en nie oorbenut word nie, kan dit moontlik tot 15 jaar lank geoes word voordat dit vervang moet word.

Die beginsel is die eerste keer suksesvol op heuningbostee toegepas en later ook op boegoe. Veral by boegoe was die sukses dadelik sigbaar.

Die boegoekwekery is nou reeds in die stadium dat 'n moederblok gevestig is waar alle steggiemateriaal in die toekoms gekweek sal word. Dit is sowat 'n derde van 'n hektaar groot en daar is sowat 1 000 plantjies.

27 Junie 2003