Ná ’n landwye soektog na gewasse om hul mandjie uit te brei het die Waterberg se moontlikhede hulle omgeboul — en vandag verbou hulle katoen, fabriekstamaties én suikermielies om die kontantvloei gesond te hou tot hul winsgewende pekanneutaanplantings in produksie kom. 

Die gesoute sitrusboere en swaers mnre. Pieter Esterhuyse en Johan Pretorius van die Weipe-omgewing in Limpopo glo jy moenie al jou eiers in een mandjie sit nie. In hul soeke na ’n plaas met genoeg water om ’n permanente boomgewas te vestig én kontantgewasse te besproei, het hulle op ’n pêrel in die Waterberg afgekom.

Met die aftrede van Pieter se pa, Willie, het die swaers die geleentheid aangegryp om die Overvlakte-boerdery aan die oewer van die Limpoporivier oor te neem en uit te brei.

Met die lesse wat hulle by hom geleer het oor die landbou, finansiële risiko-, personeel- en hulpbronbestuur, het Pieter en Johan twee jaar gelede voelers begin uitsteek op soek na goeie besproeiingsgrond elders in die provinsie.

Te midde van beleidsonsekerheid oor grondbesit het hulle besluit om grond te soek waar die klimaat in hul guns tel om te diversifiseer – en Vaalwater het hulle verras.

Die Weipe-omgewing was nog altyd bekend vir sy katoen en koring. Overvlakte het ook ’n sitrusboerdery opgebou met 166 ha sitrusbome, wat Valencias en suurlemoene insluit. Daar plant hulle ook fabriekstamaties vir Tiger Brands en suikermielies vir die Rhodes-kosgroep op kontrak.

Die plaas van 845 ha, waarvan 270 ha uit die Limpoporivier besproei word, word tans teruggehuur nadat ’n groot maatskappy hulle uitgekoop het. “Ons het ’n goeie verhouding met die verhuurders en het heel aan die begin van die onderhandelinge aan hulle verduidelik dat ons nie kan stagneer nie. Ons boer dus voluit, asof dit ons eie grond is. Dit is ten gunste van albei partye.”

’n Tweede plaas

Die gedagte was van die begin af om ’n boerdery in ’n ander omgewing op die been te bring waar hulle ’n langtermyngewas, soos sitrus of pekanneute, kon verbou om hul risiko só te versprei. Die Weipe-omgewing waarvoor hulle lief is en waar hulle die landboutoestande goed ken, was buite die kwessie.

Daar is nie meer grond te koop nie en die meeste plase is reeds groot, suksesvolle familieplase. Hulle het dus na ander sitrusproduserende gebiede, soos Groblersdal en Ohrigstad, gekyk. “Sitrus is wat ons ken,” sê Johan. Besproeiingsgrond in dié gebiede is egter skaars en hulle is gedwing om verder in onbekende gebiede, soos die Noord-Kaap, na grond te gaan kyk.

Daar het hulle pekanneutverbouing gesien, wat hulle geïnteresseer het. Johan en Pieter het dus gaan kyk toe hulle hoor van ’n plaas aan die oewer van die Mogolrivier naby Vaalwater wat op die mark was en moontlik gunstig kon wees vir die verbouing van pekanneute.

Daar is nou al 15 ha onder pekanneutbome en die Overvlakte-boere hoop om uiteindelik 40 ha op hul plaas by Vaalwater onder pekanneute te hê.

’n Nuwe gewas

Dié deel van die Waterberg het warm, tropiese somers en kort, maar koue winters, wat volgens kenners geskik is vir pekanneute. Dit is eintlik tabakwêreld, maar die vorige eienaar het wortels aan die groentemaatskappy McCain gelewer en ook waatlemoene geplant.

Op grond van ’n nabygeleë sitrusboerdery se boorde kon hulle aflei dat sitrus wél in die omgewing sou aard, maar teen groter risiko as in die Weipe-omgewing. In hul soeke na grond het Pieter en Johan vroeër ook na ’n makadamiaboerdery in Levubu gekyk, en die neutmark het ál aanlokliker gelyk.

Die Waterberg is nie geskik vir makadamias nie, maar ná ’n bietjie huiswerk oor neute het hulle saamgestem dat die diep, sanderige grond van Vaalwater, die koue winters en goeie reënval moontlik gunstig vir pekanneute kon wees. As die boorde eers gevestig is, is pekanneutbome baie geskik vir meganisasie, ’n belangrike oorweging vir Overvlakte.

Pieter het Suid-Afrika platgereis. Hy het by kenners in die Noord-Kaap en ook by ander pekanneutboere, soos mnr. Ivan Otto van Nylstroom wat die Suid-Afrikaanse pekanneutprodusentevereniging se verteenwoordiger vir Limpopo is, gaan kers opsteek.

Pekanneutbome het ’n diep penwortelstelsel en word in gate van dieper as ’n meter geplant. Johan staan hier langs een van die gate.

Alles – van boomspasiëring tot die installering van ondergrondse hooflyne vir besproeiing (met die hulp van kundiges, soos Aqua Instrumente) — is met ’n toekomsvisie vir die minimum bestuur en met die oog op meganisasie gedoen. Mikrobesproeiing is ’n moet weens die sandgrond en die hoeveelheid water wat die bome benodig.

“Ons soek nie ’n yslike groot boom nie. Ons is uit en uit op hoër plantdigtheid ingestel. Met die sitrus het ons gesien jy verhaal jou inkomste baie vinniger teen ’n hoër digtheid. Ons kan later ook elke tweede boom verwyder as ons sien ons bome is te na aan mekaar. Ten minste is ons dan al in produksie en ontwrig ons net ’n halwe boord vir ’n jaar of wat,” sê Johan.

Hul huidige boomspasiëring is 12 m x 6 m, oftewel 138 bome per hektaar. Verlede jaar het hulle Wichita aangeplant as hoofkultivar, met Navaho en Ukulinga as hulpbestuiwers. Veranderings word egter reeds aangebring vir vanjaar se aanplanting met kultivars wat eerder ’n deurlopende drag kan lewer, soos Wichita, Western en Choctaw, met Wichita wat homself tot 80% kan bestuif.

“Ons leer nog elke dag en sal aan- hou eksperimenteer.”

veel Meer as neute

Vanjaar het hulle op klein skaal suiker- mielies, katoen, rooi spikkelboontjies en fabriekstamaties geplant. Vir wisselbou word hawer aangeplant om aalwurm te onderdruk. Johan sê die aanplantings was hoofsaaklik eksperimenteel.

“Ons was maar bang vir die suikermielies weens die landwye probleem met kommandowurm. Ons het katoen op die proef gestel, want dit is wat ons ken. Dis net die sandgrond van hierdie omgewing wat ’n groot probleem is.”

Al was dit amper te laat vir katoen, het hulle nietemin deurgedruk en dit geplant, en dit lyk of hulle ’n heel aanvaarbare oes van sowat 4 ton per hektaar kan verwag. Dit is nie naastenby so goed soos hul opbrengs op Weipe nie, maar hulle wil volgende jaar weer katoen plant op Vaalwater, maar in die regte tydgleuf.

Albei plase se katoen word by die pluismeul op Weipe – Weipe Cotton Gin – gepluis. Met die tamaties het dit ook goed gegaan. Aangesien hulle op Vaalwater vroeër kan begin plant as in Weipe, kon hulle hul gereelde kliënte vroeër van tamaties voorsien. Dit help baie met kontantvloei in ’n droë tyd. Overvlakte wil volgende jaar proewe doen met ander kultivars.

Hulle het gevind Vaalwater se koeler nagte as dié by Weipe is baie gunstig vir tamaties. Die vrugset en die grootte van die vrugte is ook veel beter as by Weipe, maar die hoër reënval kan lol. Suikerboontjies en grondboontjies is ’n gevestigde gewas in die area.

Die suikerboontjies is net nog ’n kontantgewas waarmee Overvlakte seker maak die boerdery se kontantvloei bly veilig en geen grond lê onbenut nie. Hulle het dit verlede jaar vir die eerste keer geplant en het 2,5 ton/ha geoes. Vanjaar skat Johan die oes op sowat 3 ton/ha, ’n goeie gemiddelde boontjie-oes.

Dit word aan ’n verwerker naby Roedtan gelewer teen ’n vooraf ooreengekome kontrakprys. “Ons gaan nie ryk word daaruit nie, maar ons weet wat ons gaan kry en ons hou daarvan om ons somme vooruit te kan maak. Vaalwater is tans vir ons ’n groot leerskool en ons kan baie leer by die lank gevestigde en groot, suksesvolle boere in die omgewing.”

Gesonde gewasse

Aalwurm is ’n groot probleem in Vaalwater se sandgrond. By alle gewasse moet koste mooi dopgehou word, want die aalwurmmiddels op die mark is duur. Hulle doen dus alles in hul vermoë om dit onder druk te hou en oorweeg om in die toekoms na biologiese bekampingsmaatreëls te kyk.

Om suksesvol suikermielies vir die Rhodes-­kosgroep te kweek word elke mieliekop ondersoek om seker te maak daar is geen kommandowurmbesmetting nie.

Voorlopig benut hulle hawer en ander toelaatbare middels wat aalwurm onderdruk, al is dit nie spesifiek middels om aalwurms te bekamp nie. ’n Ewe groot prolbeem is die bestryding van herfskommandowurm by suikermielies. Die fabriek van Rhodes Food Group vir wie Overvlakte suikermielies plant, keur ’n hele vrag af as daar een lewende wurm op ’n enkele mieliekop gekry word.

Die suksesse wat behaal is met die bestryding van herfskommandowurm is danksy die regte groepe chemiese middels wat op die regte tyd in die herfskommandowurm se lewensiklus toegedien is. Dit is in noue samewerking met Wenkem SA se verteenwoordigers gedoen. Deeglike en tydige verkenning is deurslaggewend.

’n Bepaalde groep chemiese middels word ook nie meer as twee keer per aanplanting gebruik nie om weerstand te voorkom. So bly Overvlakte ook binne die onthoudingsperiodes van die verskillende groepe chemiese middels.

“Ons hoofvereiste aan die verskaffers van ons chemikalieë is dat dit met veiligheid op voedselprodukte gebruik kan word. Ons gebruik Laeveld Agrochem, Nulandis en Wenkem se produkte,” sê Johan. Die finale gehaltebeheer is egter in mensehande en dít is waar goeie bestuur saam met arbeidsverhoudinge vir Overvlakte die deurslag gee.

Die suikermielies word met die hand geoes; elke kop word oopgemaak en die plukker maak seker daar is nie wurmskade of – nog erger – ’n lewende wurm op die mieliekop nie. As die puntjie van die mieliekop beskadig is, word dit afgebreek en die mielie word weer toegevou in sy blare, want dit is hoe die fabriek dit wil hê.

Dié noukeurige oespraktyk kos wel meer, maar só voorkom die boerdery dat ’n vrag afgekeur word. Tussen die twee plase word daar sowat 60 ha suikermielies verbou. Vroeë someraanplantings word in Vaalwater en winteraanplantings in die Weipe-omgewing gedoen. Someraanplantings se groeityd van plant- tot oestyd is 80 dae en winteraanplantings van plant- tot oestyd is 110 dae.

Overvlakte gebruik uitsluitlik plaaslike werkers vir tydelike werk om armoede te help verlig.

goeie Arbeidsverhoudinge

Johan en Pieter het van die begin af besef hulle gaan ’n heel ander benadering tot arbeid op Vaalwater moet volg as waaraan hulle op Weipe gewoond is. Vaalwater se plaaslike bevolking is groot en armoede en werkloosheid is ’n probleem. Overvlakte het besef dit is belangrik om plaaslike mense te gebruik.

“Ons ideaal is om uiteindelik ’n eksklusiewe groep mense te hê wat op bystand is as ons tydelike werksmag. ’n Mens werk altyd makliker met mense wat jy ken en wat reeds opgelei is. “Ons wil op lang termyn hier bly en ons glo en droom om in die toekoms verder uit te brei. Ons wil dus die mense wat hier saam met ons werk, ook saam met ons laat groei en vooruitgaan,” sê dié twee boere.

Die Waterberg Farmstay-vakansieoord was reeds op die plaas toe Pieter en Johan dit gekoop het. Sedert hul oorname bars dit behoorlik uit sy nate.

Die regte bestuurders

Die feit dat kontantgewasse, soos suikermielies en tamaties, so arbeidintensief is, het Pieter en Johan laat besef hulle sal ’n heeltydse bestuurder op die plaas moet aanstel. Daar was ook die kwessie van ’n vakansieoord wat reeds op die grond gevestig was. Die twee vennote moes besluit of hulle hul nou ook in die toerismebedryf gaan begewe.

Pieter se suster, Sulene, en haar man, Jaco, was nog altyd deel van die Overvlakte-boerdery. Jaco is die boerdery se kundige in die meganiese veld en dit was dus ’n moeilike besluit om hom en Sulene na Vaalwater te laat verhuis. Jaco het egter kans gesien om sy horison te verbreed en meer by die akkerbou-deel van die boerdery betrokke te raak en Sulene het kans gesien om die vakansieoord te bestuur.

Die vakansieoord het nogal ’n kopskuif geverg, sê Johan. “Ons dink aan onsself as boere. Ons het nie regtig geweet of ons kans sien vir die oord nie, maar die plek en die natuur is so mooi – ’n mens gun dit graag vir ander mense.”

Hulle het besluit om deur te druk met die oord onder die voorwaarde aan mekaar dat die boerdery altyd eerste kom. Jaco se eerste suikermielie-oes het meer as 18 ton/ha opgelewer en die pekanneutbome hou baie belofte in. Dit is dus ’n logiese besluit dat Overvlakte sal aanhou om met kontantgewasse op Vaalwater te boer en aan te hou proewe doen, selfs nadat die eerste pekanneute in 2027 hul volle produksievlakke bereik.

LBW vra . . .

die Overvlakte-boere in hul Weipe-katoenlande. Van links is mnr. Pieter en me. Eleen Esterhuyse en me. Marzanne en mnr. Johan Pretorius.

Mnre. Pieter Esterhuyse en Johan Pretorius

HOE BEWAAR JULLE DIE VREDE TUSSEN MEKAAR?

Daar bestaan nie iets soos ’n rooskleurige, konflikvrye familieboerdery nie. Ons het geen resep nie — ons probeer mekaar respekteer en sorg dat ons goeie en slegte eienskappe mekaar aanvul. Ons het lankal reeds besef dat ons saam sterker is as op ons eie. Kommunikasie en regverdigheid onder mekaar bly baie belangrik. Bewaar die vrede sover moontlik.

WAT WAS JUL BESTE BESLUIT?

Om ’n kans te waag en te diversifiseer. Dit was ook ’n goeie besluit om kundiges van die PSG-groep by ons besigheid in te sluit wat ons kon bystaan met finansiële besluite en leiding.

WAT IS DIE BESTE RAAD WAT JULLE NóG GEKRY HET?

My pa het altyd gesê — “maak tyd om in jou bakkie te klim en na ander boere toe te ry en by hulle te leer — leer hoe om dit in jou eie boerdery toe te pas. ’n Mens leer niks deur net op jou eie plaas te sit en jou eie ding te doen nie.” Die heel belangrikste: Jou voetspore moet in jou lande wees.

WAT IS DIE GROOTSTE BOERDERYFOUT WAT JULLE GEMAAK HET?

Om alles self te probeer doen en te stagneer. ’n Mens raak só besig dat jy baie geleenthede mis.

WAT IS JUL GROOTSTE PROBLEME?

Om nie pessimisties te raak oor die politiek in Suid-Afrika nie. Dit keer ’n mens om uit te brei en te vorder. Nog probleme is die goeie bestuur van water en arbeid.

WATTER TEGNOLOGIE IS ONMISBAAR?

Ons Aweta-gradeermasjien het nuwe deure vir ons oopgemaak en is onmisbaar in ons sitrusafdeling.

Navrae: Overvlakte Boerdery, e-pos: wpesterhuyse@limpopo.co.za