Meer as 700 miljoen ton koring word jaarliks wêreldwyd gelewer, maar koringsiektes vreet ’n geraamde 10% van die oeste weg. Dit is gelykstaande aan ’n geskatte ekonomiese verlies van R13 miljard. Inligting oor verliese weens koringsiektes is egter slegs raaiskattings, want dit is moeilik om die presiese ekonomiese skade en die werklike risiko wat dit meebring, te bereken.

Verskeie faktore bepaal koringopbrengs en verliese in ’n stelsel kan nie slegs aan een siekte toegeskryf word nie. Tog is ’n beraming van die risiko van verlies weens siektes noodsaaklik vir die kostedoeltreffende beplanning van gewasbeskermingsinsette.

Die beste manier om die moontlike risiko te benader, is om bewus te wees van die faktore wat die voorkoms en felheid van koringsiektes beïnvloed. Kennis daaroor sal ’n realistiese benadering tot die soort ingryping en gepaardgaande uitgawes meebring. 

Klimaat en omgewingstoestande

Vog en temperatuur is die vernaamste aandrywers van plantbesmetting. Die groei, oorlewing en voortplanting van siekteveroorsakende swamme is gekoppel aan die aantal dae met neerslag, die aantal uur wat blare nat bly, en ’n vogtige mikroklimaat binne-in die koringland.

Matig tot warm temperature versnel die tempo waarteen swamme groei en bevorder sodoende die besmettingsprosesse. Die risiko van plantbesmetting is daarom groter wanneer die klimaat gunstig is vir swamme om te floreer.

In omgewingstoestande wat die behoud van vog bevorder, byvoorbeeld in laagliggende koringlande, is die risiko van die voorkoms en verspreiding van siektes ook hoër. Party koringverbouingstelsels val geografies binne gebiede met ’n gunstige klimaat vir siektebesmetting en uit die staanspoor is die risiko van koringsiektes daar groter. 

Só oorleef en versprei siekteveroorsakende swamme

Die swamme wat siektes veroorsaak, oorleef in die buiteseisoen op grond, wortels, saad, stoppels, opslagkoring en onkruide. Verskeie verspreidingsmeganismes wat uniek is aan elke siekte, dra by tot die spoed waarteen siektes binne koringlande en streke kan versprei. 

Saad

Siektes wat op saad gedra word, veral weens hul nabyheid aan die gasheer, versprei geredelik na gebiede wat nie voorheen besmet was nie. Besmette saad verhoog ook die moontlikheid van vroeë siekte-epidemies by saailinge. 

Grond en wortels

Koringsiektes oorleef ook in die grond en op die wortels van koring en ander grasgashere. Hierdie siektes word tydens besmetting geografies beperk tot die gebied waar die probleem ontstaan het. Weens hul habitat is dit moeilik om daarvan ontslae te raak. 

Stoppels

Party swamme oorleef op dooie materiaal en koringstoppels is ’n oorlewingsbron vir dié soort siekteveroorsakende swamme. In ’n nuwe seisoen groei die swamme langs koringsaailinge en besmetting sal plaasvind sodra omstandighede gunstig is.

Dit is ook moontlik vir die spore van die swamme om vanuit die stoppels oor honderde kilometers deur wind en reën versprei te word. Daarom is die teenwoordigheid van stoppelgedraagde siektes nie noodwendig beperk tot die lande waar koringstoppels teenwoordig is nie, maar dit is streeksgebonde. 

Opslagkoring en onkruide

Party koringsiektes vereis ’n lewende gasheer vir oorlewing. Sulke siektes oorleef hoofsaaklik op opslagkoring en grasonkruide. Alle opslagkoring en onkruide kan nie bekamp word nie. Daar is dus nie ’n manier om die inokulum (of die beskikbare hoeveelheid lewende spore wat plante kan besmet) uit te wis nie. Hierdie siektes se voorkoms is ook streeksgebonde. 

Gasheer se vatbaarheid

Alle koringplante is nie ewe gevoelig vir siektes nie. Party plante het ’n inherente genetiese weerstand teen een of meer siektes. Dit beteken die plante sal nie siek word nie selfs as die siekteveroorsakende swam teenwoordig en die klimaat gunstig is, omdat dit die vermoë het om die siekte teen te staan. Daarteenoor word vatbare plante maklik siek.

Dié plante bevat nie weerstandsgene nie. Die enigste manier om sulke plante teen siektes te beskerm, is deur die aanwending van swamdoders. 

Verbouingspraktyk

Aangesien oesreste ’n belangrike bron van oorlewing vir swamme is, word die oorlewing van swamme wat op dooie materiaal oorleef, bevorder deur minimum- en geenbewerkingspraktyke. Met konvensionele bewerking, waar oesreste in die grond ingeploeg word, oorleef dié swamme swakker en is die risiko van siektebesmetting laer. 

Wisselbou

As wisselbou nie toegepas word nie en koring in monokultuur verbou word, sal die risiko van siektebesmetting weens die nabygeleë siekte-inokulum in die stoppels, grond en wortels hoër wees as in verbouingstelsels waar wisselbou toegepas word. 

Faktore wat besmetting bepaal 

Spesifieke blare, veral die vlagblaar en eerste blaar onder die vlagblaar, bepaal die produksievermoë van die koringplant. Die felheid waarteen hierdie blare afsterf en die meegaande verlies van groen blaaroppervlak is baie sterk gekorreleer aan opbrengsverlies.

Verder is daar ’n sterk verwantskap tussen die aanvanklike tydstip van besmetting en opbrengsverlies in die seisoen. Hoe vroeër in die groeityd plante met siektes besmet word, hoe langer is die tydperk wat hulle daaraan blootgestel sal wees.

As die eerste besmetting van plante eers ná graanvul plaasvind, sal die invloed op die opbrengs en gehalte baie kleiner wees as besmettings wat voor die ontwikkeling van die vlagblaar posgevat het. Koringsiektes kan die plante eenmalig besmet, soos dikwels die geval met wortel- en grondgedraagde siektes is, of dit kan meermalig besmet.

Eenmalige besmetting is waar die swam met een geleentheid die plant besmet en geen verdere besmetting daarna plaasvind nie. Met meermalige besmettings groei die swam aktief op die plantweefsel en nuwe generasies van die swam ontstaan op die plante. Sulke swambesmettings groei eksponensieel.

Spore wat op die plant geproduseer word, versprei van een blaar na ’n ander, na omliggende plante en ook na nabygeleë koringlande. Dit is hoekom epidemies in ’n kort tydperk in gunstige toestande kan ontstaan.

As sulke swambesmettings nie tydig met swamdoder bekamp word nie, is daar weens die gevorderde verlies aan groen blaarmassa geen salf aan te smeer nie. Deur die bogenoemde faktore in ag te neem kan die moontlike risiko weens koringsiektes beter geraaiskat word. Dan kan beplan word om die ekonomiese skade sover moontlik te beperk. 

Strategiese besluite wat ekonomiese skade beïnvloed 

Strategiese produksiebesluite beïnvloed ook die siektedruk, die mate waarin die risiko bestuur moet word en die meegaande potensiële verliese wat ervaar kan word. Die oordeelkundige oorweging van die volgende aspekte in die verbouingstelsel kan ’n aansienlike verskil maak in die ekonomiese skade weens gewassiektes. 

Kultivarkeuse

Kultivars met ’n mate van bestandheid teen siektes vereis minder siektebestuursinsette, terwyl kultivars wat vatbaar vir siektes is, met swamdoder beskerm moet word. Waar swamdoders nie beskikbaar is vir die beskerming van vatbare kultivars nie, is die ekonomiese verliese aansienlik meer as by bestande kultivars.

Die kultivarkeuse het daarom ’n beduidende invloed op moontlike ekonomiese verliese. 

Saadbehandeling 

Koringsaad word behandel met swamdoders om die voorkoms van saadgedraagde siektes in te perk en jong saailinge teen vroeë besmetting te beskerm. As saad nie met swamdoders behandel word nie, veral as vatbare saad geplant word in omgewingstoestande wat gunstig is vir siektes, is dit van die staanspoor af waarskynlik dat siektes ’n kwessie kan wees.

Verbouingspraktyke

Praktyke, soos die oormatige toediening van stikstofmisstof, wat welige plantegroei tot gevolg het, skep ’n mikroklimaat in die koringland wat gunstig is vir swambesmetting. Bemesting kan die vergroening van plante aanmoedig, maar die welige vegetatiewe groei kan verkeerd geïnterpreteer word as slegs ’n hupstoot vir opbrengs en nie as die oorsaak van probleme met siektes nie.

Koste teenoor voordeel

Die opbrengspotensiaal van die gewas – die plant se genetiese potensiaal en die potensiaal van die omgewing – moet in ag geneem word voordat koste vir plantbeskerming aangegaan word. Die koste moenie die voordeel van die beskerming oorskry nie.

Die berekeninge sal verskil na gelang van die werklike moontlike produksievermoë van die plant en of die koring geoormerk is vir dierevoer of vir verbruik deur mense. Koring wat onder besproeiing verbou word, het ’n hoër opbrengspotensiaal as droëlandkoring en die meermalige toedienings van swamdoder word geregverdig omdat die moontlike inkomste waarskynlik die uitgawes sal oorskry.

Die koste van swamdoders en die toediening daarvan moet akkuraat bereken word. Die inkomste van die verwagte oes, met inagneming van die wisselvalligheid in die mark en koringpryse, moet die insetkoste verbonde aan plantbeskerming kan dra.

Die verlies aan opbrengs en gehalte by koringplante hou regstreeks verband met die verlies aan groenblaarmassa wat verantwoordelik is vir fotosintese (die proses waardeur sonligenergie deur plante vasgevang en in koolhidrate omgeskakel word).

Swamdoders word daarom spesifiek toegedien om groenblaarmassa te beskerm. As daar reeds aansienlike skade aan die vlagblare is en weinig groenblaarmassa oorbly, kan die plante nie daarvan herstel nie. Dan kan die toediening van swamdoders geen bydrae lewer tot die beskerming van die oes nie.

Grondige begrip van letsels

Dis belangrik om te onderskei tussen die letsels wat siek plante vertoon, en hoe dit met skade verband hou. Letsels is visuele tekens of simptome wat deur ’n siektetoestand veroorsaak word, maar dit veroorsaak nie noodwendig ekonomiese skade nie. Ekonomiese skade is die verlies aan gehalte en opbrengs van die koring.

Siekteletsels moet gekwantifiseer word en insig oor die moontlikheid dat die letsels op die blare versprei, is belangrik vir sinvolle ingryping. Gestel die letsels was windskade, maar visueel word dit met ’n swamsiekte verwar. Dan is die aanwending van swamdoder onnodig en lei dit tot ekonomiese verlies.

Die aard van die letsel en die waarskynlikheid dat dit gaan vererger of skade en verlies gaan veroorsaak, moet begryp word sodat die besluite oor gewasbeskerming sin maak. Dr. Ida Wilson is ’n plantpatoloog en konsultant.

Bron: Savary, S., Ficke, A., Aubertot, J.N. and Hollier, C. 2012. “Crop losses due to diseases and their implications for global food production losses and food security.” Food Security, pp.1-19

Koringsiektes van ekonomiese belang in Suid-Afrika

Stamroes of swartroes

Stamroes of swartroes

Wetenskaplike naam:

Puccinia graminis f.sp. tritici

Simptome:

Rooibruin, langwerpige tot diamantvormige roespuisies wat op stamme, blare en are van koringplante verskyn

Oorlewing in buiteseisoen:

Lewende grasgashere

Besmetting:

Meermalig

Blaarroes of bruinroes

Blaarroes of bruinroes

Wetenskaplike naam:

Puccinia triticina

Simptome:

Oranje tot bruin ovaalvorminge puisies wat lukraak op die blaaroppervlakke voorkom

Oorlewing in buiteseisoen:

Lewende grasgashere

Besmetting:

Meermalig

Streeproes of geelroes

Streeproes of geelroes

Wetenskaplike naam:

Puccinia striiformis f.sp. tritici

Simptome:

Geel puisies wat in ’n streeppatroon op blare vorm en wat ook op die kaffies, blaarskede en stamme kan verskyn

Oorlewing in buiteseisoen:

Lewende grasgashere

Besmetting: Meermalig

Blaarvlekke of vaalblaar

Blaarvlekke of vaalblaar

Wetenskaplike naam:

Zymoseptoria tritici; Phaeosphaeria nodorum (foto)

Simptome:

Twee verskillende swamme veroorsaak dooie vlekke op blare. Namate die siekte vorder, versmelt hierdie dooie vlekke in groter, langwerpige vlekke. Met Zymoseptoria tritici word swart vrugliggame, wat soos peper lyk, in die bruin vlekke geproduseer, maar dit is afwesig by Phaeosphaeria nodorum

Oorlewing in buiteseisoen

: Dooie grasgasheer

Besmetting:

Meermalig

Witroes of poeieragtige meeldou

Witroes of poeieragtige meeldou

Wetenskaplike naam:

Blumeria graminis f.sp. tritici

Simptome:

Wit donsige swamgroei, wat op die blare, stamme en are van die plant voorkom

Oorlewing in buiteseisoen:

Dooie grasgasheer

Besmetting:

Meermalig

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.