Dit is veral in Brittanje, Duitsland, België, Nederland, Swede, Pole, Belo-Rusland en Litaue waar die droogte voorkom – en steeds vererger. Baie warm en winderige toestande kom voor, wat veral graanoeste beskadig en veldbrande veroorsaak. Duitsland, grootste koringprodusent in Europa naas Frankryk, se koringoes het met meer as 15% gedaal vergeleke met verlede jaar.

Namate die oesproses vorder en meer inligting bekend word, kan dié syfer verder daal, sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou. Die gehalte van die koring is egter volgens alle aanduidings redelik goed. Elders in Europa kom gunstiger toestande voor, soos in dele van Frankryk, Griekeland en Italië. In Junie het goeie reën oor Bosnië, Roemenië, Hongarye en ander aangrensende lande geval.

VOORUITSIGTE

Vooruitsigte op kort termyn vir reënval in die noorde en noordoostelike deel van Europa het begin verbeter, hoewel toestande in die sentrale en suidoostelike deel – wat lande soos Duitsland en Frankryk insluit – ongunstig vir ten minste die eerste helfte van Augustus kan wees. “Dit kan ook die somergewasse, wat tans in die belangrike ontwikkelingstadium is, benadeel,” sê Van den Berg.

Mnr. Luan van der Walt, ekonoom by Graan SA, sê die droë toestande het koringpryse goed ondersteun. Die Duitse koringpryse het die afgelope maand met ongeveer 18% gestyg. Die Russiese prys is egter steeds aansienlik laer as die Duitse prys. Die laaste koringinvoer deur Suid-Afrika was meestal vanaf Rusland. “Die sterker internasionale prys ondersteun wel die plaaslike prys aangesien dit die pariteitsprys ondersteun,” sê hy. Suid Afrika voer gemiddeld tot 60% van sy jaarlikse verbruik in.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.