Dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en bemarking by Graan SA, het by navraag gereageer op kleiner meulenaars se klagtes dat hulle nie genoeg eerstegraadse mielies vir mieliemeel kan bekom nie. “Daar is wel gehalte-probleme op sekere plekke. Baie van die beste gehalte mielies is op spesifieke plekke gekonsentreer en alle verwerkers kan nie noodwendig hul hande daarop lê nie.”

Hy sê die voorrade is voldoende, hoewel die gehalte nie altyd so goed is as wat dit kan wees nie. “Daar is egter geen risiko vir Suid-Afrika se voedselsekerheidstatus nie. Die gehalte kan ongemaklikhede veroorsaak tot einde Mei, maar sodra die nuwe oes inkom, sal dit weer normale siklusse volg.”

Mnr. Pieter Malan, uitvoerende bestuurder van Grainlink Senwes, het aan Beeld gesê daar is ’n opeenhoping van eerstegraadse mielies by enkele silo’s en dit bring vertragings mee wanneer kopers laai. Hy bevestig ook dat daar baie tweede- en derdegraadse mielies beskikbaar is, maar die meulenaars sê dit is nie lonend om tweedegraadse mielies te maal nie omdat die hoeveelheid afval te veel word.

16 miljoen ton

Intussen het die Amerikaanse departement van landbou pas Suid-Afrika se mielie-oes vir 2019-’20 op 16 miljoen ton geraam – 36% meer as die vorige seisoen.

Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, beklemtoon egter dat die Amerikaanse raming kommersiële én nie-kommersiële produksie insluit. Daarom is dit nie vergelykbaar met die Suid-Afrikaanse Nasionale Oesskattingskomitee se raming van 14,8 miljoen ton (net kommersiële produksie) verlede maand nie.

Sihlobo wys daarop dat, indien dit realiseer, dit die grootste mielie-oes naas die rekordoes van 16,8 miljoen ton in 2016-’17 sal wees. Dit sal ook beteken dat Suid-Afrika ’n netto uitvoerder in die 2020-’21-seisoen, wat aanstaande maand begin, sal bly.

“ ’n Oes van 16 miljoen ton sal Suid-Afrika in staat stel om ook wyer as Afrika na tipiese ander markte soos Japan, Taiwan, Viëtnam en Suid-Korea te kan uitvoer, mits die Covid-19 pandemie nie uitvoer ontwrig nie.”