Dit was die boodskap van dr. Dirk Strydom, hoof van ekonomie en bemarking by Graan SA, op die organisasie se streekvergaderings op Riversdal, Rietpoel en Moorreesburg. Dit sal gebeur as plaaslike pryse van landbouchemiese middels dié van Chinese markte s’n gaan navolg.

Die prys van die sistemiese insekdoder met die aktiewe bestanddeel imidaklopried, het byvoorbeeld oor die loop van ’n jaar in China verdubbel, terwyl ’n styging van 86% by deltametrien verwag word. Die prys van die onkruiddoders glifosaat en atrasien het in China onderskeidelik met 29% en 41% gestyg.

Strydom sê hul navorsing toon dat kunsmispryse ook gaan styg, maar wel nie in dieselfde mate as dié van ander landbouchemiese produksiemiddele nie. Volgens hom is Suid-Afrika se kunsmis op twee na die duurste ter wêreld.

‘Die mense gaan sê daar is nie meer ou voorraad nie, maar plaas druk op hulle. Daar ís ou voorraad.’

DRING AAN

“Chemiese bestuur gaan vanjaar uiters belangrik wees. Koop so gou en so vroeg moontlik ou voorraad. Die mense gaan sê daar is nie meer ou voorraad nie, maar plaas druk op hulle. Daar ís ou voorraad,” sê Strydom. Die rede vir die groot prysstygings is strenger omgewingsregulasies vir landbouchemiese produkte in China, waar baie van die middels vervaardig word.

Graan SA sê die organisasie kan nie veel daaraan doen nie. Die pryse van produkte uit Europa styg nie so erg nie. Plaaslike boere sal aan die kostekant aanpassings moet maak omdat hulle nie van die koringprys se kant verligting kan verwag nie. Strydom sê die wêreld se koringvoorraad is die grootste tot nog toe, wat nie goed is vir die koringprys nie.

Boonop is die wisselkoers besig om te versterk. Daar is darem een ligpunt. Al het die internasionale olieprys gestyg, help die sterker rand dat brandstofpryse reeds in Februarie laer is.

Boere kan klein stygings in saadpryse verwag. Graan SA is optimisties dat die internasionale kommissie vir handelsadministrasie (Itac) die invoertarief op kanolasaad sal afskaf, soos hulle versoek het.