Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer, Agbiz, sê die Wes-Kaap, waar meer as twee derdes van die land se wintergewasse, soos koring, kanola, hawe en gars, verbou word, het goeie reën sedert die begin van Mei ontvang. “Die koue weer van die afgelope weke het ook gunstige toestande vir die gewasse geskep.”

Hy sê boere se voornemens was om koringaanplantings met ’n persentasiepunt tot 512 000 ha op te stoot, kanola met 28% tot 95 000 ha en hawer met 32% tot 34 500 ha. “Vir koring sal dit rofweg in pas wees met die tienjaar-gemiddelde, vir kanola sal dit die grootste aanplanting in agt jaar wees en vir hawer sal dit die meeste nóg wees. Dit is net by gars waar die verwagte aanplantings met 33% tot 95 000 ha sal afneem, hoofsaaklik weens ’n kleiner vraag wat aan die alkoholverbod toegeskryf kan word.”

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van Graan SA, sê hy het die afgelope tyd met baie boere in die Wes-Kaap gepraat wat sê die oeste lyk goed, maar dit is baie nat en niemand kan in die lande inkom nie. “Almal gooi net reënmeters uit en oor die algemeen lyk dit baie goed. Ons moet net hoop die siektes bly weg, maar dinge lyk sover goed vir die seisoen.”

Daar was aan die begin van die seisoen ook verspoelings in dele by onder meer Swellendam en Riviersonderend waar aanplantings laat was, maar oor die algemeen lyk die produksietoestande belowend.

Sihlobo sê die afgelope seisoen se oeste was reeds merkwaardig, met koring wat teen 2,1 miljoen ton die grootste oes in bykans twee dekades was, kanola met ’n rekordoes van 165 200 ton en hawer ook met ’n rekordoes van 57 000 ton. Suid-Afrika sal egter ’n netto invoerder van koring bly al is vanjaar se oes ook groter. Vir die 2020-’21-bemarkingsjaar word die invoer op 1,6 miljoen ton geraam.

Volgens Sihlobo lyk dit of weerstoestande goed sal bly vir die res van die seisoen. Teen einde Junie het die Suid-Afrikaanse Weerdiens meestal bo-normale reënval vir die laaste deel van die seisoen (Julie, Augustus en September) voorspel, behalwe vir die suidelike kusgebiede waar minder as die normale reënval verwag word. Die goeie reën tot dusver het ook damvlakke ’n hupstoot gegee. In die week van 19 Julie was die Wes-Kaapse damme gemiddeld 74.1% vol teenoor 60,7% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) sal op 28 Julie sy voorlopige oppervlakteskattings van die wintergewasse gee, maar die verwagting is dat dit nie noemenswaardig van die plantvoornemens sal verskil nie. Die eerste oesskatting vir wintergewasse sal ’n maand later (op 26 Augustus) volg.