Schoeman, ’n hoofbestuurslid van Graan SA, sê daar het vir die seisoen byna 100 mm reën minder geval in die omgewing van Delmas waar hy boer.

Hy het ’n opname gemaak van reënmeterlesings vanaf Springs tot by Ogies aan die oostekant, en van Delmas af suid tot by Devon. Die gemiddelde reënval vir dié gebied vir die seisoen was 342 mm teenoor die langtermyngemiddelde van 471 mm. Van een lesingspunt tot die volgende is daar natuurlik heelwat variasie, sê Schoeman.

Teen druktyd was dit besig om in dié streek te reën, maar Schoeman sê droë, warm toestande in Januarie het reeds skade aangerig. Hy skat dat sowat 10% van die mielie- en sojaboonaanplantings in dié gebied beskadig is.

Op die Springbokvlakte sê mnr. Willem Groothof, ’n dagbestuurslid van Graan SA, was dit tot twee weke gelede nog baie droog. Die seisoen se reënval was swakker as die langtermyngemiddelde. “Party sonneblomplante van skaars 400 mm hoog het reeds koppe gemaak. As die reën nog twee weke weggebly het, was dit vir daardie boere ’n totale misoes.”

Dit het egter die afgelope twee weke van 100 mm tot 250 mm op die Vlakte gereën. “Sowat 200 mm gee die totaal vir die seisoen nogal ’n goeie hupstoot en ons is op die meeste plekke nou bokant die langtermyngemiddelde.”

Anders as op Mpumalanga se Hoëveld is daar vir die boere op die Springbokvlakte nog ’n geleentheid om somergraan te plant. Groothof sê boere kan nog sonneblom plant en baie boere in dié gebied het ook aangedui dat hulle herfskoring gaan plant.

Oor die droogteknou wat gewasse in dele van Mpumalanga gely het, sê Schoeman, dis boerdery. “Boere moet aanvaar die natuur is nie elke jaar dieselfde nie. Ons bestuur die risiko en maak ons berekeninge op lang termyn. As mens dit reg doen, is boerdery steeds lonend, moeilike jare en al.”