Mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, het onlangs by Modimolle in Limpopo op die laaste van 36 landwye streekvergaderings vertel hoe nou dringend na nuwe markte vir Suid-Afrikaanse graan gesoek word.

Hy het gesê in die 1980’s het Suid-Afrikaanse boere nagenoeg 4 miljoen ha mielies aangeplant teenoor omtrent 2,2 miljoen ha vanjaar. “Ons boer egter al hoe beter en ons verbruik groei stadiger as wat ons opbrengs groei. Ons gaan onsself dood produseer.”

Daarom het Graan SA die afgelope jaar hard gewerk om uitvoermarkte vir graan te ontwikkel en dit het reeds vrugte begin afwerp. “Iran het reeds mielies van ons af ingevoer en Viëtnam, wat nie tradisioneel ’n koper van ons mielies is nie, was die afgelope jaar ons grootste koper van geelmielies. Ons is baie ver in die onderhandelingsproses met China om mielies en sojabone soontoe uit te voer. Ons het ook twee skeepsvragte witmielies na Spanje uitgevoer en dit het ons baie gehelp.”

Minnaar sê wat sojabone betref, het Suid-Afrika se produksie ontplof. Hoewel maatskappye soos VKB groot aanlegte opgerig het om sojabone te verwerk, is daar nie genoeg vraag na Suid-Afrikaanse produkte by eindverbruikers nie. Baie sojaboon-oliekoek word steeds ingevoer.

“Ons het dus gaan huiswerk doen om te kyk hoe ons kopers kan oortuig om plaaslik aan te koop. Ons het hulle gevra waarna moet ons kyk en wat moet ons verander ten opsigte van die gehalte van oliekoek en van ons sojabone self. Dit lyk of ons regkom en van die grootste aankopers sal waarskynlik binnekort begin om plaaslike oliekoek te gebruik.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.