Die voorraad kan teen einde volgende jaar al by meer as 600 000 ton trek, maar daar is ook lig in die tonnel omdat groot verbruikers meer na plaaslike produkte wil oorskakel.

Mnr. Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA, sê die groot surplus het ’n nadelige invloed op produsentepryse. “Ons is baie bekommerd. Boere het gunstig gereageer op versoeke om meer sojabone aan te plant en die parsvermoë is geskep, maar die vraag is nie daar nie. Dít terwyl 460 000 ton oliekoek na verwagting steeds vanjaar ingevoer sal word.”

Mnr. Gerhard Scholtemeijer, voorsitter van die oliesade-advieskomitee en die Sojaboonforum, sê hy glo dit is deel van die groeifase in die sojaboonbedryf en dat die situasie sal verander. “Ek glo Suid-Afrika sal weer ’n uitvoerder van sojabone word. Onthou, ’n paar jaar gelede het ons ’n tekort aan sojabone gehad en toe was daar kritiek omdat sojabone uitgevoer is. In ’n vrye mark kan die situasie maklik verander.”

Astral, Suid-Afrika se grootste pluimveeprodusent, is een van die grootste verbruikers van oliekoek en voer steeds ’n deel daarvan uit Argentinië in. Mnr. Andy Crocker, besturende direkteur van Astral se handelsafdeling en ook voormalige besturende direkteur van Meadow Feeds, sê die maatskappy is gretig om soveel as moontlik plaaslike soja in voerrantsoene te gebruik, maar kan ook nie oor sy hoë gehaltestandaarde toegee nie, selfs al is die ingevoerde produk duurder.

Voortdurende gesprekke met plaaslike olieparsers

“Meadow is deurlopend in gesprek met plaaslike olieparsers om aan ons spesifieke gehaltestandaarde te voldoen. Hoewel vordering gemaak word, kon die plaaslike produk nog nie in ons pluimveerantsoene gebruik word sonder om die prestasie van die hoenders te benadeel nie. Proewe word gereeld gedoen om die vordering te monitor. Ons is ook in gesprek met plaaslike parsers om alternatiewe sojaprodukte (soos meganies geparste oliekoek) op ’n groter skaal vir ons te vervaardig.”

Hy sê Meadow gebruik sowat 20 000 ton sojaverwante produkte per maand, waarvan 8 500 ton van plaaslike bone vervaardig word. Dit sluit in volvetsoja, meganies geparste oliekoek en plaaslike oliekoek vir herkouervoere. “Die oorblywende 11 500 ton kom van Argentinië af. Daarvan word 5 000 ton aan ons kusfabrieke (Port Elizabeth en Paarl) toegeken. Dit maak ekonomies sin, aangesien die vervoer van oliekoek van die plaaslike parse na dié gebiede duur is vergeleke met skeepsvrag van Argentinië af.”

Crocker sê Meadow se verhouding met Suid-Amerikaanse boere en verskaffers kom ook ’n lang pad. “Hulle het ons as klante goed behandel, al het ons betreklik min sojaprodukte aangekoop. Groot produsente in Suid-Amerika was selfs bereid om ooreenkomste met ons aan te gaan wat die vereiste gehalte en hoeveelhede gewaarborg het. Ons het nog nie dieselfde in Suid-Afrika ervaar nie – nie met sojabone of met mielies waarvan ons een van die grootste verbruikers is nie.

“Verder meen ons ook dat die invoeropsie oopgehou moet word, spesifiek om ’n alternatief te hê in die geval van plaaslike droogte- en misoesjare.”

Mnr. Wandile Sihlobo, ’n eko­noom van die landbousakekamer Agbiz, glo die invoer van sojabone en -oliekoek sal in die 2018-’19-bemarkingsjaar op ’n jaargrondslag met onderskeidelik met 27% en 17% daal tot 20 000 ton en 458 992 ton. Hy skryf dit veral toe aan ’n groot plaaslike oes en gunstige plaaslike pryse, veral vir verwerkers.

Hou die Landbouweekblad van 11 Mei 2018 dop vir meer inligting oor die situasie.