Van die grootste uitvindings en oplossings in wêreldgeskiedenis is gebore uit die ontevredenheid van gewone mense met die ontoereikendheid van bestaande stelsels.

Met die ontstaan van TonnUp was dit ook geen uitsondering nie, sê mnr. Stephen Krüger, een van die direkteure van die nuutgestigte verhandelingsplatform wat boere wil help om groter wins vir hul produkte te bewerkstellig.

Mnr. Stephen Krüger

“Daar was ’n ontevredenheid met die huidige markstelsel se onvolwassenheid en ondeursigtigheid,” het Krüger aan Landbouweekblad gesê.

“Jy kan eintlik maar sê dit was twee boere wat de bliksem in geraak het vir die Johannesburgse Effektebeurs (JSE), tong uitgesteek het daarvoor, en besluit het om hul eie mark te bou.”

Hy is een van die eerste mense wat sal uitwys dat TonnUp nie ’n vendetta teen die JSE of ’n vervanging vir die bestaande mark is nie, maar ’n bykomende bemarkingsopsie vir boere.

“Daar moet ’n alternatiewe opsie vir graanboere wees omdat boere nie die prys vir hul produk kry wat hulle verdien nie. Markinstrumente het te duur geword vir produsente en ’n alternatief het nodig geword.”

Volgens Krüger is TonnUp ’n vermenging van graanverhandelingskundiges se kennis en boere se ondervinding. Saam skep dit ’n platform om vir boere van diens te wees.

“Ons verwag dat die silobedryf oor die volgende vyf jaar tot sy sinne gaan kom en daar ’n toenemende mate van volwassenheid binne kommoditeitsmarkte gaan wees.

“Intussen vul TonnUp die gaping vir boere wat onderhandelingsmag wil uitoefen en uitstekende graan aan kopers wil verskaf wat bereid is om ’n premie daarvoor te betaal.

TonnUp se bemarking en verkryging is goedkoper, en transaksies is korter en nie belaai met bykomende koste nie. Dit is ’n gebruikersvriendelike, toeganklike platform, gemaak om kopers en verkopers op ’n goedkoper grondslag bymekaar te bring.”

Krüger en mnr. Jannes Barnard, ’n medeboer, het aanvanklik na oplossings begin soek.

Daarna is mnre. Brett Riley, ’n kundige in die stigting en oprigting van kommoditeitsbeurse reg oor Afrika en onder meer ’n konsultant by die Wêreldbank, en Dylan Woest, ’n kenner op die gebied van koöperasies en hul werksaamhede, ingetrek en só het TonnUp sy eerste direksie bestaande uit boere en graanhandelskenners gekry.

Mnr. Brett Riley

“Ons het reg oor die wêreld gaan soek na ’n maatskappy wat ons silosertifikate en lisensiëring kon behartig en uiteindelik besluit op Avnir, ’n Nieu-Seelandse maatskappy met ’n uitstekende rekord.

Riley het Avnir voorgestel, aangesien die maatskappy verantwoordelik is vir talle nuwe kommoditeitsbeurse reg oor die vasteland. Avnir het ons ook gehelp om die platform te vestig. Daarna het ons op 7 April vanjaar sake begin doen.”

Van BasisDif tot TonnUp

Krüger tref ’n onderskeid tussen die historiese BasisDif-groep wat op sosiale media ontstaan het en die TonnUp-platform. “BasisDif was die eerste kongresvloer waar enige boer sy mening kon uitspreek.

Dit het die landbou-omgewing soos ’n weerligstraal getref met sy ontstaan in Maart en April verlede jaar. Skielik het almal kennis begin neem, met hoofbestuurders van landboumaatskappye, kopers, silo-eienaars, die JSE en boere wat almal in gesprek was.

“Dit is lekker, want ons het nie op ’n balie geklim en met groot geskal die ontstaan van TonnUp aangekondig nie. Die ongemak en ontevredenheid met die bestaande situasie het net gewag vir die regte klep om gelyk uit te breek en daar kry die gemor op die koöperasiestoep en by die graansilo toe sy uitlaatklep.”

Die idee om ’n onafhanklike platform vir boere te skep, is weer deur die BasisDif-groep bespreek. Daarna het TonnUp begin gestalte kry. “In baie opsigte was dit ’n wa waaraan jy baie styf moes vasklou, anders hardloop hy net weg.

Van waar die direksie en aandeelhouers met mekaar begin praat het tot ons in bedryf gegaan het, het ses maande geduur, maar die klimaat daarvoor is seker 25 jaar oud.”

Krüger benadruk dat TonnUp se motief nie winsgerig is nie. “Ons doen dit vir onsself. Verkopers én kopers kan daarby baat vind, want dit is vir kopers en verwerkers ook; as die hele landbou daarby baat vind, dan het ons in ons doel geslaag.”

Krüger het besluit TonnUp moet as teenvoeter vir die liggingsdifferensiaal dien. “Ons het gegaan om die kontantmark te vestig en ’n teenvoeter te kry vir die differensiaal, maar in ’n termynmark besef ons dat ’n vervoerkomponent noodsaaklik is.”

Met BasisDif het Krüger besef dat daar 1 600 boere verteenwoordig is – iets wat beduidende tonnemaat deur verkopers bied. “Net op die groep het ’n vinnige steekproef gewys dat daar rondom 7 miljoen ton mielies verteenwoordig is.

Koring, sojabone en sonneblomme is nie in berekening gebring nie. Dit was tóé dat ons besef het met hoeveel graan ons potensieel sit en dat TonnUp ’n werklike oplossing kan word.”

Die bemarkingsminimum op die platform is 50 ton, met inkremente van 10 ton. Aanvanklik was dit 100 ton oor alle kommoditeite, maar dit sou nie werkbaar wees vir byvoorbeeld sonneblom nie, en die stigters het dit verminder na 50 ton. Foto: Johan Norval
’n Silo moet ’n spoorwegtoegang hê om op Safex geregistreer te wees. Om deel te wees van die nuwe verhandelingsplatform TonnUp is dit nie ’n voorvereiste nie. Foto: Alani Janeke

Transaksies só gemaklik moontlik

Riley sê tradisionele markte laat slegs transaksies deur ’n makelaar toe. TonnUp werk egter nie só nie. “Indien ’n boer dit verkies, kan hy steeds deur ’n makelaar sy graan bemark, maar dit is nie ’n voorvereiste nie.

Verskillende effektebeurse vereis ook dat jy ’n lid moet wees, of deur ’n lid van die mark moet verhandelings doen. Dit beteken ’n transaksiebedrag moet betaal word.

Dit is iets wat nie deur TonnUp afgedwing word nie. Ons dwing ook nie ’n liggingsdifferensiaal af nie. Dit laat die koper en verkoper toe om vervoerkoste onderling te onderhandel.

“Silo’s moet oor ’n spoorweg-toegang beskik om op Safex te mag registreer. In TonnUp se geval is dit egter nie nodig nie, wat graanverhandeling vergemaklik.

“Ons oudit self die opbergingsgerief, gradeer die graan en reik ’n sertifikaat ter akkreditasie uit. Dieselfde maatskappy wat hierdie diens aan ons verskaf, verskaf ook die inspeksiediens aan die JSE.”

TonnUp laat ’n boer dus toe om kommoditeite te koop of te verkoop gegrond op sy geografiese ligging.

“In die geval van Safex kan ’n mens byvoorbeeld ’n kommoditeit koop en die sertifikaat besit sonder om te weet waar die kommoditeit lê. ’n Mens vind eers ná die transaksie uit waar dit is.

Dit is ook die rede waarom daar soveel herverkooptransaksies op Safex is. Wanneer jy die verkoper en koper toelaat om besluite binne hul invloedsfeer te neem, is hulle in ’n beter posisie om ’n regverdige prys te beding en verhoudings te bou.”

Krüger stem saam en sê dat dit nie tans vir ’n Oos-Vrystaatse boer sin maak om koring te produseer en aan ’n koper in Mpumalanga te verskaf nie vanweë die koste daaraan verbonde.

“As ’n meulenaar egter weet dat graan uit die Vrystaat of Hoopstadgebied beter maal as koring wat in Mpumalanga verbou word, is jy meer gemotiveer om die beste produk te koop, dit volgens geografiese ligging te hanteer en jou koste daarteen te beding.”

Een van die groot knelpunte in graanverhandeling was nog altyd die manier waarop vervoerkoste benader word. Hier sê Krüger dat die vervoerkoste tussen die koper en verkoper onderhandel word.

“ ’n Boer kan dus regstreeks aan die koper lewer, of van ’n bunker af lewer, die graan op sy plaas opberg of selfs ’n koöperasie gebruik.”

Vervoer op ’n kontantkontraktransaksie is dus nie vasgestel nie en is nie rigied nie. Die produsent lewer sy graan en die koper gaan haal dit daar teen ’n ooreengekome prys.

“Ons platform is vloeibaar met ’n unieke silostertifikaatstelsel wat bekostigbaarheid vir die boer in die vooruitsig stel.” In die omgewing waarin boere funksioneer, moet hulle ’n hoë rendement verdien om vooruit te gaan – iets wat nie tans gebeur nie.

Hoeveel kan verhandel word?

Die bemarkingsminimum op die platform is 50 ton met 10 ton inkremente. Krüger sê die aanvanklike minimum was 100 ton vir alle kommoditeite, maar dat boere gemeen het hoewel die minimum werkbaar kan wees vir mielies, en selfs sojabone, sonneblomme nie daarby gaan baat vind nie.

“Dit was weer ’n geval van waar ons na ons boere geluister het en hulle tegemoet gekom het. Die hele TonnUp-platform is per slot van sake in diens van die graanprodusente.” Vir ’n koper is TonnUp ook ’n uitstekende oplossing om tekorte vinnig uit die weg te ruim of om swak beplanning reg te stel, sê Riley.

“Vanuit ’n sakeperspektief verloor ’n meul geld sodra dit stilstaan. Omdat ons streeksbemarking van graan toelaat, help dit meulenaars om vinnig laer voorrade aan te vul of swak beplanning beter te oorkom.

“ ’n Differensiaal wat graan vanuit die Oos-Kaap na Randfontein moet beding, wanneer dit plaaslik gekoop kan word, maak nie sin nie. Indien dit egter binne ’n radius van 100 km gekoop word, maak dit bestuur soveel makliker.

“Voorraadvlakke het ’n impak op markvlakke. Dit is waarom TonnUp se pryse op Safexpryse geskoei word. Jy kan egter nie ’n kommoditeit op TonnUp verhandel tensy dit fisiek bestaan of op toekomskontrak gelewer word nie, juis omdat die transaksies op die nou en hier geskoei word.”

Riley sê die kontantkontrakgrondslag gaan effens hoër wees, aangesien ’n gewaarborgde produk daaragter gaan staan. “TonnUp maak gebruik van sy eie inspekteurs om ondersoek te doen en te verseker dat daar ’n gewaarborgde produk is.

Tradisionele markte maak slegs staat op afgeleide instrumente wat absolute produk verteenwoordig om prys te bepaal, terwyl verhoudings uit die mark gehaal word waar veelvoudige kopers en verkopers betrokke is.

“TonnUp volg egter ’n ander benadering met verhoudings tussen kopers en verkopers. Dit is waarom ons só sterk klem lê op gewaarborgde produkte.

Só werk die lewering aan die koper

Riley sê die fundamentele kwessie met lewering kom in by die pakhuisstrokie of silosertifikaat. “Omdat ons kommoditeite op groot maat in Suid-Afrika opberg, is die teorie dat, indien jy bo inlaai, jy onder kan uitlaai en die strokie verval nie.

TonnUp gaan dié benadering verander omdat die primêre fokus op plaasopberging gerig is. Wanneer die seisoen verander, gaan die boer opbergingsplek benodig wat beteken dat die fisieke voorraad geskuif word en nie vir afgeleide instrument-doeleindes gehou word nie.

“Dit verskil van die JSE, waar verhandelings op ’n belofte plaasvind, met ’n opbergingsbewys deur ’n derde party. ’n Verkoper kan dus sê dat hy 1 000 ton witmielies (klas 1) het om te verkoop en die JSE sal op daardie belofte die kommoditeit verhandel.

Met TonnUp moet daar fisiek graan gelewer word in die transaksie.” Riley beklemtoon dat TonnUp nie ’n mededinger vir die JSE is nie. “Ons bied ’n diens aan verskillende komponente van dieselfde mark.

Die voordeel wat TonnUp wel het, is dat dit danksy sy grootte vinniger kan voldoen aan markbehoeftes en produkte kan ontwikkel, maar dit is steeds nie in ’n mededingende verhouding met die JSE nie.”

Krüger sê ook dat TonnUp se motief nog nooit wins was nie, maar eerder ’n diens aan boere.

Boonop het die platform nog nie een geval gesien van nie-lewering of wanbetaling nie. Hieroor sê Krüger dat TonnUp die transaksie van graanverhandeling na albei kante vir die koper en verkoper organiseer.

“Sedert ons met die transaksies begin het, het nog nie een meulenaar gesê het dat hy nie sy graan gekry het nie en nie een verkoper dat hy nie sy geld gekry het nie.”

Intussen bly TonnUp se verhandelings sterk groei met meer kopers as verkopers op die platform. “Ons het ’n baie groot toetreding van verwerkers en kopers op die platform gesien vanjaar, iets wat deels toe te skryf is aan ’n sterk mielieprys en boere wat ’n bietjie langer hul graan terughou.

Dit is dus ’n goeie beginpunt vir boere wat hul kommoditeite aan ’n gretige kopersmark wil bied,” sê Krüger.

Maar ’n platform gaan verseker nie op koue water en die liefde van sy medewerkers bestaan nie, so hoe gemaak om wins te toon? Krüger sê TonnUp se wins word verdien uit 15 basispunte per transaksie.

Dit beteken die maatskappy se transaksiekoste is nie rigied soos dié van die JSE nie, maar beloop slegs 0,15% van ’n transaksie se waarde. Dus betaal iemand wat minder tonne verhandel minder vir sy transaksie, terwyl jy vir groter transaksies meer gaan betaal.

Krüger sien TonnUp nie net as oplossing vir die verhandeling van graan nie, maar meen dat die platform in die afsienbare toekoms ander kommoditeite ook met sukses sal kan verhandel.

“Ons werk nou met graankommoditeite, maar ons voorsien dat daar binnekort ’n kunsmisplatform ontwikkel sal word om hierdie belangrike produksiemiddel vir boere beter te reguleer. Dan was daar ook belangstelling vanuit die neut- en melkbedryf en moontlik ook minerale.

Die direksie het nie vir homself ’n plafon gestel nie, en ons haak nie vas net by graanmarkte nie, hoewel dit vir ons die begin is.”

Uiteindelik sal tyd leer hoe suksesvol hierdie “Gumtree vir mielies” gaan wees, maar as goed begin half gewin is, het TonnUp ’n rooskleurige toekoms, sê hy.