Al is sy mielievertakking klein, laat mnr. Zirk Scheepers van die plaas Wonderkop by Cradock geen steen onaangeroer in sy strewe na hoër opbrengste nie. Volgens Scheepers het hy middel Januarie ’n nuwe damwal gebou toe ’n swaar bui reën uitgesak het. “Toe ek later by die huis kom, sien ek hier kom moeilikheid . . .”

’n Haelbui het ’n groot deel van die blare in sy mielielande stukkend geslaan. Aangesien dit bestuiwingstyd was, kon die skade aan die blare beteken dat kopvorming nie optimaal sou wees nie omdat die plant se potensiaal om te fotosinteer, laer was. Scheepers sê dit is moeilik om te bepaal hoe sy oes benadeel is, maar sy versekering het vir 10% oesskade uitbetaal.

Hy het ’n middel toegedien om die plante ná die skade te help. Ondanks hierdie teenspoed kon hy steeds ’n uitstekende oes afhaal.

Hoewel Scheepers bekend is vir sy mielies, is skaapboerdery die hoofvertakking.

KAROO-UITMUNTENDHEID

Scheepers het in 2016 ook met die nasionale prys in die Weeg-en-Wen-kompetisie in die besproeiingsafdeling weggestap met ’n wenopbrengs van 20,58 ton/ha (“Karoo-mieliekampioen doen dit weer”, LBW, 9 Desember 2016). Die eerste keer dat hy opslae gemaak het, was egter al in 2015 toe hy met ’n rekordopbrengs van 22,5 ton/ha in die 20-ton-klubkompetisie van Cradock Saad gewen het (“Karoo-mieliekoning stel SA rekord op”, LBW, 2 Oktober 2015).

Scheepers is beskeie oor sy prestasies met sy rekord-oeste, maar sê hy het al baie geleer sedert hy aan die opbrengskompetisies begin deelneem het. “Dit is ’n bevestiging dat ek die regte metodes toepas, maar – en dit is baie belangrik – jy kan altyd by ander mense leer en daar is altyd plek vir verbetering.”

Hy glo hy is besig om die regte resep vir sy plaas, klimaat en omstandighede te ontwikkel vir die verbouing van mielies, sowat 15% van sy inkomste saam met ’n andersins gesonde veeboerdery. Scheepers sê hy het veral geleer om sy grondgesondheid op te bou en op sy mikrobelewe te konsentreer, asook om sy water beter te bestuur.

“Jy moet probeer om soveel moontlik met die natuur saam te werk.” Hy probeer om nie onnodig chemiese middels te gebruik teen plae nie, en hy ervaar daar is meer lewe in die grond en ’n verbetering in humus in die grond sedert hy mielies begin plant het. Volgens Scheepers neem hy aan die kompetisies deel omdat dit vir hom ’n uitdaging bied om sy produksie te verhoog.

Mnr. Zirk Scheepers (regs) saam met mnr. Deon Marais, wat Bactec-produkte bemark, in vanjaar se mielie-aanplantings.

KUNDIGHEID BO

Hy skroom nie om kundiges se hulp in te roep tydens die plantproses en om meer kennis in te win nie. Mnr. Thinus de Lange, ’n landboukundige van Cradock Saad, het hom in vorige jare bygestaan met sy kultivarkeuse en die opstel van die regte kunsmisprogram. “Zirk plant met ’n spesifieke mengsel wat ons vir hom maak, ’n samestelling van 342 kg stikstof, 65 kg fosfor, 106 kg kalium, 3 kg kalsium en 6 kg magnesium per hektaar.”

Die geheim is egter opgesluit in wanneer die kunsmis toegedien word. “Elke boer dien bobemesting verskillend toe – sommiges gee een keer ’n jaar, ’n ander een glad nie.” De Lange verduidelik dat Scheepers sy bemesting in “paaiemente” tydens die plant se lewensiklus toedien.

“Toediening geskied verskeie kere in verskillende hoeveelhede van verskeie produkte. Ons begin byvoorbeeld met produkte wat ammoniumsulfaat bevat, die volgende is ’n produk met stikstof, kalium en swawel, en dan beweeg ons dalk na ’n produk wat kalsium of fosfaat bevat.” De Lange sê hulle volg ’n bobemestingsprogram wat spesifiek uitgewerk is vir die Visriviervallei se behoeftes, en waarin veral stikstof, kalium en swael bygevoeg word.

“Die swael is belangrik vir sinergie tussen die elemente.” Die kunsmis word ook op verskillende maniere toegedien. “Dit word tydens planttyd toegedien. Daarna word die korrels in water opgelos en deur die spilpunt toegedien, aangesien die koste van vloeibare kunsmis tans 30% duurder is.” De Lange maan dat hierdie kunsmisprogram nie ’n resep is wat deur ander boere in ’n ander deel van die land gevolg kan word nie, en dat elke gebied se behoeftes verskil.

AANDAG AAN GRONDGESONDHEID

Om te verseker dat sy plante die regte voedingstowwe kry en sy grondsamestelling reg is, skeep Scheepers nie sy grondontledings af nie. Hy stuur elke Mei grondmonsters na die Brookeside-laboratorium in New Bremen in die Amerikaanse deelstaat Ohio. “Dié laboratorium bied toetsgeriewe wat nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie.”

Sodra hy die resultate kry, bring hy die finale aanpassings aan om die grond reg te kry vir die planttyd in September. Die regstelling verskil van jaar tot jaar en word bewerkstellig deur kalk, gips en beesmis toe te dien. Scheepers gebruik mnr. Deon Marais se Bactec-produkte om grondlewe aan te moedig en meer mikro-organismes in die grond te kry.

Mnr. Eben Jansen van Bethulie staan hom met sy kunsmisprogram by. As deel van sy wisselboustelsel plant hy hawer ná die mielies, wat hy dan weer met mielies opvolg. Die mieliereste word gebaal en as veevoer gebruik.

Mnr. Thinus de Lange van Cradock Saad.

’N KULTIVAR SO IN SY KRAAL

Die afgelope produksiejaar het Scheepers drie kultivars aangeplant – Pioneer se nuwe P1690 BR, waarvan hy 19 ton/ha gestroop het, Dekalb se DKC62-80BR GEN Irrigation, waarvan hy 18 ton/ha gestroop het, en Dekalb se DKC64-54 BR, wat hom die wenopbrengs van 20,72 ton/ha besorg het. Dié kultivar vir volle besproeiing bevat nuwe teelmateriaal, presteer goed in digte aanplantings en is geskik vir ’n ultrakort groeityd.

“Die kultivar is aangepas vir koeler besproeiingsgebiede. Daarom blink dit uit in Zirk se streek,” sê De Lange. Scheepers plant gewoonlik middel Oktober, maar die planttyd hang van grondtemperature af. Sy plantestand is 93 000 per hektaar en sy rye is 73 cm uit mekaar. “My grootste stryd is om te sorg dat die mielies nie hittespanning kry nie en om die grondvog reg te hou.”

In die warmste dele van die somer kan die kwik soms tot bo 40 °C styg. Scheepers dien weekliks 36 mm tot 60 mm besproeiingswater toe. Die hoeveelheid word bepaal deur grondvog en temperatuur. Sy insetkoste vir vanjaar se oes was ongeveer R20 000 per hektaar, dieselfde as in 2016 toe hy die eerste keer gewen het. “Die rede daarvoor is dat minder grondregstellings nodig was.

Selfs met inflasie en prysstygings in ag geneem, het ek minder aan vaste koste en bemesting bestee.” Scheepers plant die mielies aan om voerkorrels saam met die lusern, wat hy ook onder besproeiing aanplant, vir sy Merinoskape te maak. Die res word verkoop. De Lange, wat verskeie boere in die Visriviervallei bystaan met die plant van mielies, meen Scheepers behaal soveel sukses omdat hy aan elke detail van die plantproses aandag gee.

“Dit strook met hoe hy ander aspekte van sy lewe aanpak – of dit nou lusern, jag of skape is. Hy is bereid om ’n bietjie ekstra in te sit, solank die koste uiteindelik die moeite werd is en hy ’n opbrengs op sy kapitaal kan kry.”

Scheepers gebruik ’n sesry-Monosem-druklugplanter.

GROOT PLANNE VIR 2019

Cradock Saad stel volgende jaar sy 30-ton-klubkompetisie bekend. Scheepers is besig om sy mielie-oes in die grond te kry met ’n paar veranderings om sy opbrengs te verhoog. Hy sê egter die uitkoms is nie in sy hande nie. “Jy kan alles doen, maar as dit nie van Bo kom nie . . . Dit is alles net genade.”

Hy wil egter nie vertel watter planne hy in die mou voer nie. Lesers sal dus moet wag tot volgende jaar se oestyd om te hoor of sy planne suksesvol was.

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.