Die internasionale landboureus Syngenta Seeds se transaksie om Sensako, ’n Suid-Afrikaanse saadmaatskappy wat in graan spesialiseer, te bekom, is deurgevoer. Dit versnel die koms van nuwe internasionale saadtegnologie om dié plaag, wat oeste in Afrika sedert 2016 knou, te beveg.

Hierdie transaksie maak dit vir Syngenta Seeds moontlik om meer opsies, innovasie en tegnologie aan produsente in die streek te bied, sê mnr. Jeff Rowe, president van Syngenta Seeds. “Die belangrikste van alles is dat ons nou ons toonaangewende Viptera-eienskaptegnologie vir produsente kan aanbied. Dit kan die vinnig verspreidende bedreiging wat herfskommandowurm in Suid-Afrika inhou, teenwerk.”

Sensako versprei tans van Syngenta se sonneblomsaad. Syngenta Seeds verkoop ook groentesaad in Suid-Afrika.

Luidens die verklaring sal die transaksie die voordeel inhou dat Syngenta se kiemplasmapoel saamgevoeg word met Sensako se bestaande teelprogramme en sy ervare navorsing- en ontwikkelingspan. Die nuwe gesamentlike groep verwag om die mark vir koringsaad in Suid-Afrika as ’n markleier te betree.

Sensako, wat sedert 1958 bestaan, het ’n sterk posisie in die mark vir koringsaad in Suid-Afrika, met bykomende verkope in Namibië, Zambië en Lesotho, lui ’n gesamentlike verklaring wat die twee maatskappye uitgereik het. “Die transaksie lê die grondslag vir groei en sal help om Syngenta Seeds se toetrede tot die Suid-Afrikaanse saadmark in koring, mielies en sonneblom te versnel.”

Mnr. Patrick Graham, handelsdirekteur van Sensako, sê Sensako lê klem daarop om graanprodusente en -verwerkers te bevoordeel met sy bewese kultivars en soliede navorsingsplatforms. “Ek glo dat ons in Syngenta ’n vennoot met dieselfde waardes het.”