Die jongste ekonomiese groeikoerssyfers van Statistiek SA toon ’n ekonomiese groeikoers van sowat 2,2% in die derde kwartaal. Dit volg op ’n negatiewe groeikoers in die eerste helfte van die jaar, wat gelei het tot vrese dat die land tegnies in ’n resessie was – met ander woorde twee opeenvolgende kwartale met negatiewe groei – wat kon oorgaan in ’n depressie.

’n Depressie word gekenmerk deur voortdurend negatiewe groei, stygende werkloosheid en dalende batepryse. Met dié dat Suid-Afrika al hoe minder groei toon, en die groei by tye negatief is, vat-vat die land aan die agterent van ’n depressie.

Groot opgewondenheid heers oor die 2,2%-groeikoers, maar dit bring die land nie nader aan ’n volhoubare, stygende groeikoers nie. Daar is nog ’n steil, opdraande pad wat voorlê, veral wat die stygende werkloosheidsyfer betref.

Die feit dat talle besighede en vervaardigers soms meer as 2 uur per dag sonder elektrisiteit moet klaarkom (wat skynbaar nog lank gaan voortduur), beteken dat hul omset gaan daal én dat produksie met van 10% tot 20% kan afneem. Dis die onvermydelike gevolg as 25% van ’n produktiewe werkdag verlore gaan.

Die landboubedryf het van ’n skerp insinking herstel tot ’n positiewe groeikoers van 6,5%, wat gering is as in gedagte gehou word dat die daling in die eerste helfte van die jaar meer as 30% was ( grafiek 1 ).

GRAFIEK 1: Ekonomiese groeikoers, totaal en landbou, derde kwartaal

’n Effense styging in vrugte-uitvoer en stabilisering in die veebedryf (intensiewe bedrywe) het bygedra tot dié positiewe groei, asook die feit dat ’n gedeelte van die afgelope jaar se mielieoes laat gelewer is in die derde kwartaal. Landbouvooruitsigte lyk egter nie goed nie.

Reënval van September tot einde November 2018 in die somersaaigebiede was baie laer as tydens die rampspoedige droë 2015-seisoen, en volgens talle boere die laag- ste op rekord vir dié periode. Indien klimaatstoestande in die tweede helfte van die somer nie drasties verbeter nie, wag daar groot moeilikheid vir almal.

Die huidige swak vooruitsigte word bevestig deur Agbiz en NOK se landbouvertroue-indeks, wat gedaal het na die laagste vlak sedert 2009 (die ergste jaar tydens die wêreldwye finansiële krisis). Swak oeste, droogtetoestande, hoër rentekoerse en brandstofpryse, die Parlement se voorneme om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, én beurtkrag skep nie ’n positiewe groei-omgewing nie.

Regrukaksies binne staatsondernemings en -departemente is wel van stapel gestuur, maar daar was nog geen fundamentele vernuwing in ANC-beleid wat ekonomiese groei en vertroue stimuleer nie. Die nuwe nasionale minimum loon wat vanaf 2019 geld, gaan nie werkskepping aanmoedig nie, en die strydlustigheid van vakbonde én gewone werkers ontmoedig talle kleiner en mediumgrootte ondernemings om nuwe werkers aan te stel.

Derde kwartaal se groeisektore

Sterk ekonomiese groei is ’n voorvereiste vir werk- en welvaartskepping, wat besteding aan voedsel, drank en klerasie stimuleer en só die landbou direk bevoordeel. Dis makliker om sake te doen in tye van sterk ekonomiese groei as wanneer daar min ware groei en welvaartskepping is.

Ekonome glo dat Suid-Afrika eers in 2019 en daarna (na afloop van die verkiesing) kan hoop op ’n beter beleidsomgewing en sterker ekonomiese groei, maar dié vooruitsigte bly onseker. Die dilemma vir die meeste besighede is dat by gebrek aan ’n goeie gesindheid en konstante vernuwing, mededingendheid afneem en kompetisie al strawwer word.

GRAFIEK 2: GROEIKOERS PRIVAAT- VebruikERsbesteding

Daar moet dus voortdurend planne beraam word, belê word in nuwe tegnologie en innoverende maniere gevind word om wins te verhoog. Dis ’n al hoe moeiliker taak, maar noodsaaklik vir die beskerming van bates en die onderneming.

Grafiek 1 toon die ekonomiese groeikoers en dié van die landbou, waar 2018 die derde kwartaal se groeisyfer weerspieël (wat vir die jaar geld), naamlik 2,2%. Dis duidelik dat groei al hoe stadiger geskied en dat die derde kwartaal se effens positiewe syfer nie juis iets is om oor opgewonde te raak nie, aangesien dit van ’n baie lae vlak kom.

Die sektore wat groei getoon het (maar ook vanaf ’n baie lae grondslag), was vervaardiging met 7,5% en landbou met 6,5%. Mynbou en bouwerk het gekrimp, asook krag en water. ’n Positiewe tendens is dat privaat-huishoudelike besteding met 1,6% toegeneem het, teenoor ’n vorige daling van 1,1%. Dit kan dalk daaraan toegeskryf word dat staatsondernemings en die staatsdiens se lone hoër as inflasie gestyg het, wat die vraag na drank en voedsel stimuleer.

Die meeste van die land se vesel, vrugte en neute word uitgevoer, waar die vraag eerder deur buitelandse groei gestut word. Die verloop van die groeikoers in privaat-verbruikersbesteding word in grafiek 2 aangedui, met die 2018-syfer die derde kwartaal se 1,6%.

Die ekonomiese groeikoers en groei in privaat besteding is egter steeds laer as die bevolkingsaanwaskoers, terwyl die getal werkloses ook styg. Die land raak dus op ’n per kop-grondslag armer.

Suid-Afrika voer steeds meer in as wat dit uitvoer, en volgens die verslag het uitvoer met 24,2% gestyg en invoer met 26,7% in die derde kwartaal, wat beteken dat die land steeds afhanklik is van buitelandse kapitaal om vir invoer te betaal, terwyl binnelandse kapitaalvorming met ongeveer 5,1% afgeneem het.

Landbouvertroue daal

Agbiz en NOK se landbouvertroue-indeks is tans op die laagste vlak sedert 2009. Volgens Agbiz was dié lae vlak te wagte en kan dit aan verskeie faktore toegeskryf word. Grafiek 3 toon die indeks se verloop en die derde kwartaal van 2018 se laagtepunt, wat laer is as tydens die rampspoedige droogtejaar van 2015.

GRAFIEK 3: Agbiz-NOK-Landbou- vertroue-indeks

Die skerp daling word toegeskryf aan vooruitsigte vir laer omset, laer wins en algemene swak landboutoestande en -vooruitsigte in die derde kwartaal, veral in die somerreëngebiede waar somer- aanplantings besig is om vas te draai weens die droogtetoestande.

Weiding het ook ernstig verswak en die groeiseisoen het baie verkort, wat die risiko van laer opbrengste én swak winterweiding verhoog. Onsekerheid wat heers as gevolg van die onteieningskwessie dra verder by tot swak vertroue en vooruitsigte.

Die realiteit is dat dit steeds nie goed gaan met die ekonomie nie, hoewel sekere ekonome baie opgewonde is oor die derde kwartaal se positiewe groei. Dis egter te betwyfel of dit die begin van ’n nuwe opswaaifase is.

Die eerste helfte van 2019 gaan waarskynlik moeilik wees, en Agbiz-NOK se landbouvertroue-indeks weerspieël dié siening ook vir die landbou. Versigtige sakebesluite en kapitaalbeskerming gaan nodig wees om ekonomiese risiko’s die hoof te bied. Daar sal diep gedink moet word oor hoe om wins te maak in so ’n ongunstige sake-omgewing.