Agt jaar gelede het mnr. Hannes Wolvaardt met ’n saamgeskraapte R200 000, 3 ha huurgrond en geleende trekkers en werktuie begin boer. Vandag oes hy meer as 120 000 kartonhouers soetrissies per jaar, boer hy saam met sy een buurman met wild in ’n swartbemagtigingsvennootskap en is hy saam met sy vennote en plaasbestuurder besig om sitrusboerdery te ontwikkel in ’n tweede bemagtigingsboerdery.

Sy broer Riaan en sy vrou, Joelene, wat die boerdery met finansiering ondersteun het, is nou gelyke vennote in Wolvaardt Boerdery. Sy oudste broer, SJ, bestuur die onderneming se drie vulstasies in die omgewing van Letsitele en Giyani. Anders as sy broers wat B.Com. gaan studeer het, het Wolvaardt besluit om ná skool sy passie te volg en ’n nasionale diploma in gemengde landbou aan die Tshwane-universiteit van Tegnologie (TUT) te voltooi.

Wat hy daarna reggekry het, is ’n storie wat jou hoendervel gee. “Ek het besef as ek myself as plaaswerker of bestuurder gaan uitgee, gaan ek baie gou my plafon in die lewe bereik. Ek wou meer uit die lewe en my loopbaan hê,” sê Wolvaardt. Op sy 21ste verjaardag het hy besluit dis maak of breek.

Hy het sommer daar en dan vir Riaan, hoof van ERP Konsultasie en mede-aandeelhouer van Parity Software, ’n maatskappy wat intelligente besigheidsoplossings ontwikkel en toepas, gebel. “Ek sê toe vir hom: ‘Kom ons begin ’n boerdery. Ek het my huiswerk gedoen en ek dink ons kan dit laat werk’.” Dit was 8 Julie 2010.

Wolvaardt en sy pa, Simon, het die eerste nethuise saam opgerig. Sedertdien het Wolvaardt nog elke stuk skadunet op die plaas met sy eie hande gespan.
Deur sy eie grond in 2013 te koop, kan Wolvaardt Boerdery ook rooi en geel soetrissies onder skadunet verbou. Dit het eenvoudig nie sin gemaak om in nethuise te belê op die grond wat hulle aanvanklik gehuur het nie. Nou voeg hulle ook waarde toe deur ’n “robot”-kombinasie van rooi, geel en groen rissies te verpak.

Tussen dié twee broers en Joelene het hulle, almal aan die begin van hul loopbane, R200 000 bymekaar geskraap. Minder as ’n maand later, op 3 Augustus, was Wolvaardt Boerdery reeds gestig en het Wolvaardt hul eerste oopland-soetrissies geplant met ’n trekker en werktuie wat hy by van sy vriende geleen het.

Hy het daardie jaar 3 ha soetrissies aangeplant en die volgende jaar nog ’n stuk grond gekry wat hy kon huur. Hy moes dit eers ontbos. Daar het hy toe ook 5 ha soetrissies geplant. Hy het verder begin om skorsies, kool en ander groente te plant wanneer hy gesien het daar is ’n geleentheid op die mark.

“Ek het nie eens ’n bakkie gehad nie. Ek het met my studentekar, ’n Ford Fiesta, geboer. Daarmee het ek alles van besproeiingspype tot vars produkte na die plaaslike afsetpunte aangery. Dit was vir die eerste jaar my bakkie.” Twee en ’n half jaar later, in 2013, kon Wolvaardt Boerdery bekostig om sy eie grond te koop – ’n plaas van 24,5 ha.

Dit was ook toe dat Wolvaardt en sy pa, Simon, begin het om die eerste gespesialiseerde nethuise op te rig. Wolvaardt het 5 ha onder net gespan. Dit het hom vir die eerste keer in staat gestel om beter op die mark vir rooi en geel soetrissies te konsentreer. In 2015 het die boerdery al sodanig gegroei dat hy tot 10 ha se nethuise kon uitbrei.

Hy moes boorgate sink op die nuwe plaas en het soveel moontlik van die ou strukture op die grond benut. Die netjiese kantoor was byvoorbeeld ’n ou kleihuisie en die plaasskuur ’n ou melkstal. Die boerdery se infrastruktuur, prosesse en pakgeriewe is uitgebrei tot op GlobalGap-standaard, waarvoor die boerdery verlede jaar gesertifiseer is.

NOU BEMAGTIG HY

In 2016 het Wolvaardt ’n internskapprogram met sy alma mater van stapel gestuur. Van die TUT-landboustudente kan nou elke jaar hul praktiese ondervinding by Wolvaardt Boerdery kom opdoen. Die eerste student het sommer aan die begin van daardie jaar al ingeval en sy eerste jaar van praktiese werkservaring opgedoen.

Die volgende jaar het Wolvaardt Boerdery toe goud getref met me. Andiswe Ngaleka. Op 26 het sy reeds ’n diploma in landbouproduksie, ’n B.Tech.-graad in gewasproduksie en ’n B.Tech.-graad in landboubestuur agter haar naam.

In die warm Limpopo moet boere op hul voete dink om gewasse teen die elemente te beskerm. Vir Wolvaardt is dit belangrik dat sy gekleurde soetrissies net so goed soos sy groen kultivars dra en dat hy so min moontlik vrugte aan sonskade verloor.

“Andiswe het my lewe verander.

Sy het reg van die begin af haar plek in die boerdery se bestuur ingeneem. Sy het dadelik die stelsels verstaan en die boerdery se prosesse in werking gestel, wat dinge makliker en beter laat werk het,” sê Wolvaardt. Wolvaardt sê sy het ’n sleutelrol gespeel in die rekordoes wat hulle verlede jaar behaal het.

“Sy is ’n voorslagboer wat ons geesdrif vir die sektor en ons toewyding om as boere te groei, met ons gemeen het.” Daarom het hulle Ngaleka vanjaar betrek in ’n vennootskap waar sy nou 51% van die aandele in hul nuwe maatskappy, Khensisa, besit.

Hulle gaan saam met haar sitrus vestig op nuwe grond wat hulle vroeër vanjaar aangekoop het. Wolvaardt sê vandat hulle in 2016 begin het om werksgeleenthede vir TUT se topstudente te skep, het die ekstra aandag wat die plantjies van plant- tot plukstadium gekry het, gehelp om siektes en plae vinniger raak te sien en daarteen op te tree.

SLIM MARKBESTUUR

Hy bekommer hom ook nie oor die wisselvalligheid van markpryse nie, want statistieke van die afgelope 15 jaar toon dat die grootste deel van sy oes gelewer word wanneer ander produksiegebiede te koud is en baie hoë produksiekoste vir infrastruktuur, soos kweekhuise, nodig is om gekleurde soetrissies van dieselfde gehalte as hy te verbou.

Dit stel Wolvaardt in staat om te beplan en begroot om sy produk te lewer teen ’n prys wat, gegrond op sy marknavorsing, winsgewend sal wees.

“Ek glo ’n belangrike deel van ’n boerdery se sukses is navorsing oor markte en neigings en deeglike beplanning daarvolgens.” Hy plant sy winteroes in Maart of April aan en oes dan vanaf Junie tot Desember. Van 2010 tot vanjaar het die boerdery se omset tot R10 miljoen gegroei. Daarmee saam is aanplantings elke jaar uitgebrei.

PRODUKSIEBESTUUR

Daar word elke jaar meer aandag aan grondgesondheid en -voorbereiding gegee. Die grond onder die nette word berook. Dan word elemente wat groei bevorder, soos organiese materiaal, kompos, biolewe en visemulsie, bygevoeg. Grondmonsters word geneem. Daarvolgens word die bemestingsprogramme deur tegniese raadgewers aanbeveel.

Enige probleme word vroeg waargeneem deur weeklikse blokverkennings en voorkomende bespuiting. Plae word vroegtydig deur ’n geïntegreerde plaagbestuurs- en voorkomende bespuitingsprogram geïdentifiseer en bestuur.

“Ons glo dat hierdie praktyke ’n groot rol speel in ons verhoogde produksie en boerderysukses.”

Om te sien watter kleur- en digtheidkombinasie lewer die beste vrugdrag met die minste son- en windskade, is Wolvaardt besig om ’n reeks proewe in kleiner nethuise te doen. Daar is ’n fyn balans tussen genoeg sonbeskerming en genoegsame lugvloei deur die nethuis.

BOERDERY SE ORGANIESE GROEI

Om alles in die boerdery terug te ploeg, het hulle tot dusver net goed gedien. Wolvaardt is onlangs met Caela getroud en hulle woon nou in hul eie huis op een van die nuwe plase. Daar staan deesdae ’n rits bakkies, trekkers en werktuie op die plaas langs die nuwe pakhuis van 1 200 m².

Die nuwe pakhuis huisves ook ’n pasgemaakte soetrissiepaklyn wat gebou is uit toerusting wat by ’n sitruspakhuis gekoop is. Die Wolvaardt Boerdery skep werk vir 38 heeltydse en 42 tydelike werkers. Wolvaardt het in 2015 plaaslike sakemanne, mnr. Ernest Risaba en die Hlaneki-broers, genader met ’n geleentheid om die vulstasies wat hulle in die omliggende gemeenskappe besit, op langtermynkontrak te huur.

Wolvaardt en sy oorlede pa het die vulstasies ontwikkel en uitgebrei vanaf 40 000 liter per maand tot 300 000 liter per maand. Die verbetering van die vulstasies was ook deel van die groter prentjie om die geriewe vir die omliggende gemeenskappe te verbeter. Sy broer SJ het verlede jaar by die familiebesigheid aangesluit en bestuur die drie vulstasies, wat die BF Fuels Tzaneen-handelsmerk dra.

TOEKOMS VOL AVONTUUR

Anders as baie boere wat hul blind staar teen politieke dreigemente oor grond, sê Wolvaardt hy wil in die volgende paar jaar die boerdery se grondbesit uitbrei om die boerdery se produksievermoë te verhoog. Hy wil onder meer groei deur sitrus en ander gewasse, soos makadamianeute en avokado’s, te verbou.

Dit sal help om die boerdery se risiko’s oor meer as een gewas te versprei. Hulle het reeds grond naby Tzaneen gekoop waar Wolvaardt makadamianeute en avokado’s wil vestig. “Ons kyk reeds na ’n optiese sorteermasjien vir ons pakhuis,” voeg hy by.

Een van Wolvaardt se grootste ambisies is om uiteindelik kweekhuise op te rig waarin hy rissies en ander gewasse van topgehalte wil kweek en waarvoor hy meen hy ’n gesonde pryspremie sal verdien. Dit sal hom ook in staat stel om die klimaat heeltemal te beheer en heeljaar groente te kweek.

Die nuwe pakhuis by Wolvaardt Boerdery sal eersdaags ‘n betonvloer en baksteen mure hê. Intussen word daar net so onder die reuse- nuwe dak gepak.

Hy en Riaan het reeds by etlike boere wat in kweekhuise boer, gaan aanklop om meer oor hierdie verbouingspraktyk te leer. Hy het ook reeds ’n kursus in hidroponika voltooi. Intussen boer Wolvaardt voluit met wat hy het. Hy is tans besig met interessante proewe onder verskeie soorte en kleure net.

Daardeur wil hy die optimale vrugdrag nastreef sonder die verliese wat deur son en wind veroor- saak word. Sy ideaal is om oor tien jaar soetrissies, tamaties en komkommers vir die vars mark in nethuise te verbou. Daarbenewens wil hy nisgroente in kweekhuise verbou met die doel om leweringskontrakte te bekom.

Teen daardie tyd hoop hy ook dat Khensisa ver gevorder sal wees in die sitrusbedryf. Dit klink dalk na groot planne vir ’n boer wat agt jaar gelede op 3 ha huurgrond begin het, maar soos Wolvaardt sê: “It’s all about the journey.” Vir hom is elke dag in boerdery ’n avon- tuur.

LBW vra . . . MNR. HANNES WOLVAARDT

WAT WAS JOU BESTE BESLUIT NóG?

Die dag toe ek besluit het om die kans te waag en boerdery te betree as ’n eerste generasie boer.

WIE WAS JOU MENTOR?

By my oorlede pa het ek geleer om met my hande te werk en self planne te maak. Hy het ons broers geleer om nooit op te gee nie, maak nie saak hoe groot die berg voor jou lê nie. My broer en sakevennoot Riaan leer my elke dag om na die groter prentjie van elke scenario te kyk.

Wat is DIE BESTE RAAD WAT JY al GEKRY HET?

Boerdery gaan nie net oor die bestemming nie, maar oor om die reis te geniet.

WATTER TEGNOLOGIE IS ONMISBAAR?

Ons gebruik Irricheck-sensors wat deurlopend data beskikbaar stel rakende die watertoediening in ál die lande. Dit is beskikbaar as ’n selfoontoepassing. Ek kan dag of nag sien watter dele meer of minder water nodig het. Die stelsel het reeds tot ’n daling van 40% in watergebruik gelei.

Ons bestuurspan gebruik ook daagliks die Align-toepassing waar ons op ons slimfone en tablette die dag, week en maand se belangrikste take of doelwitte aanteken en dit afmerk. Ons stel en monitor ons groter sakedoelwitte ook op dié platform.

WAT IS JOU GROOTSTE STRUIKELBLOKKE?

Die verkryging van finansiering om ’n boerdery op die been te bring, was ’n groot stryd. Daarom het ons meestal eie kapitaal aangewend vir uitbreiding. Ons het vasgebyt en alles wat ons jaarliks maak, terugbelê in die besigheid totdat ons die boerdery vir finansiering kon posisioneer. Die klimaat in ons gebied stel ook baie eise en moet reg bestuur word met gespesialieerde opsies, soos nethuise.

Navrae:
Mnr. Hannes Wolvaardt, e-pos: jjwolvaardt@webmail.co.za.