’n Projek wat deur die Europese Unie (EU) gefinansier word, ondersoek tans proteïenryke gewasse in Europa wat as aanloklike alternatief vir vleis gebruik kan word. Dit word gesien as ’n manier om die omgewingsimpak van lewende hawe te verminder en boere van ’n nuwe inkomstebron te voorsien.

Vleisproduksie gebruik baie energie en is vir omtrent 15% van alle mensgemaakte kweekhuisgasvrystellings verantwoordelik. Kenners waarsku ook dat met die toename in die wêreldbevolking die wêreld se huidige verbruik van vleis nie volhoubaar is nie. Vleis is ’n uitstekende bron van proteïene.

Om Europese verbruikers meer proteïenopsies te gee, ontwikkel die projek Protein2Food, wat deur die EU gefinansier word, tans nuwe produkte uit top-proteïenryke gewasse.

“As ons deur hierdie projek, wat daarop gemik is om mense meer proteïene afkomstig van plante te laat eet, ’n toename in die verbruik van vleis kan voorkom, sal dit voordelig vir die gesondheid van mense én die planeet wees,” sê mnr. Raymond Gemen, woordvoerder van die projek en voeding-en-gesondsheidsbestuurder van die Europese voedselinligtingsraad (EUFIC) in België.

Dieselfde byskrif.

Prof. Sven-Erik Jacobsen van die Universiteit van Kopenhagen in Denemarke en projekkoördineerder voeg by: “Ons moet proteïenvoedsel afkomstig van plante kweek wat só aantreklik is dat verbruikers dit sal verkies bo alternatiewe wat van diere afkomstig is.”

Van die proteïengewasse wat Protein2Food ondersoek, soos quinoa en amarant, kom uit die Andes-gebied van Suid-Amerika. Navorsers wil dié plante volledig by die Europese klimaat laat aanpas en die hoeveelheid en gehalte van die proteïene daarin verhoog.

Die projek soek ook na beter maniere om die proteïene te onttrek en sodoende nuwe proteïenryke bestanddele vir voedselverwerking te skep. Protein2Food se vennoot, Prolupin, ’n Duitse onderneming, verander lupiene, ’n tradisionele peulgewas, in hoëproteïenverbindings vir nywerheidsgebruik.

’n Slagroom van lupiene, wat in mayonnaise, as bolaag of vir die maak van groenteroomys gebruik kan word, is ontwikkel. Protein2Food is ook betrokke by die verwerking van hierdie hoëproteïnbestanddele en maak proteïenryke kosse, soos pasta, groentekoeldranke, proteïenstafies, gesonde ontbytkos en babakos.

Voorbeelde van kosse wat reeds ontwikkel is, sluit in pasta wat met ertjies verryk is en ’n quinoa-koeldrank. Die projek ondersoek ook tans markneigings van 1961 tot nou om geleenthede en struikelblokke vir die ekonomiese sukses van dié produkte te bepaal.

Volgens die navorsers is dit nie ’n poging om mense te oorreed om vegetariërs te word nie, maar eerder om die hoeveelheid vleis te verminder wat hulle oor die algemeen eet, en om ’n paar dae van die week hul proteïene uit alternatiewe bronne te kry.

“Om oor die algemeen minder vleis te eet, is die beste uitweg: Maak die mensdom ’n bietjie meer vegetaries pleks daarvan om hulle radikaal te probeer bekeer,” sê Raymond. Navorsing oor quinoa en amarant is reeds dekades aan die gang, maar kommersiële produksie in Europa het eers onlangs begin.

Die belangstelling in proteïengewasse neem vinnig toe. In die afgelope jaar het die oppervlakte waarop quinoa in Denemarke verbou is, met 150% toegeneem en sedert verlede jaar word quinoa in 15 lidlande van die EU verbou.

Die aandag is nou daarop om die boere wat quinoa verbou met middelslag-voedselverwerkers (KMO’s) kontak te laat maak, wat tot die vestiging van ’n vernuwende bemarkingsketting sal lei. Die doel is om te verseker dat meer plantgebaseerde hoëproteïenvoedselsoorte by verbruikers uitkom.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.