In die somer kan die Overberg maar vaal lyk, so asof daar nie veel aangaan nie, totdat jy op sekere plase se stoppellande gaan stap en die dik deklaag sien wat op die lande lê. Waar jy die deklaag wegkrap, is die grond koel en klam en ruik sommer vrugbaar.

Op ’n relatief “droë” plaas, soos Kralegin van mnr. Boetie Beukes, is dit hul toewyding tot vogbewaring wat help dat hulle goeie tot bogemiddelde kanola- en ander graanopbrengste kan behaal.

“Hierdie is eintlik ’n droë plaas, maar ons het dit opgebou deur tien jaar gelede te begin aanplant en vog te bewaar deur ’n deklaag. Ons los alle materiaal op die land en baal nie strooi nie. Ons het ons koringopbrengs die afgelope tien jaar van 1,5 t/ha tot 4 t/ha verhoog,” sê hy. “Ons grond is meestal skalie en klip, nie baie klei nie – sagte skalie wat vinnig dreineer en nie water lank hou nie. Dis hoekom vogbewaring deur middel van ’n deklaag só belangrik is.”

Boetie en sy broerskind, mnr. Johann Beukes, het onlangs die Proteïennavorsingstigting (PNS) se prys vir die hoogste kanola-opbrengs op minder as 150 ha gewen. Hulle het in 2020 gemiddeld 3,07 t/ha geoes.

Mnr. Boetie Beukes FOTO’S: AMELIA GENIS, TENSY ANDERS VERMELD

REGTE KULTIVAR

Hulle het die prestasie grootliks met die kultivar Quartz behaal. Hulle plant ook ’n bietjie 45Y91 aan, maar verkies Quartz, ’n kultivar van Agricol, al stel dié konvensionele kultivar hoër bestuursvereistes.

“Al kan ons nie ’n groot verskeidenheid middels op Quartz spuit nie, is ons beïndruk met sy opbrengsvermoë. Die kultivar groei sterk, produseer baie biomassa en het ook ’n sterk ‘terugkomvermoë’,” sê Boetie.

Hulle het Quartz ook in 2019, wat ’n besonder droë jaar was, geplant. Boetie sê die plante het twee keer gelyk asof hulle vrek, maar elke keer ná ’n bietjie reën sodanig herstel dat hulle uiteindelik 1,74 t/ha geoes het.

“Ons het in 2019 van April tot einde September net 94 mm reën gehad. Dit is ongelooflik min,” sê Johann. “Die triasienbestande kultivar wat ons aangeplant het om ’n probleem met ramenas te takel, het monsterrye gemaak, maar daar het nie veel in die tenk ingeloop nie. Die Quartz-rytjies was klein, maar vol peule.”

Verlede jaar het baie boere gevrees Quartz groei te aggressief en maak nie peule nie. “Maar toe vogtoestande tot in Augustus en September aanhou, het alle sytakke wat geblom het, peule gemaak, en alle peule het volgemaak.”

Mnr. Johann Beukes

WISSELBOU MET VERSKEIDENHEID

Buiten kanola verbou die Beukesse ook koring, gars, lupiene, hawer en droëlandlusern.

“Ons plant gars, kanola, koring, gars en gars in daardie volgorde aan, en daarna besluit ons of ons hawer, kanola of lupiene gaan aanplant,” sê Boetie. “Ons plant elke jaar minstens 100 ha lupiene aan en oes dit as byvoeding en prikkelvoeding vir ons Dormerkudde. Koring wat ná die lupiene geplant word, is ook ’n uitskieter.”

Hy sê hoewel daar heelparty boere in hul omgewing is wat ook sukses met lupiene behaal, kla ander weer dat dit maklik versuip. “Lupiene beteken vir ons grond en vee geweldig baie.”

Hulle hou die meeste van die soetlupiene wat hulle oes en verkoop hul surplus aan Meadow vir hul voermengsels. Die ooie lam baie goed op die lupiene-stoppellande.

Hulle het ook sowat 450 ha droëlandlusern. Hulle kry soms goeie reën in die somer, soos verlede jaar toe hulle baie goeie lusernweiding gehad het en selfs lusern kon baal. Die afgelope somer het hulle nie juis reën gehad nie.

Hulle saai gewoonlik die lusern saam met die kanola en hou dit vir vyf jaar. Johann dink egter hulle het verlede jaar 200-300 kg kanola per ha met dié praktyk ingeboet. “Dis ons praktyk om die lande vry van grasonkruid vir die volgende paar koring- en garsjare te maak.”

Die dag voor Landbouweekblad se besoek het hulle 8 mm reën gehad. Met ’n dik deklaag op hul lande kan die vog bewaar word en mikrobiese aktiwiteit stimuleer. As daar onkruid opkom, is hulle in ’n baie goeie posisie om onkruidbestryding te doen.

“Hoe meer onkruid ons voor planttyd kan bestry, hoe meer gemoedsrus gee dit ons om weer Quartz te plant,” sê Johann.

Vogbewaring met behulp van ’n deklaag en minimum bewerking kry voorrang op dié relatief droë Overbergse plaas.

MEER KANOLA VANJAAR

Hulle hoop altyd daar is teen 20 April genoeg vog in die grond om kanola te plant. Verlede jaar was dit nie moontlik nie. Johann sê hulle het toe maar eers die gars aangeplant en toe reën voorspel word, het hulle die kanola klaar aangeplant. Hulle plant taamlik vlak.

Volgens hom kry hulle goeie ontkieming selfs waar hulle die saad net uitgestrooi en vasgerol het.

Hulle behandel die kanolasaad met Trichoderma om skadelike swamme te bekamp en spuit Bioroot (reg.nr. B3499, Wet 36 van 1947) om wortelontwikkeling aan te help. “Dis standaardpraktyk by ons. Ons kan nie op ’n droë plaas met ’n plant sit wat nie wortels het nie. Dis baie belangrik dat ons begin met ’n plant wat goeie wortels het,” sê Boetie.

Hulle het al gesien as dit droog raak, oorleef ’n plant die volgende 14 dae makliker as dit goeie wortels het. Die feit dat Bioroot spoorelemente bevat, is ’n bonus.

Hulle gaan vanjaar meer kanola aanplant, maar dit is omdat hul wisselboustelsel dit voorskryf. Hulle is gelukkig dat die verlaagde mandaat vir moutgars saamval met ’n jaar waarin hulle in elk geval nie veel gars sou aanplant nie. “Ons gaan kanola op omtrent die helfte van ons grond aanplant omdat ons moet,” sê Boetie.

Hulle gebruik die afgelope paar jaar ’n tandplanter van Rovic Leers. Sedert hulle die planter gebruik, sien hulle heelwat voordele. Die planter het ’n gesplete skoen wat die saad aan die kant plaas sodat dit nie by die kunsmis lê nie. Volgens Johann vereis die planter min onderhoud en sleep dit baie ligter as ander planters. “Dit beteken jy kan ’n groter planter agter ’n ligter trekker sit.”

Die tandplanter van Rovic Leers het ’n gesplete skoen om die saad weg van die kunsmis te plaas.

BEPERK RISIKO EN OESVERLIESE

Hulle erken die risiko verbonde aan kanolaverbouing kan hoog wees, maar deur ondervinding en blootstelling aan voortgesette navorsing in die bedryf leer hulle om elke jaar die risiko’s beter te bestuur.

Kanola onttrek nogal heelwat spoorelemente aan die grond, maar die gewas se penwortelstelsel maak die grond losser en verbeter die struktuur, sê Boetie. “As ons koring ná kanola aanplant, moet ons spoorelemente terugsit, want die grond is arm aan veral mangaan en boor. Maar ons weet hoe om dit reg te stel.”

Die wind wat die pitte uit die peule kan waai, is nog ’n risiko wat met kanola- verbouing gepaardgaan, maar hulle doen wat hulle kan om verliese tot die minimum te beperk. Johann sê hulle het al geleer om die windrigting in ag te neem en so hoog as moontlik plat te sny. Hulle het ’n roller vooraan die platsnyer wat die windrye net effens vasdruk sodat die rye mooi rond lê.

“As die druk te veel is, verloor ons saad. Ons sny ook later om te keer dat daar te veel groen pitte is wat kan wegkrimp.”

Boetie sê hulle moet probeer om plat te sny as 60% van die pitte verkleur het. Hulle kyk of hulle dit selfs verder kan rek.

Nog ’n voorsorgmaatreël teen kanola wat uitwaai, is om in ’n windrigting van noord na oos plat te sny, en die snyer se waaiers te lig sodat dit amper nie aan die kanola raak nie, sê Johann. “Jy stel die seile stadiger en by die stroper stel jy die optelgordels stadiger. Ons het verlede jaar ’n skerm voor op die stroper gesit wat kan help om die windrye in te voer.”

TYDSBEREKENING GEE DEURSLAG

Wes-Kaapse boere meld gewoonlik die beperkte “tydgleuf” wat hulle het om sekere dinge te doen. Boetie en Johann sê ook tydsberekening in verskillende stadiums van kanolaverbouding is deurslaggewend.

In die eerste plek moet slakbekamping betyds plaasvind. Hulle strooi die slakkorrels agter die planter sodat dit op die grond lê. As dit nie werk nie, plant hulle die kanola aan, rol dit en strooi die slakpille ná die tyd met ’n Gator uit.

Sclerotinia-bespuiting op die regte tyd en met die regte hoeveelheid water is net so belangrik, sê Boetie. “As die blommetjies val, moet jy spuit – genoeg dat die boonste én onderste blomme nat is.”

Bespuitings van die selektiewe grasdoder Clethodim (reg.nr. L10827) met die aktiewe bestanddeel sikloheksaandioon moet vroeg gedoen word, voordat die kanola se blomknoppies vorm, sê Boetie. “As dit daarna gespuit word, gom die hoofhalm toe sodat die blom nie ordentlik bestuif kan word nie. Spuit dit liewer vroeër.”

Daar moet ook, na gelang van die temperatuur, twee weke voor oestyd teen ruitrugmot by kanola gespuit word.

BLOOTSTELLING AAN DIE BEDRYF

Boetie is ’n verteenwoordiger vir die landbouchemiese verspreidingsmaatskappy Viking en die saadmaatskappy Agricol. Hy beskou die geleentheid wat hy 30 jaar gelede gekry het om ’n Viking-verteenwoordiger te word, as ’n bestiering, veral omdat hy daardeur baie leer.

“Ek kry elke jaar opleiding en baie blootstelling. Dit help my om op die voorpunt te bly om die beste advies vir my medeboere te gee. Die voordeel is dat ek hier kan woon en boer én hier ’n diens lewer. Dis ’n groot voorreg om só baie verskillende plase te besoek.”

Viking versprei die produkte van agt verskaffers, wat drie multinasionale maatskappye – BASF, Bayer en Corteva – insluit.

NAVRAE: Mnre. Boetie Beukes, 082 552 3451; Johann Beukes, 064 754 6684.