Die Soill-kanola-oliepers op Swellendam het teen 12 November reeds sowat 140 000 ton kanola by verskillende leweringspunte ontvang. Dit is 20 000 ton meer as die vorige rekordoes wat in 2014 geproduseer is en mnr. Kellie Becker, uitvoerende hoof van Soill, glo daar is nog minstens 10 000 ton of selfs 15 000 ton kanola op pad.

“Dit was ’n uitstekende jaar vir kanola. Die 120 000 ton in 2014 is op 91 000 ha geproduseer, terwyl vanjaar se rekordoes op slegs 73 000 ha geoes word. Ons sal dus vanjaar heelwat meer as 2 t/ha produseer. Die reën het op die regte tye gekom en die temperatuur was deurgaans ideaal vir kanolaproduksie. Dit beteken dat daar bykans 20 000 ton meer kanola gaan wees as ons hoogste vooruitskattings. Dit is 29% meer as die vorige rekordoes.”

Moorreesburg pers weer in bedryf

Saam met die goeie nuus kom daar egter slegte nuus. Omdat die oes die hoogste skatting met 20 000 ton oorskry, is die opbergingsruimte vir 140 000 ton vol. Southern Oil kon gevolglik van 12 November nie meer kanola by leweringspunte in die Swartland ontvang nie, want daar was nie genoeg opbergingsruimte nie. “Ons het die grootte van die oes misreken,” sê Becker.

“Die persaanleg op Moorreesburg word weer in bedryf gestel nadat produksie voorheen daar laat vaar is weens die laer produksie van kanola in die Swartland. Ons pak die bottelnek aan en sal weer van Saterdag 14 November ruimte by belangrike leweringspunte beskikbaar hê. Dit is ongekend dat die Swartland, Overberg en Suid-Kaap terselfdertyd sulke suksesvolle oeste oplewer en ons is saam met die boere dankbaar vir hierdie goeie tyding. Ons is oor die kruin van die oes en die balans van die oes behoort glad te verloop.”