Mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA, sê die wêreldprys was ’n week gelede in dollarwaarde 38% hoër as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. “Die feit dat die rand verstewig het, neutraliseer die styging in ’n mate, maar ek glo die meeste produsente het deur die loop van die seisoen hulself verskans op vlakke waar hulle die goeie kant van die swak rand sowel as die goeie kant van die hoë internasionale pryse benut het.

“As ’n mens in ag neem dat die wêreldprys nou al oor die 90 Amerikaanse sent per pond beweeg het, is dit vergeleke met historiese vlakke baie hoog. Die langtermyngemiddelde is 70 Amerikaanse sent. Vir ons is die hoë prys baie gunstig.”

Die plaaslike oesskatting staan nou op sowat 79 500 bale vesel wat effens laer is as verlede maand se raming van 80 000 bale. Dit beteken ’n oes wat sowat 40% laer as verlede jaar gaan wees.

Wat die internasionale situasie betref, verwag die internasionale katoenadvieskomitee (ICAC) nou ’n gemiddelde prys van 81,9 Amerikaanse sent per pond vir die 2020-’21-seisoen. Die verwagting vir die 2021-’22 seisoen se gemiddelde prys is in hierdie stadium 87,1 sent per pond. Produksie, verbruik en handel sal ook na verwagting hoër wees.

Die verwagting is dat produksie in die nuwe seisoen met 5% sal toeneem tot 25,5 miljoen ton met veral toenames in aanplantings in Amerika en Wes-Afrika. Daarby word verwag dat internasionale verbruik met 2% sal toeneem tot 25,3 miljoen ton namate die wêreldekonomie herstel. Handel behoort tot 10 miljoen ton toe te neem.

Die wêreldproduksie vir die 2020-’21-seisoen word op 24,1 miljoen ton geraam. Dit is ’n 8%-afname teenoor die vorige seisoen.