“Ten spyte van die aantal pluismeulenaars wat gedaal het van 24 in die glorietyd van plaaslike katoenproduksie tot die huidige sewe, kan die bedryf steeds die katoen absorbeer wat tans verbou word,” sê mnr. Thomas Robbertse, bestuurshoof van IQ Logistica (IQL), die tegnologiemaatskappy wat die gesamentlike platform bedryf wat die Sustainable Cotton Cluster (SCC) se katoenwaardekettings integreer. “Suid-Afrika het egter nie die spinkapasiteit nie, wat beteken die meeste van die pluiskatoen moet uitgevoer word vir verwerking en die vervaardiging daarvan as klere-items, voordat dit weer ingevoer word.”

Verlede jaar moes 84% van die land se pluiskatoen uitgevoer word weens gebrek aan spinkapasiteit.

Die resultaat is ’n verlies aan geleenthede wat, gegrond op 2018-’19 se produksie van 51 000 ton pluiskatoen, te staan kom op ’n verlies van sowat R20,4 miljard in potensiële bevoordeling van die plaaslike katoenwaardeketting. Die oprigting van ’n katoenspinaanleg kan egter R1 miljard en meer beloop.

Reuse-groei

Suid-Afrika se katoenproduksie het sedert 2013 met bykans 800% gegroei, grootliks danksy die totstandkoming van die SCC, ’n liggaam wat met insetkapitaal van R200 miljoen vanaf die destydse departement van handel en nywerheid gestig is om kapasiteit in die Suider-Afrikaanse katoenwaardeketting te skep.

Robbertse wys daarop dat verlede jaar se pluiskatoen Suid-Afrika verlaat het teen sowat R24/kg, terwyl die eindproduk weer ingevoer is teen sowat R500/kg.

“Gegrond op die uitvoer van sowat 42 840 ton pluiskatoen en die gepaardgaande waardeverlies van R476/kg (R500/kg – R24/kg), kom skade ten opsigte van die bevoordeling van die ekonomie op sowat R20,4 miljard te staan, om nie te praat van die talle potensiële werkskeppingsgeleenthede wat in die proses vermors is nie,” sê hy.

Meer is nodig

Die skep van plaaslike spinkapasiteit sou egter nie op sigself die probleem oplos nie. Die bedryf ervaar steeds ’n enorme vaardigheidstekort weens die ondergang van die klerasietekstielbedryf oor die afgelope 30 jaar, wat veroorsaak is deur handelsbevryding en wêreldwye mededinging wat tot goedkoop invoerprodukte gelei het.

“Al sou ons dus spinaanlegte in Suid-Afrika tot stand bring, sal ons steeds vaardighede uit Asië moet invoer om die plaaslike arbeidsmag te help om die nodige opleiding te kry,” verduidelik Robbertse.

Daar is egter ’n silwer randjie om die donker wolk. “Die uitvoer van pluiskatoen genereer vir ons land deurslaggewend belangrike buitelandse valuta en help boere met die verhaling van insetkoste soos kunsmis, brandstof en toerusting wat dollar-gebaseerd is,” sê hy.