Mnr. Mario Botha, ’n landbou-ekonoom, sê in die jongste katoenmarkverslag dat die uitwerking van die Covid-19-virus in China ekonomiese groei na verwagting sal vertraag weens die bykomende onsekerheid in die vervaardigings- en voorsieningsketting in Asië. Volgens Botha het die potensiaal vir ’n wêreldwye ekonomiese verlangsaming bykomende stremming op die katoenbedryf geplaas, hoewel die totale uitwerking van die virus steeds onbekend is.

Die prys van katoen het onder druk gekom, maar huidige projeksies vir wêreldverbruik in die 2019-’20-bemarkingsjaar bly sowat 26,2 miljoen ton, terwyl produksie tans op 26 miljoen ton geskat word.

Die wêreld se eindvoorraad sal na verwagting met 1% tot 18 miljoen ton teen die einde van die 2019-’20-seisoen afneem, wat sowat 66% van die huidige seisoen se globale verbruik verteenwoordig. “Die daling in eindvoorraad sal na verwagting aangedryf word deur die huidige skatting vir bestendige wêreldverbruik te midde van ’n effense toename in wêreldproduksie van 1%,” sê hy. 

Ongunstige uitwerking

Die ongunstige uitwerking op Suid-Afrika se ekonomie is nog nie werklik gevoel nie, hoewel die wêreldwye finansiële markte ’n tyd lank herstel het ná die aanvanklike vrees rondom die virus.

Suid-Afrikaanse ekonome voer aan dat die werklike ekonomiese uitwerking van die virus nie onmiddellik plaaslik gevoel sal word nie, maar as China se ekonomiese groei as gevolg daarvan vertraag word, sal die vraag na uitvoer van Suid-Afrika ook waarskynlik afneem. Binnelandse katoenpryse het in die eerste week van Maart met 1,9% gedaal, maar dit is steeds 1,8% hoër teenoor pryse ’n jaar gelede.

Suid-Afrika voer die meeste van sy gewasse uit, terwyl plaaslike katoenpryse die beweging in internasionale katoenpryse volg. Die wêreldproduksie vir katoen is grootliks onveranderd, hoewel ’n daling in China weens die virus verwag word. “Dit is onwaarskynlik dat Suid-Afrikaanse uitvoer na die Verre Ooste nadelig geraak sal word, veral teen die agtergrond van die feit dat plaaslike uitvoer slegs 0,2% van die totale uitvoer na China verteenwoordig,” sê Botha. 

Oesskatting

Die tweede plaaslike amptelike katoenskatting dui op ’n oes van 146 743 bale vesel. Dit is ’n daling van 30% teenoor die skatting in die ooreenstemmende tydperk in die vorige seisoen. Dit is die eerste daling sedert die 2014-’15-seisoen, wat hoofsaaklik toegeskryf word aan ongunstige weerstoestande voor en ná planttyd, asook ’n tekort aan saad met planttyd. ’n Bykomende faktor was die relatief gunstiger mieliepryse aan die begin van die seisoen.