Dít is ’n afname van 30% teenoor 2018-’19. Volgens mnr. Mario Botha van Katoen SA sal dit die eerste daling sedert die 2014-’15-seisoen wees. Hy skryf dié neiging toe aan die ongunstige weerstoestande wat voor en ná planttyd geheers het, asook die tekort aan saad met planttyd.

Die oppervlakte onder besproeiingskatoen is 12 544 ha, sowat die helfte van die vorige produksieseisoen se 24 921 ha. Altesame 16 143 ha droëlandkatoen aangeplant teenoor 16 792 ha in 2018-’19.

Die verwagte opbrengs van die saadkatoen is 4,767 t/ha onder besproeiing en 1,042 t/ha vir droëlandkatoen.

Wêreldhandel

Op die internasionale front is die verwagting dat die wêreldhandel met 2% in die 2019-’20-seisoen sal toeneem, terwyl Chinese invoer nagenoeg 1,8 miljoen ton vesel sal beloop. Dít verteenwoordig ’n 14%-afname teenoor die vorige seisoen.

Vanweë die laer produksie deur van die vernaamste verbruikerslande soos Pakistan en Turkye sal die globale invoer na verwagting tot 9,4 miljoen ton in die 2019-’20-seisoen toeneem.

Katoenuitvoer van Brasilië na China, wat in die vorige seisoen weens die handelsgeskil tussen China en Amerika toegeneem het, sal na verwagting steeds teen ’n rekordvlak voortgaan.

Argentinië se katoenproduksie vir die 2019-’20-seisoen word op 358 000 ton beraam, wat ook uitvoergroei na China vir dié streek kan beteken.

Volgens Katoen SA se markverslag dui die internasionale katoenadvieskomitee se huidige prysvoorspelling van Cotlook se A-indeks vir die 2019-’20-seisoen op ’n prys van tussen 66 en 92 Amerikaanse sent per pond met ’n middelpunt van 80 Amerikaanse sent per pond (ongeveer R26,24/kg vesel). Gegewe die huidige fundamentele wêreldvraag en aanbod word verwag dat die prys van katoen in die 2019-’20-seisoen stelselmatig sal verstewig.