Die liggingsdifferensiaal vir koring is opnuut in die kollig. Op aanbeveling van Graan SA het die Johannesburgse Sekuriteite­beurs (JSE) die kommoditeitsmarkte-spesialis dr. Matt Roberts van die Amerikaanse Kermantle-groep, ’n konsultantegroep wat hom toespits op die bemarking van oliesade en graan, na Suid-Afrika laat kom om dit weer in oënskou te neem. Dit volg nadat Roberts ’n dekade gelede hier was op uitnodiging van Graan SA om die einste eienskap van plaaslike graanbemarking te bekyk. ’n Mosie is verlede jaar op Graan SA se kongres aanvaar om die liggingsdifferensiaal af te skaf.

“Ek is nie hier om die JSE, die handelaars, die produsent of die verbruiker te bevoordeel nie,” het Roberts op Graan SA se streekvergadering op Moorreesburg laat hoor. “Ek is hier om seker te maak dat jul kommoditeitsmarkte, en in dié geval veral koring, doeltreffend funksioneer. Ek wil hê julle moet egter verstaan dat as die JSE die doeltreffendste stelsel toepas, gaan almal in die waardeketting ’n toegewing moet maak.

Kontantmark gesoek

“My eerste indrukke is dat die liggingdifferensiaal nie die probleem nie. Die gebrek aan ’n gesonde kontantmark vir jul koring is die grootste probleem. Ek sal nog ondersoek moet instel, maar my vrees is dat as die liggingsdifferensiaal weggeneem word, gaan die prys van koring verder gaan val. Tans bied hierdie stelsel vir produsente ’n vloerprys. As daar ’n gesonde kontantmark was met deursigtigheid in onderhandeling sou die kans op ’n daling in die prys baie kleiner gewees het. Om egter te redeneer dat die skrapping van die liggingsdifferensiaal skielik ’n doeltreffende kontantmark vir koring sal meebring, is gevaarlik.”

Uit die gehoor het ’n boer van die omgewing, mnr. Hennie Visser, gevra hoekom die JSE se wolkontrakte sonder ’n liggingsdifferensiaal verkoop kan word.

Roberts het gesê daar bestaan ’n gesonde kontantmark vir wol in Suid-Afrika. Ongeag waar ’n boer is, daar sal ’n koper vir sy wol wees, en gesonde kompetisie en deursigtigheid sal ’n akkurate prys meebring, juis omdat Cape Wool die aanvaarde prys vir wol daagliks bekend maak.

Nóg ’n vraag uit die gehoor aan Roberts was die verskynsel dat al wat ’n graanhandelaar is, ’n vervoermaatskappy het. Dit is dus duidelik dat daar baie geld te maak is uit die vervoer van koring uit die Wes-Kaap.

“Dit is dalk waar, maar wat keer tien van julle boere om ’n kontrakteur te reël om jul ganse oes te vervoer van hier na die noorde en julle deel dan die winste wat uit die vervoer ontstaan?” was Roberts se teenvraag.

Prysverskille trek aandag

’n Vraag oor verskillende koringpryse in Suid-Afrika het Roberts se wenkbroue laat lig.

Die Safex-prys is die prys waarvolgens kontrakte op plaaslike koring uitgeneem word, maar koring wat ingevoer word, land teen ’n ander prys in Durban se hawe en dit word nie aan die liggingsdifferensiaal blootgestel nie. Dit bring mee dat koring dikwels goedkoper vanaf Argentinië en elders na Johannesburg ingevoer word as van die Wes-Kaap af.

Die probleem is nóg groter wanneer koring van Moorreesburg af na Kaapstad geneem word, waar dit verhandel teenoor koring wat na die Kaapse hawe ingevoer word. Roberts het die boer bedank vir die vraag en onderneem om dit verder te ondersoek.

Roberts sal al Graan SA se streekvergaderings bywoon en teen April sy verslag aan die JSE lewer. Enige kommentaar oor die liggingsdifferensiaal kan aan Roberts via Graan SA gelewer word. Stuur e-pos aan dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en -bemarking by Graan SA, by dirks@grainsa.co.za.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.