Mnr. Francois Joubert, besturende direkteur van Overberg Agri, het gesê dié onderneming tot beter kommunikasie op Graan SA se streekvergadering op Rietpoel is ’n geleentheid om “skoon te begin”.

Gebrekkige kommunikasie tussen boere wat gars op dro?land verbou, en die grootste plaaslike koper van moutgars, asook ongunstige klimaatstoestande kry die skuld vir die klein persentasie moutgars wat verlede jaar gelewer kon word, en die groot finansi?le verliese wat boere gevolglik gely het.

Boere wil so veel moontlik van hul garsoes as moutgars, en nie voergars nie, verkoop. In moeilike jare soos 2019 hoop hulle die koper kan toegewings maak en nie die gehalteperke so streng toepas nie.

Mnr. Josh Hamman, landbou-ontwikkelingsdirekteur van AB InBev Afrika, sê om toegewings te kan maak, moet hulle weet watter hoeveelhede hulle van elke kultivar kan verwag en ook wanneer hulle daardie inligting kan kry.

Nadat AB InBev verlede jaar min toegewings kon maak, het boere vir hom gesê in 2012, die vorige keer toe so ’n klein persentasie van die oes moutgraad was, kon hulle net die telefoon optel om probleme op te los.

Selfvoorsienend

Ironies genoeg, dit is AB InBev, en SAB voor hom, se poging om Suid-Afrika selfvoorsienend ten opsigte van moutgars te maak, wat nou sake bemoeilik. “In 2012 was net 9% van die gars moutgraad, maar ons het die meeste van die oes ingeneem. Ons kon dit doen omdat ons net 50% van ons mout plaaslik gekry het. Toe kon die vermoutingsaanleg die vermoutingsproses opstoot van 72 uur tot 120 uur sonder probleme. Ons kon die gars inneem en dit steeds inpas by ons prosesse.

“Die brouery het ook nie so ’n groot probleem gehad nie, want hy kon maklik die probleem met mout van ingevoerde gars verlig.”

Maar nou, ses jaar later, is Suid-Afrika selfvoorsienend ten opsigte van moutgars. “Die vermoutingsaanleg loop teen 98% van sy kapasiteit en ons moet aanhoudend die proses optimiseer en verkort. Nou kom daar probleme met ho?proteïengars, want daar is nie tyd om die prosesse aan te pas of te verleng nie. Dan raak toegewings moeilik,” sê Hamman.

Hy sê die geweegde gemiddelde totale stikstofinhoud (TN) van gars het stelselmatig toegeneem van 1,76% in 2015 tot 2% in 2019.

As die persentasies wat die geweegde gemiddelde opmaak, normaal versprei is, en die verskillende persentasies word afsonderlik opgeberg, kan hulle maklik toegewings maak. “Dan loop die gars vir ses of sewe maande deur die proses. Ons gee nie om om dan toegewings te maak nie, maar ons wil die gars met verskillende stikstofpersentasies apart hê.”

Wat volgens hom verlede jaar gebeur het, is dat boere en landboubesighede gars met verskillende stikstofinhoud vermeng het tot “net onder 2%” sodat dit as moutgars geklassifiseer word. “Nou lê 90% van ons gars op ’n vlak waar ons nie beweegruimte in die vermoutingsaanleg of brouery het nie.”

‘Praat met ons’

Mnr. Jose de Kock van Napier sê as dié situasie vroe?r aan hulle gekommunikeer is, kon die opbergers planne beraam het. “Ons was diep in oestyd toe was daar nog nie ’n antwoord op die tafel nie. Toe is dit vir die opbergers moeilik om planne te beraam om gars van verskillende stikstofvlakke apart op te berg.”

Mnr. Richard Krige, voorsitter van streek 27, het gesê hulle het inderdaad toegewings gekry nadat hulle op September se garsevalueringsvergadering gesê het daar gaan probleme met klippe in die monsters wees omdat die gars so kort is, ook probleme met stikstof en vetkorrel. Die toegewings was nie genoeg nie omdat hulle eers die omvang van die probleem met totale stikstof besef het toe boere gars begin lewer het.

“Ons moet beter kommunikasie tussen almal in die bedryf kry. Daardie 2019-grafiek wat so ongebalanseerd is, lyk so omdat kommunikasie gesloer het.”