Die Amerikaanse graanmarkkenner wat Suid-Afrika in Januarie en Februarie vanjaar besoek het om inligting in te win vir ’n verslag oor die termynmark vir graan, het weer aanbeveel dat die liggingsdifferensiaal behou moet word en dat deursigtigheid en mededinging in die mark verbeter moet word.

Dr. Matt Roberts, stigter van die Kermantle-groep, wat die verslag in opdrag van die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE) opgestel het, sê die Suid-Afrikaanse graanbedryf word steeds “geteister deur ondeursigtige en potensieel onmededingende” kontant-graanmarkte. Hy stel voor dat Graan SA en die JSE saamwerk om statutêre maatreëls af te dwing sodat inligting oor werklike graanpryse en vervoerkoste ingewin kan word.

Roberts moes vasstel of die aanbevelings van die verslag wat hy in 2009 vir die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) opgestel het, nog geld, en of die JSE dit moet oorweeg om die verwysingspunte te verander, aangesien verwerkingskapasiteit verander het. Hy moes ook ondersoek instel of ’n liggingsdifferensiaal ook vir sojabone moet geld, wat die JSE kan doen om deelname aan basisverhandeling (spot basis functionality) te vergroot en sodoende deursigtigheid van premies te verbeter, en wat gedoen kan word om die liggingsdifferen- siaal akkurater en doeltreffender te bereken.

Dr. Dirk Strydom van Graan SA en dr. Raphael Karuaihe van die kommoditeitsafdeling van die JSE was teen druktyd nie beskikbaar vir kommentaar op die verslag nie. Die verslag sit deeglik uiteen hoekom die liggingsdifferensiaal behou moet word, maar merk ook op dis duidelik dat die differensiale wat gekwoteer word, “selde, indien ooit, presies reg” sal wees.

Roberts glo egter as daar verpligte verslagdoening oor vervoertariewe in Suid-Afrika was, kon wiskundige modelle wat vir die werklike mark ingestel is, gebruik word om die differensiaal akkurater te bereken. Met die begin van termynmarkte is Randfontein, aan die Wes-Rand in Gauteng, in 1995 as verwysingspunt gekies omdat meer as 60% van die maalkapasiteit in Gauteng was. Deesdae is sowat 25% in Gauteng en is die grootste proporsie van die maalkapasiteit in die Vrystaat. Roberts sê ’n ondersoek is nodig om ’n beter begrip van die ekonomiese geografie van die graanbedryf in Suid-Afrika te kry. Totdat so ’n ondersoek afgehandel is, moet Randfontein die verwysingspunt bly.

‘SWAK INFRaSTRUKTUUR SOOS SAND IN RATTE’

Roberts het ook werk vir die groter bedryf in die verslag voorgestel. Dit behels onder meer dat die “Suid-Afrikaanse landbou- en kommersiële gemeenskap” hul pogings om die regering te oortuig om in vervoerinfrastruktuur te belê, moet verskerp. “Swak infrastruktuur is soos sand in die ratte van ’n masjien.”

Hy sê spoorvervoer het merkbaar agteruitgegaan in die kort tydperk sedert sy vorige verslag. Dit het ’n meetbare, ongunstige impak op die bestaan van boere en die bekostigbaarheid van kos gehad. Roberts stel ook voor dat die bedryf verpligte verslagdoening van graan- en vervoerpryse probeer instel, omdat plaaslike graanmarkte onder ’n “diepgaande gebrek aan deursigtigheid” gebuk gaan.

Hoewel dit sedert 2009 “ietwat” verbeter het, is dit nog ver agter wat ander internasionale markte betref. “Daarom sal ’n verpligting om alle kooppryse en hoeveelhede by ’n organisasie soos die Suid-Afrikaanse graaninligtingstelsel (Sagis) aan te meld, en die verspreiding van saamgestelde statistieke, markte in staat stel om werklike transaksies te verstaan en ondeursigtigheid te verminder.”

FOONTOEPASSING VIR KONTANTVERKOPE

Roberts beveel in sy verslag aan dat Graan SA inligting oor premies wat aan boere betaal word, inwin. “Graan SA behoort ’n foontoepassing te skep om inligting oor kontantgraanverkope in te samel en te versprei. Só ’n toepassing sal verslae oor fisiese graanverkope aanvaar, en inligting insluit oor die hoeveelheid, premie wat betaal is, die betrokke silo, koper en ander belangrike eienskappe.”

Dié data moet anoniem wees en beskikbaar gestel word aan diegene wat dit verskaf het. Suid-Afrika moet die inligting bekend maak om gedrag in die werklike mark bloot te lê, en moontlik ook om markmag teen te werk. Eindgebruikers is volgens Roberts té gekonsentreerd. Hulle is veral in die Wes-Kaap te min om doeltreffende mededinging te verskaf. Hy bedoel hiermee nie die kopers nie, maar die aantal meule en eindgebruikers.

Roberts stel voor dat deelnemers aan die koringmark saamwerk om die onsekerheid ten opsigte van die invoertarief te verminder. “Baie van die mense met wie ek gepraat het, sê die tydsberekening van veranderinge aan die tarief veroorsaak bykomende wisselvalligheid in die markte.”

Die hele bedryf moet ’n alternatief help vind wat die statutêre doel nakom. Dit moet op ’n deursigtiger en meer meganiese manier in werking gestel word om die mark te help om verwagte prysveranderinge geleideliker te inkorporeer. Belanghebbendes het tot Maandag 1 Julie tyd om kommentaar op die verslag te lewer en voorstelle te maak.

Die verslag kan hier gelees word.


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.