Op die oog af lyk dit of konvensionele mieliebasters se dae getel is. Nuwe tegnologie beskerm plante beter, maak bestuur makliker en gee beter opbrengste in sommige jare. Daarteenoor is konvensionele mieliesaad relatief goedkoper en boere kry ’n premieprys van kopers wat eerder nie geneties gemodifiseerde (GM) mielies in hul produkte wil gebruik nie.

Sommige boere het hierdie seisoen egter gevind konvensionele mieliesaad is nie altyd beskikbaar in die kultivars waarna hulle soek nie, en dit het die kommer laat ontstaan dat die dae van konvensionele mieliebasters getel is.

MARK SAL TOEKOMS BEPAAL

Mnr. Corné Louw, senior ekonoom vir insette by Graan SA, sê die vraag na konvensionele mieliesaad gaan uiteindelik die hoeveelhede van hierdie tipe saad bepaal.

“Dit gaan alles afhang van met wie jy praat. Jou groot tegnologiese saadmaatskappye sal dalk eerder GM saad produseer met konvensionele basters as toevlugsoord, terwyl kleiner saadmaatskappye hulle sal toespits op die konvensionele mieliemark,” sê hy.

In ’n verslag aan die Mielietrust het die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) gesê konvensionele mielies word hoofsaaklik in die ooste van Suid-Afrika aangeplant waar boere meer saad per ha aanplant as in die droër sentrale en westelike deel.

Die verslag wys daarop dat ’n sak saad van 20 kg met 60 000 sade genoeg is om 2,5-3,3 ha in die droër sentrale en westelike deel met mielies te beplant, terwyl dieselfde sak net genoeg sal wees vir 1,2-1,5 ha in die natter oostelike produksiegebied.

“Dit is waarom aansienlike nie-GM-mieliesaadverkope nie in soortgelyke hoë nie-GM-aanplantings weerspieël word nie,” luidens die verslag.

Die voordeel van mieliebasters met die geen teen Roundup-­onkruiddoder is dat onkruidbestryding makliker gedoen kan word. FOTO: CHARL VAN ROOYEN

KONVENSIONEEL SE WAARDE

Landbouweekblad het by vier van die grootste saadmaatskappye gaan uitvind hoe hulle konvensionele mieliebasters se toekoms sien.

Mnr. Nick Goble, besigheidsbestuurder by Pannar Saad, sê ’n noemenswaardige komponent van die maatskappy se mieliebasterverkope bestaan uit konvensionele mieliesaadverkope. “Dit is hoër as die gemiddelde konvensionele mieliebasterverkope in die land, wat dui op die maatskappy se bereidwilligheid om voort te gaan met die produksie en bemarking van hierdie basters.”

Hy sê met besigheid wat tot in die Soedan strek, is Pannar een van die grootste saadmaatskappye met ’n baie groot reikwydte in Afrika. “Onthou ook dat die res van Afrika, wat ’n sterk mark vir ons is, hoofsaaklik konvensionele mieliebasters aanplant.”

Mnr. John Odendaal, nasionale bemarkingsbestuurder van Pannar, sê konvensionele mieliebasteraanplantings beslaan 15-20% van die totale mielieaanplantings in Suid-Afrika. “Die mark is dus sterk genoeg om daarvoor te bemark. Pannar se plaaslike kiemplasma stel die maatskappy in staat om besonder goed aangepaste, konvensionele basters aan plaaslike boere beskibaar te stel.”

Goble wys ook daarop dat die metodologie tussen die oostelike en westelike mielieproduksiegebied verskil. Baie boere in die oostelike produksiestreek spits hulself op konvensionele mieliebasters toe om ’n premieprys te verkry, terwyl die westelike produksiestreek weer meer op GM basters toegespits is.

“Boere in die oostelike produksiestreek met sy tradisioneel hoër reënval, plant mielies ook teen ’n hoër plantestand aan, wat die bemarking van konvensionele mielies aantrekliker maak. Teel ons dus steeds konvensionele mieliebasters en gaan dit in die toekoms nog deel uitmaak van Pannar se beplanning en aanbod? Absoluut.”

Saad van GM mieliebasters kos veel meer as konvensionele mieliesaad. Odendaal skryf dit toe aan die tegnologie wat ontwikkel is en wat vir boere ’n groter voordeel inhou.

“As ’n reël spuit boere wat GM mielies aanplant, minder oesbeskermingsmiddels, gebruik minder meganisasie en het ook beter beskerming teen siektes en plae. Daarby moet tantieme aan die lisensiehouers van hierdie tegnologie betaal word. As deel van Corteva Agriscience sal ons voordeel trek uit nuwe teelmateriaal én nuwe tegnologie wat die maatskappy na die mark toe gaan bring.”

Goble se raad aan boere is om ’n pakket van mieliebasters te plant wat op hul plase werk. “Die voordeel van die bekende en groot saadmaatskappye is die integriteit wat hierdie maatskappye oor jare opgebou het en dat hulle hul produkte kan rugsteun. Proewe wat met verskillende mieliebasters uitgevoer word en wat stadig ingefaseer word, behoort potensiële probleme op te los.”

Konvensionele mielies in die Delmas-distrik, Mpumalanga. Hoewel die Suid-Afrikaanse mieliemark uit sowat 90% GM-aanplantings bestaan, meen saadmaatskappye daar bestaan steeds ’n sterk mark vir konvensionele mieliebasters. FOTO: GERRIT BEZUIDENHOUT

Op sy beurt sê Odendaal dat Pannar se plaaslike teelmateriaal saam met ander bronne ’n baie mededingende en betroubare produk vir Suid-Afrikaanse toestande lewer. “Konvensionele basters is natuurlik ’n belangrike deel daarvan. Trouens, konvensionele en Bt-mieliebasters se basis is eenders, wat beteken dat, na gelang van prestasie en beplanning, ’n konvensionele opsie van die Bt-platform beskikbaar sal wees.”

“Een van die groot voordele wat met die verkryging van Pannar verkry is, was ons spoor in Afrika en 60 jaar se plaaslike teling. Ons weet dus wat ons boere nodig het en ons het die antwoorde daarvoor. Solank ons boere konvensionele mielies aanplant, sal ons voortgaan om die saad wat hulle benodig, aan hulle te verskaf.”

Ook Pannar Saad se sustermaatskappy, Pioneer, sal voortgaan met die produksie van konvensionele mieliebasters, sê mnr. Emile van den Berg, gewasbestuurder by Pioneer Seeds Suid-Afrika.

“Die siening dat konvensionele mieliebasters gaan verdwyn, is eenvoudig nie waar nie. In elke kiemplasma wat Pioneer beskikbaar stel, is daar ’n konvensionele, Roundup-, Bt- en stapelgeenbaster. Dit is nie die konvensionele mieliebasters wat deur uitsterwing bedreig word nie, maar eerder die slegs-Bt-geen-platform, omdat boere die stapelgeenplatform verkies.”

Van den Berg wys daarop dat 99% van die westelike produksiestreek se mielieaanplantings uit stapelgeenbasters bestaan. “Konvensionele mieliebasters bly steeds vir ons baie belangrik en Pioneer sal graag in almal se behoeftes wil voorsien.” Die een groot haakplek is om te verseker daar is genoeg saad van al die verskillende platforms om in hierdie behoeftes te voorsien.

“Dit is die groot kwessie vir saadmaatskappye – hoe om ’n jaar vooruit reeds te weet wat die mark wil hê. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat boere wat voorheen slegs GM saad geplant het, nou konvensioneel toe swaai omdat konvensionele saad goedkoper is. Dit kan nie altyd perfek bepaal word nie, en daarom kom tekorte van spesifieke mieliebasters soms voor.

“Ons is darem ook nie heeltemal in die duister nie en gebruik historiese inligting, asook inligting wat deur ons streeksverteenwoordigers ingesamel word.

“Om elke jaar fisiek soveel saad oor só ’n wye reeks te produseer, is egter eenvoudig onmoontlik. Dit is uiteindelik maar markkragte wat die ding dryf, en die swaai is taamlik groot,” sê Van den Berg.

Veranderende bewerkingspraktyke maak ook ’n verskil namate boere oorskakel van konvensionele bewerkingspraktyke na praktyke soos minimum- of geenbewerking.

“Die hoeveelheid boere wat hul bewerkings omskakel, gaan natuurlik ’n impak op die produksiesyfers hê. Hoewel dit nie die enigste rede is nie, is ’n oorskuif na geenbewerking moontlik een van die bydraende faktore vir die kleiner vraag na konvensionele mieliebasters,” sê Van den Berg.

Hy sê die rol van die weer moet ook nie onderskat word nie, of dat boere dalk minimumbewerking wil toepas en onkruid meganies verwyder, waarna hulle konvensionele mieliesaad soek om aan te plant.

“Konvensionele mieliesaad sal dus nooit van die mark gaan nie. Amerika is nie baie konvensioneel georiënteerd nie, maar verskeie plaaslike boere keer terug na konvensionele mieliebasters, en ons moet daarby kan aanpas,” sê Van den Berg.

Mnr. Arthur Schröder, Bayer se markstrategiehoof vir Afrika, sê alle teling van mieliebasters vind op ’n konvensionele platform plaas. “Bayer gaan nie van konvensionele mieliebasters ontslae raak nie.

“Daar is ’n nis vir konvensionele mieliebasters in Suid-Afrika waar kopers slegs konvensionele mieliebasters wil bekom en Bayer wil beslis ook aan daardie mark deelneem.

Afgesien van die ingeboude Roundup Ready- en Bt-gene is konvensionele en GM basters grootliks dieselfde. Saadmaatskappye het dikwels ’n konvensionele én GM weergawe van dieselfde baster beskikbaar. FOTO: CHARL VAN ROOYEN

GM SE VOORDELE

Tog meen Schröder daar is veelvoudige voordele vir boere om GM mieliebasters te oorweeg. “Ons glo in die tegnologie wat ons bemark, met al die voordele van bygevoegde beskerming teen insekte, soos stronkboorder en herfskommandowurm.

“Met konvensionele mielies is daar altyd die gevaar dat bespuitings op die verkeerde tyd plaasvind of dat boere nie op die regte tyd in die lande kan kom om te bespuit nie, dat daar nie genoeg oorvleuelende beskerming gebied word nie, of dat die spuitprogram eenvoudig ontoereikend is vir die plaag wat bekamp moet word. In hierdie geval kan daardie ekstra beskerming wat GM mieliebasters bied, tot ekstra inkomste vir die boer lei.”

Die stapelgeenbasters is die gewildste in die Bayer-stal, terwyl die gewildheid van Bt-enkelgeensaad aan die kwyn is.

Schröder sê Roundup-enkelgeenmieliesaad sal altyd beskikbaar wees omdat toevlugsoorde vir insekte daarmee aangeplant moet word.

“Konvensioenele mielielyne sal steeds getoets word en ingesluit word by ons produkte, hoewel dit soms moeilik is om konvensionele mieliebastersaad to produseer weens die afsondering-afstande wat nodig is ten opsigte van GM. Daarom verkry ons soveel moontlik inligting van ons verteenwoordigers om die beste besluit vir produksie vir die komende seisoen te kan neem. Bayer sal altyd probeer om die mieliebasters wat boere op hul plase nodig het en wil koop, in genoegsame hoeveelhede te produseer, hetsy dit GM of konvensionele mieliesaad is.”

Wanneer ’n boer eers GM mieliesaad aangeplant het en die voordele daarvan gesien het, sal hy nie maklik weer teruggaan na konvensionele mieliesaad toe nie, meen mnr. Kobus Lindeque, hoof van saadbesigheid by Syngenta. Dié maatskappy, wat onlangs die koringsaadreus Sensako aangekoop het, gaan dus veel sterker op sy GM-bedrywighede konsentreer, volgens hom.

“Dit gaan daaroor dat ’n boer wat GM mieliesaad aangeplant het, net Roundup hoef te spuit en die onkruid verdwyn. Terselfdertyd hoef hy nie meer bekommerd te wees oor die uitwerking van stronkboorders op sy oes of dat hy in die klein tydgleuf moet spuit om stronkboorder doeltreffend te bekamp, soos wat die geval sou wees met konvensionele aanplantings nie.

“Ja, ’n boer kan na sy insetkoste kyk, want GM saad is duurder, maar wat ek agtergekom het, is dat boere eerder kleiner dele van hul plaas met GM beplant voor hulle besluit om die hele plaas weer met konvensionele mielies te beplant,” sê Lindeque.

Hy gee wel toe dat daar sekere bedrywe, soos babakos, is wat nog nie heeltemal gemaklik is met GM produkte nie en dus konvensionele mielieprodukte wil hê.

Hy sê dit is juis hierdie bedrywe wat die mark vir konvensionele mieliesaad nog lewend hou. “Saadmaatskappye teel vir daardie markte ook en ek glo konvensionele mieliesaadteling sal altyd daar wees. Die oorhoofse oogmerk met mieliesaadteling, wil ek sê, is egter 99% GM.

“Daar is ’n konvensionele mieliesaadkomponent en daar sal altyd een wees, maar as jy in Suid-Afrika ernstig kommersieel mielies wil verbou, moet jy ’n GM komponent hê. As jy gaan vir hoë opbrengste, skoon lande, topbekamping en minimale wurmskade, is GM die antwoord,” sê Lindeque.

Wat Syngenta se strategie behels, sê Lindeque die maatskappy is baie sterk gemik op die teel van GM mieliesaad, maar dat hy steeds ook konvensionele mieliesaad aan produsente kan verskaf.

“Syngenta besit onder meer die genetiese eienskap om herfskommandowurm by mielies te bekamp. Sodra dit finaal deur die registrateur goedgekeur is, gaan dit ’n aansienlike deel van ons saadaanbod uitmaak. Ons verkryging van Sensako beteken daar sal ook hier baie ernstig op GM gekonsentreer word.

“Ons sal na die verskillende lisensiërings kyk om ons aanbod te versterk. Per slot van sake help dit nie ’n boer het die mooiste mielie-oes, maar wurms en insekte vreet dit op nie,” sê Lindeque.

Hy sê die grootste bron van Syngenta se witmielieteling is die voormalige saadmaatskappy MRI, nóg ’n Syngenta-verkryging. “Dit is ’n baie sterk pa-en-seun-onderneming wat goeie genetiese materiaal van konvensionele witmielies teel. Dit is daardie genetiese materiaal waarby ons nou ook ’n GM komponent sal inbou.

“Afrika, wat sterk teen GM gekant is, is stadig maar seker besig om te verander, veral wat katoenaanplantings betref, maar dit gaan nog ’n tyd duur voor die vasteland GM mielies sal aanvaar. Syngenta se strategie is om te konsentreer op die produksie van GM mieliesaad wat plaaslike boere die beste opbrengste kan bied.”