'n Omvattende ondersoek na die winsgewendheid en mededingendheid van die koringbedryf toon dat daar oral langs die waardeketting ruimte vir verbetering is. Dringende veranderinge om die vrye mark behoorlik te laat werk en by die nuwe speelveld aan te pas, word voorgestel.

In die waardeketting vir Suid-Afrikaanse koring-tot-brood is daar tekens van monopolistiese gedrag, die potensiaal vir markmanipulasie, bewyse dat die bestaande klassifikasie- en tariefstelsels boere prysgewys aan die kortste end laat trek, oningeligte verbruikers, 'n tekort aan verteenwoordigende inligting en bepaald nog boere wat nie alle geleenthede benut nie.

Dit was van die belangrikste bevindinge van die ondersoek na die winsgewendheid en mededingendheid van koringproduksie in Suid-Afrika, met spesifieke verwysing na die Wes-Kaap, wat pas deur die universiteite van die Vrystaat, Pretoria en Stellenbosch asook die Wes-Kaapse departement van landbou bekend gestel is.

Dieverslag beveel onder meer aan dat die Suid-Afrikaanse stelsels vir tariewe en koringklassifisering en -gradering verander word om die koringbedryf in pas met die res van die wêreld te bring en boere meer regverdig te vergoed. Die funksionering van en vertroue in Safex as meganisme vir verskansing en prysvorming moet deur wysigings aan die stelsel verbeter word. Eweneens is dit nodig dat die organisasies wat boere in die waardeketting verteenwoordig, verander word om by die nuwe speelveld aan te pas, terwyl boere self verder moet diversifiseer en koste- en skuldbestuur opskerp.

In die deel van die ondersoek wat proff. Herman van Schalkwyk en Charl van Deventer van die Universiteit van die Vrystaat gedoen het, het 'n ontleding van die koring-aanbodkant getoon dat koringboere nie eintlik die prys van hul produk kan be-invloed nie. "Hoewel hulle kan baat vind as landboubesighede hul koring opgradeer, kom dievoordeel gewoonlik nie by hulle uit nie."

Vir die maal- en bakbedryf lyk die prentjie anders. Die verslag toon dat boere se aandeel in die broodverbruiker se rand van 'n derde in 1990/91 tot skaars 16 % gedaal het. Bakkers, kleinhandelaars en die staat se aandeel het gestyg. Só was die verskil tussen die produksiekoste van witbrood en die kleinhandelprys in Januarie 2002 byvoorbeeld 92 sent. Teen November 2004 het dit tot 168 sent gestyg. Hoewel meulenaars se aandeel minder as 10 % is, maan Van Schalkwyk en Van Deventer dat mense wat die verslag lees, moet onthou dat bakkerye in die besit van meulenaars ("plant bakeries") 48 % van die meel wat gebruik word, opneem.

Hulle skryf dat die verwerkers dit regkry om meel- en broodpryse hoog te hou ondanks skerp dalings in die koringprys. "Dit is ook duidelik dat die verwerkers meganismes het om hul wins te verhoog. Die feit dat daar min druk is op die marges van die groot maatskappye - soos weerspieël in hul jaarverslae - tesame met hoë pryse, dui op monopolistiese gedrag."

By die bekendstelling van die verslag op Elsenburg het Van Schalkwyk gesê meulenaars en bakkers het ander "interessante" maniere om hul inkomste per ton koring of meel te verhoog - iets waarop Suid-Afrikaanse verbruikers wat in die algemeen nie baie ingelig en gesofistikeerd is nie, nie bedag is nie. Hulle het byvoorbeeld gevind dat verbruikers op 'n per ton-grondslag meer betaal vir 'n brood van 700 g as vir een van 800 g. Eweneens is die meelverpakking van 1 kg per ton veel duurder as dievan 2,5 kg.

Van Schalkwyk en Van Deventer het ook bevind dat plaaslike boere onregverdig behandel word omdat die koring wat ingevoer word, nie aan die bak- en maalvereistes vir Suid-Afrikaanse koring voldoen nie.

Toetse wat die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) verlede jaar in opdrag van die Wintergraantrust gedoen het, toon dat koring wat van Amerika, Australië en Argentinië ingevoer is, wel aan die plaaslike graderingsvereistes vir die grade B1, B2 en B3 voldoen, maar ernstige tekortkominge toon wanneer dit aan bak- en maalvereistes, soos meelekstraksie, wateropname, deegsterkte en mengtyd, gemeet word. Selfs met die toegelate speling vir afwykings voldoen die meeste van die koring wat in 2003 en 2004 ingevoer is, nie aan die vereistes nie.

Van Schalkwyk en Van Deventer merk in die verslag op dat die groot deegsterkte van ingevoerde koring mengtyd verleng en heeltemal onvanpas is vir die Suid-Afrikaanse bakproses met sy kort gistingsproses. "Dit is moeilik om te verstaan hoekom die meulenaars sulke sterk koring invoer, welwetende dat dit onmoontlik is om plaaslik te gebruik."

Hoe laer die meelekstraksie van koring is, hoe minder meel word per ton uitgemaal. Kostegewys behoort dit dus vir meulenaars voordelig te wees om koring met die hoogs moontlike meelekstraksie-persentasie in te voer. Die SAGL se ondersoek toon die teendeel, wat Van Schalkwyk en Van Deventer tot die gevolgtrekking laat kom dat diekoring dalk ingevoer is om plaaslike pryse te verlaag.

Hoewel dit volgens Van Schalkwyk en Van Deventer moeilik is om 'n doeltreffender meganisme vir prysvasstelling as Safex daar te stel, is die plaaslike toekomsmark nie sonder probleme nie.

Hulle het gevind dat daar steeds baie deelnemers is wat nie weet hoe om vooruitkontrakte en opsies as strategieë vir bemarking en verkryging te benut nie en wat die mark boonop nie vertrou nie.

"Die voortdurende spekulasie oor die moontlike manipulering van die toekomsmark het 'n ongunstige invloed op die vertroue in en geloofwaardigheid van toekomsmarkte in Suid-Afrika."

Verder het die lewering van Argentynse koring agterdog laat ontstaan oor die deelname van groot rolspelers op Safex en dit lyk asof liggingsdifferensiale altyd dieselfde deelnemers benadeel. Hulle het ook gevind dat die likiditeit van ko-ring-, soja- en sonneblomkontrakte, spekulante van deelname weerhou.

Volgens Van Schalkwyk kan die liggingsdifferensiaal gebruik word om koringpryse te manipuleer. Daar word beweer dat koringkopers in die Wes-Kaap die vasstelling van R275/ton gebruik om pryse met boere te onderhandel, terwyl hulle die Spoornettarief van R230/ton gebruik om 'n laer prys by ander vervoerkontrakteurs te beding.

Die liggingsdifferensiaal bly 'n omstrede saak, grootliks omdat die vasstelling daarvan nie aan die vrye mark oorgelaat word nie (tabel 3).

Van Schalkwyk en Van Deventer sê as besluit word om die vasstelling van die liggingsdifferensiaal aan die mark oor te laat, moet dit op gestruktureerde wyse plaasvind om te keer dat nuwe geleenthede vir manipulasie en misbruik oopgaan.

Hulle beklemtoon dat die afskaffing van liggingsdifferensiale nie noodwendig hoër pryse vir die boere gaan beteken nie. Dit kan meebring dat vervoertariewe van oorskotgebiede na tekortgebiede erg wissel na gelang van die seisoen en die voorraadposisie in die onderskeie gebiede.

Invoer het gestyg

Die ondersoek na die winsgewendheid en mededingendheid van die koringbedryf het getoon dat die "kern" van die Suid-Afrikaanse koringbedryf gesond is omdat boere sedert 1996 goed by die gedereguleerde besigheidsomgewing aangepas het.

Tog was daar verskeie veranderinge. Die totale oppervlakte onder koring het sedert 1965 afgeneem tot minder as 1 miljoen hektaar, terwyl die opbrengs per hektaar toegeneem het - hoofsaaklik vanweë die onttrekking van marginale grond, beter kultivars en produksietegnieke. Die Vrystaat en Wes-Kaap dra elk 30 % tot die totale plaaslike koringproduksie by. Hoewel die totale koringverbruik toegeneem het tot sowat 2,6 miljoen ton per jaar, het die verbruik per kop sedert die 1990's tot minder as 60 kg gedaal.

Suid-Afrika het die potensiaal om in sy eie behoeftes te voorsien, tog het die land se vermoë om selfvoorsienend te wees ten opsigte van koring - uitgedruk as 'n indeks waar 100 heeltemal selfvoorsienend beteken - van 111,27 in 1997/98 tot 57,53 in 2003 gedaal. Dit het meegebring dat daar van Augustus 2003 tot Maart vanjaar meer as 1,6 miljoen ton koring uit Amerika, Australië, Argentinië, Duitsland, Engeland en Frankryk ingevoer is.

Ander tariefstelsel voorgestel

Die bestaande tariefstelsel is ondoeltreffend en bevorder nie die belange van boere, verwerkers of verbruikers nie. Aangesien dit betreklik groot veranderinge in die binnelandse koringprys moontlik maak, maak die huidige tarief ook nie die mark minder onseker nie.

In die verslag na die winsgewendheid en mededingendheid van die koringbedryf word 'n nuwe wisselende tariefstelsel voorgestel - een wat wêreldpryse én die verhouding tussen die rand en dollar in berekening bring. Volgens een van die opstellers van die verslag, prof. Johan Kirsten van die Universiteit van Pretoria, word die voorgestelde tariefstelsel gegrond op die beginsel dat die tarief gelyk is aan die verskil tussen die wêreldverwysingsprys (in rand) en die geweegde maandelikse invoerprys (in rand) van die maalkoring wat ingevoer word. Die impak van subsidies in ander lande word ingereken deur die verwysingsprys met 14 % te verhoog. Dit verhoog die huidige verwysingsprys van $157/ton (R953,91/ton teen R6,08c = $1) tot $179 per ton (R1 086,38/ton).

Die pryse van ingevoerde maalkoring is 'n geweegde gemiddelde prys van koring uit Australië, Argentinië, Amerika en Duitsland - elk met 'n gewig van 25 %. Dit beteken as die Argentynse prys drasties daal, die geweegde invoerprys vir daardie spesifieke maand sal daal en 'n hoër tarief tot gevolg sal hê.

Aangesien ernstige tekortkominge gevind is in die manier waarop en tydsverloop totdat tariewe huidiglik inskop, stel die opstellers voor dat die nuwe tarief elke maand, op die derde Vrydag van die maand, in die Staatskoerant gepubliseer word.

Die voordele van die voorgestelde stelsel is dat dit op die rand gegrond is, die prysvlakke van die vier groot invoerlande in berekening bring en boere teen baie lae pryse asook verbruikers teen "supertariewe", beskerm. Daarbenewens gee dit beskerming wanneer nodig, op voorwaarde dat die aanpassings gereeld gemaak word, en sal die impak op broodpryse minimaal wees - 'n styging van 1,77 %.

Die verslag waarsku egter dat, sou die veranderde tariefstelsel in werking tree, daar sekere nadele is:

  • Dit sal die binnelandse koringprys verhoog wat boere sal aanmoedig om meer te produseer en veroorsaak dat die Safexprys nie met soveel soos die vlak van die tarief toeneem nie.
  • Die welvaartverlies in die ekonomie - die netto uitwerking van die voordele vir koringboere en die verliese in die res van die ekonomie en vir verbruikers - word op R254 miljoen beraam.
  • Hoewel tariefverhogings indiensneming verhoog in die provinsies waar koring verbou word, veroorsaak dit 'n netto afname in indiensneming reg deur die nasionale ekonomie.
  • Die staatsinkomste sal, ondanks die hoër tarief, daal omdat die tariefinkomste daal namate invoer afneem.
  • Tog toon die verslag dat nie een van die gevolge groot is vergeleke met die Suid-Afrikaanse ekonomie nie, selfs as hulle teen baie hoë tariefvlakke gemeet word.

    Nuwe grade en klasse bring voordele

    Die bestaande stelsel van koringgradering en -klassifikasie werk nie goed nie, en dra by tot onregverdige praktyke en lae pryse, het proff. Herman van Schalkwyk en Charl van Deventer bevind in hul ondersoek na die winsgewendheid en mededingendheid van die koringbedryf.

    'n Beter en regverdiger bedeling vir die hele bedryf word in die vooruitsig gestel deur voorgestelde veranderinge aan die stelsels vir gradering en klassifikasie.

    Trouens, met koringklasse wat vergelykbaar is met dievan die lande waarvandaan koring na Suid-Afrika ingevoer word, moes plaaslike koringpryse R230/ton tot R660/ton hoër gewees het (tabel 5).

    Die afgelope paar jaar het Argentynse Trigopan, waarvan die gehalte nie vergelykbaar is nie, die maatstaf vir plaaslike pryse geword.

    Die hardheid van koring is een van die belangrikste faktore wat die gehalte en bruikbaarheid daarvan vir maal- en bakdoeleindes bepaal. Die belangrikheid daarvan vir eindgebruikers word in verskeie oorsese lande erken.

    Hulle stel die volgende koringklasse - gegrond op hardheid en die gebied waar dit geproduseer word en vergelykbaar met die koringklasse van die belangrikste invoerlande - voor:

  • Broodkoring: Cape Hard Red Spring (CHRS), in die Wes-Kaap geproduseer; Hard Red Winter (HRW), in die Vrystaat geproduseer; Northern Hard Red Spring (NHRS), in die noordelike besproeiingsgebiede geproduseer.
  • Koekiekoring (sagte koring): Soft White Spring Wheat (SWS) - die Loskop-besproeiingsgebied is die beste produksiegebied, maar sagte koring met 'n lae proteïeninhoud sal ook goed aard in die Rooi Karoo-gebied in die Swartland.
  • Durum (pastakoring): Sowat 15 000 ton - die helfte van plaaslike vraag - word in Suid-Afrika geproduseer. As daar behoorlike graderings- en klassifikasievereistes opgestel word, kan dit geleenthede vir klein meulenaars en boere inhou.
  • Van Schalkwyk en Van Deventer stel voor dat die klas "Ander" uit die plaaslike klassifikasiestelsel verwyder word omdat dit 'n agterdeur vir die invoer van goedkoop koring van 'n lae gehalte oopmaak en gebruik kan word om binnelandse pryse te manipuleer.

    13 Mei 2005