Die ware omvang van die rypskade wat in die koring se blomtyd einde Oktober in die omgewing van Douglas, Hopetown, Orania, Jacobsdal, Modderrivier en Koffiefontein voorgekom het, sal na verwagting teen 19 Desember in die vyfde oesskatting verreken word.

Mnr. Gerhard Bruwer van die Genadeboerdery by Hopetown en Douglas se beraming van die skade oor ’n wye gebied is 20% tot 30% van die verwagte koringoes waarvan die are nie behoorlik ontwikkel het nie.

Daar is sprake van produsente by Koffiefontein wat ’n totale misoes het, terwyl die koring in die omgewing van Prieska minder skade opgedoen het.

Mnr. Luan van der Walt, ’n ekonoom van Graan SA, sê rypskade van tot 30% kan die Noord-Kaap se verwagte koringopbrengs tot net meer as 190 000 ton laat afneem wanneer die Nasionale Oesskattingskomitee sy vyfde wintergraanskatting binnekort bekend maak.

Die vierde produksieskatting in November was 273 750 ton oor ’n oppervlak van 37 500 ha in die Noord-Kaap. Die gemiddelde opbrengs per hektaar was toe ’n geskatte 7,3 ton.

Die gemiddelde koringproduksie in die Noord-Kaap die afgelope vyf jaar is 283 000 ton, wat bykans ooreenstem met die Oktober-oesskatting. Sedertdien het ongunstige produksietoestande soos uitermatig hoë dagtemperature en droogte sy tol geëis, wat die verwagte opbrengs van 7,65 t/ha (gemiddelde werklike lewering oor vyf jaar) tot die geskatte 7,3 t/ha (November-skatting) laat afneem het.