Te midde van aanduidings van ’n beter koringproduksieseisoen, dui die eerste plantvoorneme op ’n toename in die beoogde koringaanplantings. Plaaslike prysvooruitsigte lyk stabiel, wat aangedryf word deur internasionale markfaktore. Die wisselkoers gaan ’n deurslaggewende rol speel, aangesien ’n versterkende rand die invoertariefformule op koring en die omskakeling van die internasionale dollarprys na rand beïnvloed.

Die grootskaalse uitslag van varke in China weens die uitbreking van Afrika-varkpes het die internasionale vraag na voergraan skerp laat daal. Pryse op die Chicago-graanbeurs het vanjaar reeds met bykans 30% gedaal. Suid-Afrika gaan in 2019-’20 na verwagting ’n netto invoerder van koring bly, en die plaaslike koringprys sal grootliks bepaal word deur die invoerprys.

Die plantvoorneme wat middel April deur die departement van landbou, bosbou en visserye bekend gemaak is, dui op ’n toename van 2% in oppervlakte, tot 513 450 ha. Dit sal ’n invoerbehoefte van sowat 1,2-1,4 miljoen ton koring laat, wat hoofsaaklik uit die Swartseelande ingevoer word.

Daar is aanduidings dat die oppervlakte onder koring in die Vrystaat heelwat kan uitbrei op onbeplante mielielande en lande wat genoeg vog opgegaar het met die laat reën in Maart, April en selfs Mei. Dit verbeter die kans op ’n goeie Vrystaatse oes aansienlik.

Die Vrystaat was voorheen ’n belangrike produksiegebied vir droëlandkoring, maar weens ’n aantal droë jare was dit nie moontlik om koring te verbou nie. Gebrekkige kontantvloei dwing somersaaiboere om koring aan te plant om te vergoed vir duisende hektaar mielies en sojabone wat in dele van die Vrystaat nie aangeplant kon word nie.

Sowat 100 000 ha lande in die Vrystaat is volgens my berekeninge beskikbaar vir koringaanplantings. Daar is skynbaar ook nie meer saad vir droëlandkoringkultivars beskikbaar in die Vrystaat nie. Saaiboere wat met die goeie grondvog gaan koring aanplant, is vol vertroue dat hulle wel ’n redelike opbrengs sal kan behaal, met ’n aanvaarbare winsmarge. Groter oeste in die Vrystaat beteken dat minder koring deur die Durban-hawe ingevoer moet word.

Heelwat geelmielies sal egter in die komende jaar deur die Kaapse en Durbanse hawens ingevoer moet word. Verlede jaar is mielies hawe toe vervoer (uitvoer) en koring na die binneland. Vanjaar gaan die vervoer hoofsaaklik na die binneland wees, wat kosteverhogings veroorsaak omdat vragmotors leeg na die hawe ry.

Wêreldmarkte is onstabiel, veral weens pres. Donald Trump van Amerika se voortslepende bekgeveg met China oor handel en dreigemente van tariefaanpassings, wat deels toegepas word. Dit ontwrig die vloei en meegaande pryse van landbouprodukte wêreldwyd.

Internasionale koringmark en pryse

Die stygende verloop van die voorraad koring op die internasionale mark en die meegaande jaarlikse (dalende) dollarpryse word in grafiek 1 getoon. Internasionale koringproduksie sal na verwagting in 2019-’20 met meer as 5% styg, volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie. Die verwagte oes is 767 miljoen ton.

Die grootste toenames kom uit Australië en veral die Europese Unie (EU) en die Swartseelande. Suid-Afrika se koringinvoer kom hoofsaaklik uit die EU en die Swartseelande, en hul pryse is laer as plaaslike pryse en Amerikaanse pryse van harde rooikoring (hoë gehalte) waarop die plaaslike tariefformule gegrond word. Die Swartseelande voer nou meer koring as Amerika uit, teen laer pryse.

Omdat die dollar boonop sterk is, sukkel Amerikaanse boere om mededingend uit te voer. Dit beteken die Swartseelande neem die markruimte weg van Amerika, waar koring dan ophoop. Die groter voorraad het ’n nadelige uitwerking op pryse op die Chicago-graanbeurs. Die dalende dollarprys van graan in Amerika is besig om Amerikaanse saaiboere te knou.

’n Stygende rentekoerspatroon en dalende graanpryse het laer grondpryse tot gevolg, wat finansiële druk op boerderye plaas. Die vooruitsig dat dollarpryse van koring op die internasionale mark kan styg, lyk nie goed nie. Die beste waarop gehoop kan word is dat pryse sywaarts beweeg, met ’n redelike risiko dat pryse verder kan daal.

Invoertariefformule en plaaslike prys

Die invoertarief op koring word op ’n glyskaal bereken. Ingevolge die handelsooreenkoms met die EU kan 300 000 ton koring jaarliks tariefvry vanaf die EU ingevoer word. Die kwessie is dat daar skynbaar heelwat ongerymdhede plaasgevind het in die vorige toekennings van die volume aan invoerders.

Omdat die koringinvoertarief die afgelope jaar of wat tót R938/ton beloop het, gee dit ’n groot voordeel aan die maatskappye aan wie die invoerregte toegeken word. Dit geskied gewoonlik in Februarie of Maart van ’n betrokke jaar. Afgesien van die ondeursigtige wyse waarop dit toegeken word, is daar ook vermoedens dat die voordeel van die tariefvrye koring nie na verbruikers deursypel nie. Daar is voortdurend pogings om die proses deursigtiger te maak.

Die formule waarvolgens die tarief bereken word, bepaal dat indien die prys van harde rooikoring in Amerika tot onder $279/ton (R3 950/ton, vry aan boord in die Amerikaanse hawens in die Golf van Mexiko) daal, die verskil plaaslik aangevul word met ’n invoertarief wat uiteraard na rand omgeskakel word. Die invoertarief wissel dus na gelang van die internasionale koringprys en die rand-dollar-wisselkoers.

Plaaslike koringboere het dus beskerming teen dalende internasionale pryse, soos wat tans die geval is. In Mei is ’n tarief van R490,70/ton in die Staatskoerant afgekondig. Die berekende tarief was egter op dié stadium reeds sowat R938,26/ton. Die hoër tarief kon nie ingestel word nie weens laksheid van die betrokke departement. Die gesloer met die aanpassing van die invoertarief ontwrig dus die hele mark.

Aanplantings en invoer

Die verloop van plaaslike koringaanplantings en -oeste word in grafiek 2 getoon, asook die binnelandse verbruik, wat stadig toeneem. Suid-Afrika voer jaarliks van 1 miljoen ton tot 2 miljoen ton koring in om in die plaaslike vraag te voorsien. Die binnelandse prys is dus afgelei van die invoerprys, wat deur Amerikaanse pryse en die rand-dollar-wisselkoers bepaal word.

Die invoertarief dien as ’n skokbreker wat binnelandse produsente beskerm teen die voortdurende dollarprysdalings. Die dollarprys van Amerikaanse harde rooikoring het vanjaar reeds met sowat 30% gedaal, wat nie ten volle deurgewerk het na die plaaslike prys nie. Die dalende invoerprys word in grafiek 3 aangetoon, saam met die plaaslike Safex-prys (Randfontein), wat die tarief insluit.

Die binnelandse prys is dus die afgelope jaar sowat R4 400/ton (met Randfontein as basis). Die Wes-Kaap lewer egter ’n surplus koring vir die streek se maalvermoë en bykans die helfte van die Kaapse koring word na die noorde vervoer om daar gemaal te word. Boere in die Wes-Kaap verdien dus heelwat minder vir hul koring as wat die Safex-prys (Randfontein) is. Dit plaas aansienlike druk op die Wes-Kaapse koringboere om doeltreffend te boer.

Die res van Suid-Afrika se koring word meestal onder besproeiing verbou, waar stygende elektrisiteitskoste en beurtkrag struikelblokke is. Plaaslike saaiboere moet hulle staal vir erge dalings in internasionale graan- en oliesaadpryse. Veral in lande wat na China uitvoer, kan ’n redelike opeenhoping van voorraad verwag word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.