As die graderingstelsel met sy aangepaste proteïenvlakke (sien tabel onder) deurgevoer word, sal dit makliker vir produsente wees om ’n goeie graad te behaal, sê dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en -bemarking by Graan SA.

“Gradering gaan meer vergelykbaar wees met die koring wat ingevoer word. Boere gaan ook aan die kostekant voordeel trek. Dit gaan nie nodig wees om so baie stikstof toe te dien om proteïen te kry nie.”

Die voorgestelde veranderinge (sien tabel onder) sluit ’n supergraad in met ’n proteïeninhoud van 12,5%, waarvoor boere hopelik ’n hoër prys sal kry. Koring van graad B1 bly die prysbasis, maar B1 se proteïenvereiste is van 12% na 11,5% verlaag. ’n Hektolitermassa van 76 kg sal vir die supergraad, B1 en B2 geld.

Die voorgestelde veranderinge aan die graderingstelsel kan boere se mededingendheid verhoog.

Strydom sê die koringforum hoop om die veranderinge in 2019 in werking te stel. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye moet die veranderinge egter eers goedkeur, waarna dit in die Staatskoerant gepubliseer moet word en die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye dit moet afkondig.

Volgens ’n berig op Graan SA se webwerf sal die koringforum die JSE in kennis stel van die voorgestelde veranderinge. Aangesien die voorstel van die koringforum kom, moet die JSE eers sy markspelers daaroor toets.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.