Die tarief wat op 12 Maart op R675/ton geaktiveer is, is op 24 Mei in die Staatskoerant afgekondig. Om dinge verder te kompliseer, het ’n hoër tarief van R958/ton op 14 Mei geaktiveer.

Mnr. Cobus du Plessis, senior bestuurder van graanverhandeling by Kaap Agri se Wesgraan-afdeling, sê die gesloer met die afkondiging van die hoër tarief het heelparty ongunstige implikasies.

“Dit beteken dat invoerpariteitsberekeninge moeilik is omdat niemand weet watter invoertarief om te gebruik vir wanneer nie.

“Die mark verloor spekulatiewe belangstelling in koring omdat die risiko van verkeerde prysbepalings net te hoog raak.”

Hy sê verder boere se bemarkingsgeleenthede gaan verlore omdat geleenthede vir beter pryse nie ’n werklikheid word nie vanweë die ongereelde afkondigings van die hoër tariewe.

“Die invoertarief vir koring is geskoei op ’n deursigtige formule en die afkondiging daarvan in die Staatskoerant behoort bloot ’n formaliteit te wees. Indien dit nie so gedoen kan word nie, verhoog die risiko vir alle betrokkenes in die waardeketting.”

Vererger prysdruk

Dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en -bemarking by Graan SA, sê hulle het met die owerhede gepraat om die nuwe tarief so gou moontlik afgekondig te kry. Hulle het alle dokumentasie betyds ingedien, maar weet nie hoekom daar so gesloer is om dit af te kondig nie.

Strydom sê ook die gesloer met die afkondiging van die hoër tarief veroorsaak dat invoer teen laer pryse plaasvind.

“Ons het in die verlede gesien as daar so met die afkondiging gesloer word, is invoer geneig om te styg. Dit maak dat ons al in die verlede meer ingevoer het as wat ons nodig het. Dit plaas druk op die plaaslike fisieke prys en moontlike basispremies wat betaal sou word.”

Strydom sê onsekerheid oor tariefafkondiging skep ook onsekerheid op die verhandelingsplatform en veroorsaak laer likiditeit in die mark.

“Dit maak dit vir deelnemers moeilik om posisies in te neem en pryse vas te teken.”


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.