Teen gister was dit 105 werksdae sedert die nuwe tarief op 24 Maart geaktiveer is.

Die tarief op ingevoerde koring is steeds R516,60 per ton, al moes dit op 24 Maart tot R832/t gestyg het.

Dr. Dirk Strydom, bestuurder van ekonomie en bemarking by Graan SA, sê hulle verstaan nie wat die oponthoud is nie.

“Ons het die staat dadelik in kennis gestel en is sedertdien met hom in gesprek. Die minister het toe gesê hy sal die nuwe tarief deur die proses sit, maar ons het nog nie daaroor terugvoer gekry nie.

“Al die regte mense is daarvan bewus dat dit tyd is om die nuwe tarief af te kondig.”

Die laer internasionale koringprys wat die verhoogde tarief geaktiveer het, is as gevolg van groot oeste in die voorste koringuitvoerlande, ’n groot oordragvoorraad en ’n laer vraag na koring vanweë koronavirusbeperkings.

'Kan nie beplan nie'

Mnr. Dirk Lesch van die plaas Elim by Malmesbury sê die implikasies van die nie-afkondiging van die nuwe, hoër tarief is dat boere nie behoorlike bemarkingsplanne kan opstel nie.

“Ons leef reeds met onsekerheid, en nou kom prysonsekerheid ook by. Dít nadat Safex veronderstel was om pryssekerheid in die waardeketting te bring.”

Lesch sê die onsekerheid veroorsaak wanbalanse in vraag en aanbod in Suid-Afrika omdat oormatige invoer gedoen word om die invoertarief te vermy of die laer pryse te benut.

“Eintlik is dit net ’n gemors omdat niemand, nie boere, meulenaars of bakkers, enige prysbeplanning kan doen nie. Dit verhoog almal se risiko.”