“Die vroeë mielies het nie baie hoog gegroei nie en hulle het nou net begin saad skiet. Ons sal waarskynlik ’n ondergemiddelde oes daarvan kry.”

Die mielies wat in die nuwe jaar geplant is, het vroeg in Februarie reën gekry. Volgens De Villiers lyk dié mielies op die oomblik mooier as die vroeë aanplantings. Hy sê op die meeste plekke in die weste het daar darem minstens 20 mm geval. Daar is sekere streke wat twee of drie goeie opeenvolgende buie gehad het wat selfs tot 80 mm op ’n slag gelewer het.

“Die boere is net regtig bekommerd oor die waarskynlikheid van rypskade. Daar was twee baie warm weke ná die mielies net begin opkom het. Toe gaan staan die mielies stil en nou is boere bang dat die laat aanplanting en stadige groei die risiko skep dat die mielies ryp kan kry.”

Hy sê die hoeveelheid hektare wat volgens die Oesskattingskomitee se plantvoornemens aangedui word, is beplant. “Maar die opbrengs is moeilik om te bepaal en gaan verskillend lyk vir vroeë en laat aanplantings,” sê De Villiers.

ONDERGEMIDDELD

Graan SA het die afgelope weke streekvergaderings in die somersaaigebiede gehou en De Villiers sê boere voorspel vanjaar ’n ondergemiddelde oes, met ’n gemiddelde opbrengs van sowat 3,5 ton per ha. Hy self meen egter dit sal waarskynlik beter lyk. “Die ouens is net tans nie baie optimisties nie – maar ek dink die laat mielies gaan spoed kry en ons dalk verras.”

Oor sonneblomaanplantings sê De Villiers daar is boere wat selfs nou nog plant, wat werklik baie laat is. “Die boere is eenvoudig só desperaat nadat hulle die lande voorberei en die saad gekoop het, dat hulle voel hulle móét plant, al is dit laat.” Hy meen die oppervlakteskatting vir sonneblomme kan danksy hierdie laat aanplantings styg.

Die sojaboonaanplantings, veral in die ooste, lyk egter nie vanjaar belowend nie. “Die sojabone sukkel en ek weet nie regtig wat die rede daarvoor kan wees nie.” Daar is tans ’n surplus sojabone, dus kan ’n laer opbrengs vanjaar dalk dié oorskot help wegwerk.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.