Al die belanghebbendes in die grondboonmark moet, waar hulle kan, saamwerk om die probleme in die bedryf die hoof te bied. “Ons moet probeer om die belanghebbendes nader aan mekaar te kry,” het mnr. Luan van der Walt, ekonoom van Graan SA en sekretaris van die grondboonwerkgroep, tydens die organisasie se jaarkongres gesê.

RCL Foods het die groep toegespreek oor die probleme wat hy ten opsigte van die grondboontjiebottermark beleef, asook oor die aansoek om ’n invoertarief op grondbone wat hy namens die bedryf by die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) gaan indien om die bedryf teen invoer te beskerm.

Mnr. Ted Clark van RCL Foods, ’n groot belanghebbende in die mark, het tydens die sessie aangedui dat die maatskappy onder groot druk verkeer omdat ongeveer 40 000 ton grondbone vanjaar met ’n invoertarief van 10% ingevoer word, terwyl grondboonbotter sonder ’n invoertarief ingevoer word. RCL Foods moes die afgelope paar seisoene tot 80% van sy grondbone invoer weens die swakker plaaslike oeste wat onder meer die gevolg was van droogtetoestande.

Me. Cornelia Laubscher van RCL Foods sê Suid-Afrika se mark vir grondboontjiehouers van 400 g het met 4% afgeneem en die mark vir houers van 1 kg het met tot 50% gegroei. Die markaandeel van 400 g-houers waarvan die handelsmerk deur handelaars self besit word – waarvan die meeste ingevoer word – het die afgelope twee jaar met 5% gegroei.

Internasionaal neem die gebruik van grondbone toe weens veral gesondheidsredes, maar in Suid-Afrika is verbruikers steeds meer toegespits op waarde vir geld.

Laubscher sê invoer van grondboonbotter geskied teen pryse waarmee plaaslike maatskappye nie kan meeding nie. Houers van 400 g word tans teen omtrent R13 per houer ingevoer. “Vir ons om teen sulke invoer te kan meeding, moet die prys van skoongemaakte grondbone sowat R17 000/ton wees.”

Van der Walt sê weens die gebrek aan ’n deursigte prysmeganisme word plaaslike pryse bepaal volgens die aanduidings wat die bedryf kry van invoer- en uitvoerpariteitspryse.

Die invoerpryse van gedopte grondbone wissel tussen R27 000/ton en R29 000/ton, terwyl die invoerpariteitsprys vir produsentevoorraad tussen R21 000/ton en R23 000/ton wissel, afhangend van waar af dit ingevoer word.

Weens die swak gehalte van die grondboonoes in Amerika en die huidige rand-dollarwisselkoers word skoongemaakte grondbone teen pryse van tot R28 000/ton ingevoer, vergeleke met R20 000/ton verlede jaar, sê Clark.

Dit is een van die redes hoekom RCL Foods die tariefaansoek namens die bedryf teen April 2020 gaan indien.

‘Ongelooflik belangrik’

Mnr. Gerhard Bruwer, voorsitter van die werkgroep, sê die instelling van ’n invoertarief op grondbone “is ongelooflik belangrik”. Dit is belangrik dat die onderskeie belanghebbendes met verwerkers om ’n tafel sit om kwessies en bekommernisse te bespreek. “Kom ons wees eerlik, as dinge nie reg loop met die volgende paar oeste nie, gaan dit dalk verby wees vir dié bedryf.”

Volgens ’n waardekettingstudie wat die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) verlede Augustus oor die grondboonbedryf gedoen het, vervul die grondboonwaardeketting ’n belangrike rol ten opsigte van werkskepping. Luidens die verslag skep dié waardeketting werk vir ongeveer 3 660 mense, wat meer as 14 000 afhanklikes het. Klik hier om die volledige verslag te lees.

Tydens die vergadering het grondboonprodusente ingestem dat ’n aansoek ingedien kan word by die Suid-Afrikaanse kultivar- en tegnologie-agentskap (Sacta) vir ’n tegnologieheffing van R46/ton grondbone. Sacta vorder die heffing in en bestuur ook die geld.

Die doel van die heffing is om saadmaatskappye aan te moedig om nuwe kultivars met gevorderde saadtegnologie op die plaaslike mark beskikbaar te stel.

Luidens die nuutste verslag van die Oesskattingskomitee word die verwagte grondboonoes van die 2019-’20-seisoen op 54 390 ton geskat, wat 180,36% of 34 990 ton meer is as die 19 400 ton van die vorige seisoen. Die oppervlakteskatting is 37 500 ha, wat 87,03% of 17 450 ha meer is as die 20 050 ha wat verlede seisoen beplant is. Die verwagte opbrengs is 1,45 t/ha.