Hy kon die belangrikheid van grondbalans, plantdatum en die deurlopende ontleding van plantmonsters nie genoeg beklemtoon nie. Dit is al hoe jy verstaan wat in jou lande gebeur — en hoe jy risiko’s die beste kan bestuur. 

Geen besluit wat mnr. Randy Dowdy neem, word aan toeval oorgelaat nie. Die gereelde en tydige neem van grondmonsters, die vaslegging van plantdatums en die toetsing van produkte se prestasie tot op die laaste molekule is wat aan hom die kroon as wêreldsojakoning besorg het. Hy boer in die deelstaat Georgia in Amerika.

“Een van die belangrikste faktore om te bepaal is hoeveel voedingstowwe, makro- én mikro-elemente, dit gaan kos om ’n bepaalde opbrengs te lewer. Die opname van voedingstowwe beteken alles.

“Wat saak maak, is watter voedingstowwe in die plant is. En die enigste manier om te bepaal watter voedingstowwe aan die plant beskikbaar gaan wees, is deur gereeld te toets,” het hy op Bethal in Mpumalanga gesê. Dit was een van vier lesings wat hy in Suid-Afrika aangebied het.

“Weet jy wat die samestelling van en die hoeveelheid voedingstowwe in jou grond is, of hoop jy net dit is daar?” het Randy gevra. Hy het gesê Suid-Afrikaanse boere is op die regte pad deur jaarliks grondontledings te laat doen.

“Party Amerikaanse boere laat hierdie ontledings selfs tot vier jaar uitmekaar doen en hulle kyk nie eens na mikrovoedingstowwe in die grond nie.

“Ek wil weet wat ons doen, ek wil weet waarom ons spesifieke resultate kry en of ons genoeg beskikbare voedingstowwe in die grond het.

“Die belangrikste benadering moet wees dat ons die faktore wat binne ons beheer is, soos grondgesondheid, voedingstowwe, en die produkte wat ons gebruik, na die beste van ons vermoë moet bestuur. Dit is sodat ons die invloed van onbestuurde risiko’s kan verklein.”

Mnr. Randy Dowdy het by vier geleenthede ’n groot aantal boere in Suid-Afrika gelok, onder meer op Bethal.

Herstel die balans vir beste resultate

Randy het onder meer gesukkel met grond wat baie verskil het – tot agt verskillende tipes grond in een land. “As die voedingstowwe hoër is in plante waar jy ’n beter opbrengs kry, maak dit mos sin om jou grond se vlakke op ander dele op dieselfde vlak te probeer kry.” ’n Manier om dit te herstel is die gebruik van hoendermis.

“Dit is egter moeilik om konstant toe te dien en die beskikbaarheid daarvan wissel ook. Mis het ook ’n hoë stikstofinhoud en dus het ons dekgewasse geplant, met die idee dat die dekgewas al die stikstof sal opgebruik. Daarna spuit ons die dekgewasse dood en plant sojabone. Die dekgewasse bind die stikstof en stel dit ook daarna beskikbaar aan die sojabone.”

Hy was verbaas dat meer plaaslike boere nie dié praktyk toepas nie. “Jy kan voedingstowwe in die grond hê, maar nie in die plant nie. Die grootste sondaar in dié geval is gewoonlik die grond-pH wat uit balans is.

“Elke element in die grond beïnvloed die res, en dit is jou taak as boer om daardie balans in die grond te handhaaf om voedingstowwe so geredelik moontlik aan die plant beskikbaar te stel. Alles waaraan jy geld gaan bestee, moet beskikbaar wees om’n opbrengs op jou belegging te kry.”

Randy gebruik die Brandt Smart System-blaarvoedingsreeks by sy sojabone. Dit sluit Smart Trio (reg.nr. B4289, Wet 36 van 1947), Smart Quatro (B5317) en Smart B-Mo (B5320) in.

“Saam met die dubbel- enting help die boor en molibdeen om stikstof vas te vang. Dit is belangrik, maar wanneer die stikstof eers geproduseer is, het jy boor nodig om die stikstof in die plant te verskuif, wat peulset en groei bevorder.

“Ons doseer dus die produk vier maal per jaar. Ons toets elke produk voor en ná toediening. Ons weet wanneer die produk in die plant opgeneem word en ons weet wat die uitwerking van elke produk is. Ons aanvaar nie bloot die vervaardiger se woord nie.”

Die enigste manier om te bepaal of voedingstowwe wél geredelik deur die plant opgeneem word, is om weekliks plantmateriaalmonsters te neem en te laat toets.

“Neem ’n monster van die gewasse op verskillende plekke in jou lande en toets die inhoud van die voedingstowwe.

“Aanvanklik is dit duur, maar die inligting vorm die grondslag waarop jy kan begin bou aan groter opbrengste. As jy nie weet nie, hoop jy net en dít is ’n resep vir mislukking. Ek glo daaraan om te weet, om die regte inligting te kry en te verstaan wat in my lande gebeur.”

Dit is ook uiters belangrik om monsters en toetse in dieselfde tyd op ’n jaargrondslag uit te voer en die resultate deeglik te boekstaaf. “Stel weekliks grafieke saam van die resultate. As jy klein stukkies papier gaan gebruik, gaan jy later nie kop of stert van die data uitmaak nie.

“As jy dit behoorlik byhou, gaan jy later presies sien wanneer die opname van voedingstowwe op hul hoogste is en dienooreenkomstig toedienings maak.” Randy gebruik sproeibemesting (fertigation) om regdeur die jaar in sy sojabone se voedingstofvraag te voorsien.

Dekgewasse in ’n land naby Reitz. Randy sê dekgewasse moet ’n integrale deel van ’n boerdery se voedingstofbeplanning uitmaak omdat hierdie gewasse broodnodige stikstof in die grond vaslê en bêre sodat dit later weer deur opvolggewasse opgeneem kan word.

‘Goedkoop versekering’

Een van Randy se bevindings is dat hy tot 215 kg stikstof (N) per hektaar moet toedien vir ’n groot oes. “Gelukkig maak die sojabone ook self ’n bietjie stikstof, maar om die stikstofbinding aan te help, ent ons hulle twee keer. Een keer as saadbehandeling en daarna dien ons ’n enting toe in die plantry.

“Vir ons is dit goedkoop versekering. Die sojabone kry ook ’n swamdoder en plaagdodertoediening voor die tweede inenting. Die koste daarvan word maklik deur die uiteindelike opbrengs gedek.” Vir ’n 3 ton-sojaboonoes is die onttrekking van kalium sowat 60 kg/ha. Boere sal dit dus in gedagte moet hou as hulle vir groter opbrengste begin bemes.

“Ek weet my grond kan nie dié hoeveelhede hou tot dit nodig is nie en ek kan nie my grond tot daar opbou nie, dus moes ons in die seisoen aan die vraag voldoen. Ons gebruik wateroplosbare kalium. Dit is basies kaliumchloried in vloeibare vorm wat deur die spilpunt toegedien word.”

Randy sê die meeste boere beskou die neem van plantmateriaalmonsters as ’n foutvind-oplossing. Hy beskou die neem van monsters egter as ’n tydige manier om plante se behoefte te verstaan en op te tree om die maksimum opbrengs te verseker. Dit kos fyn verstellings om die volgende seisoen se opbrengs te vermeerder, sê Randy.

“Logieserwys sou ’n mens dink jy gaan bloot meer kunsmis gee, en jou opbrengs gaan dienooreenkomstig toeneem, nie waar nie? Dit werk ongelukkig nie so nie. Ons het eerder gaan kyk na die balans in die plant en maniere gesoek om voedingstowwe op ’n holistiese wyse te vermeerder. Alles gaan oor balans en voedingstowwe werk in op mekaar. Jy kan nie bloot net meer kunsmis gee en hoop vir die beste nie. Jou grondgesondheid, die pH-vlakke en die interaksie tussen voedingstowwe moet in balans wees.”

Beter kunsmisplasing lewer tot 2 ton/ha meer

Die beste manier om te verseker die regte voedingstowwe is vir die plant beskikbaar, is deur dit in die wortelsone van die plant te plaas. “Ons het onder meer vogmeters in ons lande geïnstalleer. Naas ’n voglesing meet die vogmeters ook die soute in die grond.

“Ons weet dus presies hoe ons kunsmis deur die grond beweeg en waar ons sojabone se wortels is. Daarna gebruik ons bandplasing om te verseker die kunsmis word presies reg geplaas.” Randy plaas ook kunsmis weerskante van die sojaboonsade.

“Ek het gesien die worteldigtheid is altyd meer aan die kant waar die kunsmis geplaas is en daarom het ek besluit om die kunsmis weerskante van die saad te plaas. Ons het nie meer kunsmis begin gee nie en teen dieselfde hoeveelheid bly toedien. Sodoende het ons amper twee ton meer per hektaar gelewer, sonder om ’n ekstra sent te spandeer.

“Dit gaan jou nie meer kos wat kunsmis betref nie, maar daar gaan ’n uitgawe ten opsigte van ’n toedieningseenheid op jou kunsmistoediener wees. Jou groter opbrengs gaan egter vinnig vergoed vir die koste.” Die groot geheim is om tydig op te tree, sê Randy.

“Die neem van monsters, grondtoetse, vogmeting . . . dit gee ons uiteindelik al die inligting wat ons nodig het om ’n basislyn te vorm en om te verseker ons gee die nodige voedingstowwe aan die plant voor hy dit benodig.

“Hierdie soort benadering kan selfs beteken dat ’n boer ’n soort kunsmis sal moet gee waarmee hy onbekend is, maar dít is waar die toets van produkte weer baie belangrik word. Ek gaan nie ’n probleem identifiseer en hoop dit gaan weg nie. Ek gaan geld bestee aan betalende faktore om die kwessie aan te pak.” Om dít reg te kry, maak Randy ’n eenvoudige som oor sy bemesting

Praktiese plantdatum lei tot hoër opbrengste

Die regte plantdatum is deurslaggewend vir die beste opbrengs, sê Randy. “Ons probeer ons plante in die R1 tot R3-stadium op die langste dag van die jaar te hê. By ons is dit 21 Junie (Suid-Afrika 21 Desember). Dit kos sojabone 60 tot 65 dae om fisiologies ryp te word, wat beteken dat ons omtrent in die middel van April sal plant as planttoestande reg is.”

Dit beteken sy sojabone is in blom op die langste dag van die jaar. Maar hoe gemaak as jou lande byvoorbeeld te nat is en jy nie kan plant nie?

“Verander jou kultivar na een met ’n korter groeityd. As jou kultivar ’n groeityd van 65 dae het, en jy is 50 dae weg van die langste dag af, plant jy ’n kultivar wat vinniger groei. Ons het op dieselfde land ’n maand se verskil in plant- datums gehad, en verliese tussen sojabone wat op die ideale plantdatum geplant is en dié wat ’n maand later geplant is, was aansienlik.

“Dit maak dus sin om eerder jou kultivars te sinchroniseer sodat hulle op die langste dae in blomtyd is,” sê Randy. Probeer dus verseker dat al die plante so na as moontlik aan mekaar opkom.

“Al die plante moet teen dieselfde tyd opkom en groei, anders gaan jy inboet aan opbrengs. Die plantdiepte moet dus ook eenvormig wees. Ons probeer elke saadjie twee duim (5 cm) diep plant. Onthou, as jy teen 8 km/h moet plant vir ’n gelyke plantdiepte, doen dit dan. Dit is nie ’n wedloop om klaar te kry nie; dit is eerder ’n wedloop om heeltemal korrek te plant.”

Beproef alle dinge, behou die goeie

Beproef alle produkte van maatskappye eers deeglik, sê Randy. “Moenie net alles vir soetkoek opeet nie. Meet ’n deel van die land uit en doen proewe met nuwe produkte daarop. As die produkte werk, hou aan om dit te gebruik. As die produkte egter misluk, het jy net ’n klein deel van jou grond daarvoor gebruik, en is die verlies ook minder.”

Om na groter opbrengste te mik, glo Randy ook nie in die goedgelowige navolging van laboratoriumresultate nie. “Boere is geneig om na hul laboratoriumresultate te kyk en te dink die syfer wat sê ‘voldoende’, beteken hulle gee genoeg voedingstowwe.

“Maar wat is ‘voldoende’? Vir hoeveel ton is ‘voldoende’ genoeg?” Randy sê die “voldoende marge” is bloot die gemiddelde van al die resultate wat die laboratoriumtoetse wys. “Die lyn moet dus nie ‘voldoende’ gemerk wees nie, maar eerder ‘gemiddeld.’ En ’n gemiddelde oes is nie iets waarna jy moet mik nie,”

Bestuur wat jy kan

Dit beteken egter nie jy kan uitgawes goedmoeds aangaan sonder deeglike berekenings vooraf nie. Vir Randy moet elke besluit op ’n sterk finansiële grondslag plaasvind.

“Ek grond my som op alle uitgawes: Van bedryfskoste tot lopende uitgawes.” Vir sojabone werk hy op ’n produksiekoste van sowat R3 680 per ton, ’n verkoopprys van nagenoeg R4 952 per ton en ’n wins van R1 274. Sy mieliewinssyfer is van R667,60 tot R917,60 per ton mielies. (Sien ook Van beginnerboer tot wêreldrekordhouer in agt jaar.)

“As jy nie ’n goeie opbrengs op jou belegging kan behaal nie, gaan jy nie lank in die bedryf oorleef nie.” Uiteindelik is daar geen waarborge in boerdery nie, sê Randy.

“Ons kan nie ons pad na sukses oop hoop nie. Jy kan jouself nie ryk spaar nie. Jy moet dus geld bestee aan die faktore wat uiteindelik wél geld gaan maak. As jy eers verstaan wat plante benodig om die hoogste opbrengs te lewer, skakel dit baie onsekerheid uit.”

Grensverskuiwend

Mnr. Randy Dowdy van die deelstaat Georgia in Amerika hou die wêreldrekord vir die hoogste sojaboonopbrengs teen 11,47 t/ha. In die planttyd van 2014-’15 het hy die destydse wêreldrekord vir mielieproduksie onder besproeiing met ’n opbrengs van 503 skepels per acre (sowat 31 ton per hektaar) opgestel.

Dié rekord is intussen deur mnr. David Hula verbeter tot meer as 33 ton/ha. In die opbrengskompetisie van die nasionale mielieprodusentevereniging (NCGA) het Randy twee inskrywings gehad wat meer as 500 skepels per acre beloop het. Dit was in die afdeling vir mielies onder besproeiing met geen- of strookbewerking.

Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie dat ’n plaas meer as een inskrywing met ’n opbrengs van meer as 500 skepels per acre kon lewer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.