Riebeek se berg is toe onder die reën en mis en die voorspelling vir die volgende paar dae lyk goed. Maar afgesien van die weer het Junie ook gesorg vir vele ander gebeurtenisse. Op 1 Junie het my geliefde Landbouskool Oakdale 90 jaar oud geword.

Dit het saamgeval met ons matriekklas van 1956-’57 se 60 jaar-reünie. Sommige van ons ken mekaar nog, maar party het te veel plooie, te veel grys hare of dalk geen hare meer nie en moes van voor af aan mekaar voorgestel word.

Arme Jan Lotz, die organiseerder, het sy hande vol gehad om te sorg dat ons almal mekaar weer leer ken, maar ná ’n rukkie het dit ’n onvergeetlike aand geword.

Die Sondagoggend het ons soos een man na die ou Moederkerk in Riversdal opgeruk. Die boodskap is gebring deur niemand anders nie as Riekert Botha, en die titel van sy bood- skap was maklik om te verstaan: “Wie is die baas van jou lewe?” Groot boere, ek inkluis, kon ons trane nie bedwing nie.

Die Sondagaand het ek en my vrou op Mosselbaai oorgeslaap saam met my ou vriend Dico en sy vrou. Die Maandagoggend het ons in die pad geval na die Addo-olifantpark naby Port Elizabeth. Alles is bespreek en vooruit betaal, maar groot was ons verbasing toe ons by die hek kom en hoor “almal is op strike!”

Geen brandstofpomp, geen restaurant of winkelsentrum was oop nie. By die kantoor was twee mense wat ons die sleutels van ons huisies gegee het. Hulle het vriendelik om verskoning gevra vir die mense wat staak.

Die volgende dag moes ons terugry tot by Patensie om vir ons proviand te gaan koop. Die mense by die koöperasie het ons gewaarsku om nie deur Addo te probeer terugry soos ons wou nie. Bande word gebrand en groot pakskure staan in ligtelaaie. Verder word klippe en petrolbomme gegooi.

Ná vier dae is ons weer terug Mosselbaai toe, waar my vrou eers haar verjaarsdag wou vier voor ons huis toe kom. Ons vriende is terug Bredasdorp toe, waar dit baie droog is. Ons kyk TV en koop ’n Landbouweekblad om die tyd om te kry. Toe begin my tweede teleurstelling.

Ek lees dat die brandstofkoste vir boere in die vorige ses maande al R1 miljard gestyg het. Dis toe dat ek myself afvra wat die liggingsdifferensiaal teen R560 per ton van 2002 tot nou gekos het, as net die verhoging in die brandstofprys R1 miljard in ses maande gekos het.

Op die TV is Nasie in Gesprek uitgesaai en Theo Vorster gesels met Jannie de Villiers van Graan Suid-Afrika. Theo wou weet hoe volhoubaar koringboerdery is. Jannie het erken die prys is onder druk, maar gesê boere het ’n keuse – mielies, sonneblomme of sojabone.

Toe hy by die Wes-Kaap kom, het my egter laat dink aan ’n predikant wat die draad van sy preek so ’n bietjie verloor het. Ná ’n paar sekondes het hy hom probeer regruk met die verweer dat koring uit Rusland ingevoer word en dat Russiese boere, soos Suid-Afrikaanse boere, ook nie ’n subsidie van hul regering ontvang vir koringverbouing nie.

Ek dink by myself, maar Jannie het dan vir Theo vertel van die R560 per ton wat ons in die Wes-Kaap moet betaal vir ’n liggingsdifferensiaal.

Dis geld wat die Russiese boer op elke ton in sy sak steek. Maar voor ek van voor af kwaad word, moet ek liewer afsluit. Nog net dit, Jannie. Jy het met Moorreesburg se skou aan ons gesê Graan SA het die mandaat om te veg vir die uitfasering van die liggingsdifferensiaal. Wat gaan dan nou aan?

Ons hoor nie ’n woord van enigiemand wat die saak namens ons takel nie. Kort-kort kry ek ’n oproep van iemand wat wil weet of daar vanjaar teen oestyd ’n liggingsdifferensiaal gaan wees. By wie kan ons inligting kry? Riebeek-Wes

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.