Dit is vir my verbasend dat dié onderwerp nog ter sprake is in die mieliebedryf, veral met die lae pryse wat tans heers. Ek weet dr. Du Toit hamer al jare op die feit dat oormatige bemesting van min waarde is vir plante. Daarby sluit ek alle kommersiële gewasse in. Optimale wins moet die belangrikste mikpunt wees.

Ek besef dat die belangrikste enkele faktor in mielieverbouing waarskynlik eerder reënval is as bemesting. By die gewas waarmee ek te make het (sitrus) is optimale besproeiing ’n vereiste en speel reënval ’n minder belangrike rol, buiten om die damme vol te hou!

’n Oormaat misstof, veral stikstof, is eerder nadelig as voordelig omdat dit veral ’n nadelige uitwerking op vruggrootte het. Te veel stikstof onderdruk kalium- opname, wat kleiner vrugte tot gevolg het en tot laer pryse lei (soos dr. Du Toit sê). Dit help ook grondversuring aan.

Ons is ook in die gelukkige posisie dat ons baie meer kan staatmaak op blaarontledings as op grondontledings. Die interpretasie van blaarontledingsresultate is belangrik en vereis akkurate inligting ten opsigte van vorige misstof wat toegedien is en oes- en vruggrootte.

Algemene bemestingsriglyne word net gebruik as blaarontledingsdata en voorgeskiedenis nie beskikbaar is nie. Dan word gewoonlik oorbemes om seker te maak daar is nie ’n tekort aan belangrike elemente nie. Uit die aard van die saak kan so ’n bemestingsprogram nooit optimaal wees nie.

Die enigste gunstige aspek van oorbemesting is dat die kalium en fosfor in die grond agterbly – mits die grond nie te suur is nie – en weer vir die volgende oes beskikbaar sal wees. Daarteenoor word ’n oormaat stikstof deur die plant opgeneem, of gaan eenvoudig verlore en beteken min vir die volgende oes.

Soos dr. Du Toit tereg sê, jou winsgrens verlaag. Wat grondsuurheid betref, is die mieliebedryf in die gelukkige posisie dat kalk ingeploeg kan word en ondergrondse versuring maklik kan teenwerk. In die sitrusbedryf moet ons maar die kalk op die grond gooi, wat baie lank vat om in die ondergrond te kom.

Ek stem dus saam met dr. Du Toit dat maksimum opbrengs nie nagejaag moet word in hierdie tyd van stygende kunsmispryse en swak mieliepryse nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.