Die Nasionale Oeskattingskomitee (NOK) het gistermiddag bekend gemaak dat die finale oes vir 2017-’18 nou op 12,510 miljoen ton staan, teenoor die finale skatting van 12,931 miljoen ton wat in September verlede jaar gepubliseer is. Vir wit mielies is die oes 6,540 miljoen ton, wat 261 560 ton (3,85%) minder as die skatting is, en vir geel mielies is dit 5,970 miljoen ton, wat 159 650 ton minder as die skatting is.

Die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) het in Januarie met sy vraag-en-aanbodprojeksies gesê dit kom voor of die witmielie-oes met 100 000 ton oorskat is en die geelmielie-oes met 150 000 ton. In die lig van sy projeksies het die NLBR die verwagte oordragvoorraad in April op 3,21 miljoen ton geraam, waarvan 1,84 miljoen ton wit mielies en 1,37 miljoen ton geel mielies sou wees.

Met die jongste regstelling staan die oordragvoorraad nou eerder op sowat 3 miljoen ton, waarvan 1,6 miljoen ton wit mielies en 1,4 miljoen ton geel mielies sal wees.

Bemarkingsjaar

Volgens die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) se statistieke is daar in die 2018-’19-bemarkingsjaar van verlede Mei tot begin Februarie reeds meer as 1,8 miljoen ton mielies uitgevoer. Daarvan was 1 450 632 ton geel mielies, waarvan bykans die helfte na Viëtnam uitgevoer is. Altesaam 394 444 ton wit mielies is uitgevoer, waarvan 154 000 ton na Botswana gegaan het. In dieselfde tydperk is 50 613 ton geel mielies ingevoer, maar geen wit mielies nie.

Die uitvoer van ’n verdere 153 652 ton – 121 128 ton wit mielies en 32 524 ton geel mielies – word nog tot einde Maart beoog. Daar word terselfdertyd beoog om teen middel Maart 44 000 ton geel mielies in te voer. Hierdie mielies is waarskynlik vir die Wes-Kaap bestem, omdat dit nou goedkoper is om mielies van Suid-Amerika af in te voer as om dit padlangs van die mielieproduserende gebiede af na Kaapstad te vervoer.

Die NOK het ook die finale oeste vir ander somergewasse van die 2017-’18-seisoen bekend gemaak. Die kommersiële sonneblom-oes is 862 000 ton, wat 3 395 ton (0,04%) meer is as die laaste oesskatting. Die sojaboonoes is effens afwaarts aangepas van 1,550 miljoen ton tot 1,540 miljoen ton. Die sorghumoes is met 5 145 ton opwaarts aangepas tot 115 000 ton en die grondboonoes met 3 250 ton tot 57 000 ton.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.