Hy sê hoe langer dit gaan duur om die surplus uit te voer, hoe langer gaan die pryse onder druk bly. Hy het gepraat tydens ’n mediabesoek op die plaas van mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, by Hennenman.

“Die meeste van die uitvoermarkte is oop en hulle kan ons surplus opneem as die prys net reg is. Wat uitvoer verder strem, is dat Amerikaanse mielies nou ook op die uitvoermark begin meeding.”

Hy meen die prys moet nog met sowat R160/ton daal om uitvoer ’n hupstoot te gee, want dan is die prys eers op uitvoerpariteitvlakke en dus mededingender.

“Ons gaan die nuwe bemarkingsjaar in met ’n oordragvoorraad van 4,1 miljoen ton. As ons weer so ’n goeie oes soos vanjaar het, sal ons 7,5 miljoen ton moet uitvoer. Dit kan pryse nog ’n lang tyd laag hou.”

'n Jaar van mooi somme maak

Minnaar het op sy beurt gewaarsku dat vanjaar ’n jaar is waarin elke saaiboer sy somme baie mooi moet maak. “Jy moet weet waar maak jy wins en waar is dit ’n verlies. Ook wat die impak is as jy verskillende gewasse plant. Kyk na waar daar markruimte is. In hierdie stadium lyk dit of daar nie ruimte vir mielies is nie, maar wel vir sojabone en selfs sonneblom. ’n Mens kan selfs kyk na gewasse soos droëbone as jy jou mark vooruit kan vasmaak.”

Hy beoog om sy mielie-aanplantings met sowat 30% af te skaal en op die marginale grond sonneblom te plant. “My mikpunt is om by volgende jaar uit te kom. Daarom wil ek my risiko’s soveel moontlik beperk al beperk ek ook my totale opbrengs.”

Hy sê hy was verras deur boere se voornemens om mielies te plant. “Persoonlik het ek gedink boere sou minstens 10% afskaal. Maar dit wys jou wat is die boere se finansiële posisie. Hulle kan nie bekostig om nie te plant nie. Die oorhoofse koste hardloop net weg as jy nie plant nie.”

Minnaar sê in die oostelike produksie-gebied het dit redelik goed gegaan en hulle hoor van baie boere wat klaar geplant het. In die noordelike deel van die Oos-Vrystaat het dit ook goed gegaan, maar in die suidelike deel kon min boere al plant.

“In die westelike produksiegebied het min al begin plant. Die beste planttyd by my is van 15 November tot 25 November. Dan begin die risiko toeneem. Hoe verder wes ’n mens beweeg, hoe later kan daar nog geplant word, maar ons raak bekommerd. Die planttyd raak al hoe korter en daar is nou net een kans, nie meer twee nie.”