Wêreldwyd het mielie-opbrengste die afgelope twee dekades drasties verhoog, in ’n groot mate danksy die genetiese verbetering van basters. Van 2000 tot 2014 het die mielie-aanplantings in Amerika, China en Brasilië byvoorbeeld met onderskeidelik 13%, 38% en 25% toegeneem, terwyl produksie met onderskeidelik 31%, 49% en 60% gegroei het.

Heelwat meer tonne mielies is dus per hektaar op hierdie lande verbou. Só skryf mnr. Stephano Haarhoff, ’n M.Sc.-student aan die US in ’n artikel vir die vaktydskrif Crop Science. Sy studieleier was dr. Pieter Swanepoel. Stephano, ’n boorling van Dealesville in die Vrystaat, sê hy het die data van 127 droëland-proefpersele in 14 lande en oor vyf vastelande ingesluit.

Dit het gewys dat plantdigtheid ’n deurslaggewende faktor in die bepaling van opbrengs is.

Die eerste resultate van mnr. Stephano Haarhoff se navorsing oor wortelgroei by verskillende plantdigthede op ’n proefperseel van Ottosdal se geenbewerkingklub. Hy neem ondergrondse foto’s van die plante se wortels, wat hy dan met sagteware ontleed om onder meer die aantal wortels en die worteloppervlakte te bepaal. Sy internasionale literatuurstudie oor die belangrikheid van mielie-plantdigtheid het gewys dat wortelgroei ’n deurslaggewende faktor is as plantdigtheid verhoog word. Hierdie foto’s is geneem 60 dae nadat die plante opgekom het, in die middel van twee rye wat 76 cm uitmekaar is, en by ’n diepte van 60 cm. Foto A was wortel-ontwikkeling op die perseel met 20 000 plante/ha, foto B by ’n plantdigtheid van 30 000 plante/ha, en foto C van ’n perseel met 40 000 plante/ha. FOTO’S: VERSKAF

“Mielieteling het die produksiepotensiaal van plante verhoog wat in digter stande met mekaar meeding, maar dit het nie die produksiepotensiaal per plant verhoog nie. Dit is dus belangrik vir boere om die plantestand te plooi om die genetiese potensiaal van hul mielies voluit te benut.”

Die statistieke uit sy studie wys die volgende: In droë gebiede, met ’n gemiddelde reënval onder 400 mm per jaar, was die gemiddelde opbrengs 2,5 ton per hektaar, en veranderings in plantdigtheid het in dié dele nie juis ’n groot verskil in opbrengs bewerkstellig nie.

Digthede van tot 150 000 plante per hektaar het daar soortgelyke opbrengste as 30 000 plante per hektaar opgelewer. In halfwoestynagtige gebiede, wat gemiddeld van 400-600 mm reën per jaar kry, het die opbrengs wél aansienlik toegeneem namate digter geplant is.

Die gemiddelde resultaat in dié dele was 5 ton/ha as 40 000 plante per hektaar geplant is, maar teen digthede hoër as 140 000 plante per hektaar (met ’n gemiddelde opbrengs van 9 ton/ha) het opbrengste begin afneem.

In natter dele, met jaarlikse gemiddelde reënval van 600-800 mm per jaar, was die gemiddelde opbrengs 11 ton/ha teen ’n plantdigtheid van 120 000 plante per hektaar. Teen digthede hoër as 120 000 plante per hektaar het opbrengs egter in dié gebiede meestal afgeneem.

Stephano se oorsigstudie wys dat rywydte glad nie so ’n groot invloed op opbrengs het soos plantdigtheid nie. Die swakste opbrengste is wel behaal as die plantdigtheid laag en die rywydtes nou was. Die hoeveelheid stikstof wat toegedien is, het ook nie so ’n groot rol soos plantdigtheid in opbrengsverskille gespeel nie.

In sy navorsing het Stephano tussen geenbewerking- en konvensionele stelsels onderskei. Konvensionele stelsels het hy geklassifiseer as enige stelsel waarin die grond vóór of ná planttyd versteur is. In albei stelsels het opbrengs verhoog namate plantdigtheid verhoog is.

Die optimale plantdigtheid vir geenbewerkingstelsels was wél laer as vir konvensionele bewerking. Die opbrengs van geenbewerkingstelsels was egter by alle plantdigthede hoër as dié van konvensionele stelsels. Stephano benadruk dat geenbewerking dikwels, maar nie altyd nie, deel van ’n bewaringslandboustelsel is.

“Die hoër opbrengste wat aan geenbewerking toegeskryf word, kan danksy ’n kombinasie van faktore wees, soos die behoud van oesreste, wisselbou en beter tegnologie. Op hul beurt verminder dié faktore plae, terwyl dit grondgesondheid verbeter met ’n hoër organiese materiaalinhoud en beter waterverbruiksdoeltreffendheid.”

Sy navorsing het nietemin gewys dat opbrengste in konvensionele én geenbewerkingstelsels teen plantdigthede bokant 110 000 plante per hektaar begin afneem. Die vinnige vestiging van ’n blaredak oor die grond nadat geplant is, is belangrik om water, voedingstowwe en sonlig optimaal vir groei te kan benut, maar wortels is selfs nóg belangriker, het Stephano se navorsing gewys.

Navrae: Mnr. Stephano Haarhoff, e-pos: 17807328@sun.ac.za; dr. Pieter Swanepoel, e-pos: pieterswanepoel@sun.ac.za

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.