Een hiervan is die voorkoms van stambreek (green snap) by mielies, waar mielies sowat 500 mm van bo af afbreek.

Mnr. Marius Wessels, ’n boer op die plaas Paardekraal in die distrik Edenville, sê hy het las van stambreek by van sy mielies en die grootste frustrasie is dat jy nie regtig iets kan doen om dit reg te stel of te voorkom nie.

Hy verduidelik dat stambreek voorkom wanneer mielies tydens bestuiwing blootgestel word aan baie nat, winderige en koue toestande. “Vir dié seisoen staan ons reeds op 680 mm, en dit reën steeds. Ek kan nie onthou wanneer dit laas so nat was nie. Ons het op ’n stadium ook wind van 35-40 km/h gehad, en dit saam met die koue bewolkte toestande het alles bygedra tot die situasie.”

Wessels skat sy skade tans op sowat 5% van sy aanplantings, maar ’n skadebepaling is baie moeilik, aangesien van die plante nog koppe kan vorm in die komende weke. Hy het verskillende Monsanto-mieliekultivars op verskillende tye aangeplant.

“Plante wat bo die kop afbreek, kan nog koppe vorm omdat hulle deur ander plante bestuif kan word, terwyl die plante wat onder die kop afgebreek het, sal vrek.” Volgens Wessels sal hy en die span van Monsanto die situasie in die volgende paar weke monitor om te kan sien hoe groot die skade is.

Wessels is nie die enigste boer wat las van stambreek het nie. Mnr. Pieter Rademeyer, landboukundebestuurder by Pannar, het aan Landbou.com gesê dat hulle ook by ander boere navrae hieroor kry, veral in Noordwes en die Oos-Vrystaat.

Mnr. Luan van der Walt, ekonoom by Graan SA, sê boere het nog nie grootskaalse probleme met stambreek by hulle aangemeld nie.

Wat is stambreek?

“Stambreek kom net voor saadstadium of tydens bestuiwing voor,” sê Rademeyer. Met reën wat dae lank oor dele van die somergraangebied voorkom, sal stambreek die seisoen meer voorkom.

Stambreek kom gewoonlik voor tydens die vegetatiewe groeistadium en kan in enige stadium voorkom vanaf groeistadium V5 tot V18 (dit is wanneer vyf tot 18 blare ontvou waarvan die kraag sigbaar is). Die mees algemene stadium is V5-V8 en V12-R1 (laasgenoemde is sowat twee weke voor saadstadium).

In die V5-V8-stadium breek die plante gewoonlik op die grondoppervlak af en sal hulle geen opbrengs lewer nie. Wind, veral rukwind, is hoofsaaklik verantwoordelik vir die afbreek van die stamme. Gebreekte plante of stamme sal dus in een rigting lê. In enkele gevalle kan spruite uit die plant ontwikkel en koppe grootmaak.

Rademeyer verduidelik dat die risiko van stambreek hoog is wanneer ’n mielieplant heuphoog is, want die plant beweeg dan in ’n versnelde groeifase in. Dan vergroot die wortelstelsel drasties en die plant se water- en voedingsopname neem dienooreenkomstig toe. Tydens koel, vogtige toestande neem die mielieplant baie water op, wat die turgordruk in die selle verhoog. Die internodes verleng baie vinnig met die selwande wat dan swakker is omdat min lignien neergelê word. Die swakker selwande verhoog die risiko van stambreek.

Winderige toestande soggens veroorsaak meer skade as storms laatmiddag, want die plante is ná die dag se hitte ietwat “verlep” of het minder turgordruk en is dus meer elasties.

Rademeyer sê die voorkoms van stambreek kan wissel van minimaal tot baie erg. “Onthou dat plante wat afgebreek het, dadelik die oog vang omdat die afgebreekte dele verdroog. Dit lyk altyd erger as wat dit werklik is. Soos die plant ouer raak en lignien neergelê word, verminder die risiko van stambreek. Daarom sal dit selde voorkom nadat koppe reeds gevorm het.”

Rademeyer sê as die plant bokant die kop afbreek, sal dit steeds ’n opbrengs kan lewer. In dié geval sal die res van die plant se blare die noodsaaklike funksies oorneem en die plante sal steeds ’n kop kan lewer.

Mielieplante kan kompenseer vir die verlies wanneer meer sonlig die blaredak binnedring, deur groter koppe en of pitte te lewer, of in die geval van ’n meerkoppige baster deur meer koppe te lewer.

“Graanopbrengsverlies is daarom nie altyd in ooreenstemming met die hoeveelheid plante wat gebreek het nie,” sê Rademeyer. “Die grootste verliese kom voor wanneer groot hoeveelhede plante breek, veral as rukwinde voorkom.”

Ander moontlikhede

Rademeyer wys ook die volgende moontlike redes vir stambreek uit:

•          Chemiese middels. Indien sekere soorte chemise middels toegedien word, kan die voorkoms van stambreek verhoog. Voorbeelde van sulke produkte is 2.4D en dikamba. Die toediening van hierdie middels het tot gevolg dat plante vinniger abnormale seldeling ondergaan wat die plant meer onderhewig maak aan stambreek. Stambreek word dan gekenmerk deurdat die plante presies op die nodes afbreek.

•          Bemesting. Hoë vlakke van stikstof kan stambreek veroorsaak, veral wanneer plante se groeitoestande hoë opbrengste moontlik maak.

•          Plantestand. Hoe hoër die plantestand, hoe hoër is die voorkoms van stambreek. Die rede hiervoor is dat plante onderling meer meeding om voedingstowwe, water en son. Dit lei daartoe dat plante hoër sal uitgroei met gevolglike dunner stamme. Sodoende word swakker stamme verkry.

•          Genetiese eienskappe. Sekere genetiese groepe kan meer onderhewig  wees aan stambreek. Plante met ’n meer regop-blaargroeiwyse kan minder stambreek toon as plante uit die tipiese tropiese agtergrond. Dit is dus altyd raadsaam om ’n pakket van saad, saamgestel uit meer as een baster, aan te plant.

Kontak Rademeyer by pieter.rademeyer@pannar.co.za vir nog navrae.