Daar was reeds druk op die vraag na moutgars vanweë ’n groot eindvoorraad, en toe tref die verbod op alkoholverkope tydens die Covid-19-pandemie die bedryf.

Dit is alombekend dat die Wes-Kaap streng waterbeperkings tydens die onlangse droogte en selfs daarna ervaar het. Dit het daartoe gelei dat die vermoutingsaanleg in die Kaap minder kon vermout as beoog. Daarmee saam was produksietoestande nie altyd gunstig nie.

Die gehalte van moutgars is baie gevoelig vir verandering in die klimaat. Dit beïnvloed stikstofvlakke, en in die 2019-’20-bemarkingseisoen was hoë stikstofvlakke ’n groot probleem. Hoewel die meeste van die oes wel ingeneem is, moes AB InBev van die moutgars inneem met hoër as gewone stikstofbande.

Dit het die gevolg dat gars vermeng moes word om die regte spesifikasie te kry. Dit het ook ’n impak op die vermoutingsproses, wat daartoe gelei het dat verwerking stadiger plaasgevind en tot ’n groter surplus bygedra het.

EFFEK VAN COVID-19

Toe tref Covid-19 Suid-Afrika. Een van die regulasies wat ingestel is, was ’n verbod op drankverkope om verligting te bring by hospitale en nooddienste weens ongevalle. Sedert die uitbreking van die pandemie was daar reeds drie tye waartydens drankverkope verbied is. Dit het die verbruik van moutgars ’n groot knou gegee.

Hoewel die aankopers die bedryf goedgesind was en steeds by die oorspronklike mandaat gehou het, het dit daartoe gelei dat die eindvoorraad verder gestyg het. Die mandaat vir die komende seisoen is reeds bekend. Aankope uit veral die wintergraanstreek gaan wesenlik daal (sien tabel).

Die waarskynlikheid is groot dat moutgarsaankope nog verder kan daal as daar weer ’n verbod ingestel word.

Aan die einde van die 2019-’20-bemarkingseisoen verlede September het Sagis aangedui daar is reeds 10,1 maande se voorraad vir die nuwe seisoen beskikbaar. Die grafiek toon die verloop van die garsprys.

UITVOERMARK BEPERK

Baie mense, ook in die media, het die afgelope ruk gewonder hoekom ’n mens nie net die surplus kan uitvoer nie. Die werklikheid is dat die wêreld hoofsaaklik ’n voergarsprodusent is en gewoonlik net die room afskep vir moutproduksie. Die moutbedryf is ook baie gevoelig ten opsigte van kultivars en kultivareienskappe gegewe die brouresep vir elke produk.

Daarteenoor is Suid-Afrika hoofsaaklik ’n moutgarsprodusent en word die deel wat nie moutgraad bereik nie, hoofsaaklik aan die dierevoerbedryf verkoop. In die lig hiervan is daar min plekke waarheen gars teen mededingende pryse uitgevoer kan word.

Daar is wel lande waar daar ’n moontlike mark vir reeds verwerkte mout is, maar dit is beperk. Dié lande soek gewoonlik ’n gewaarborgde aanbod. Suid Afrika se moutvermoë tans is meestal net genoeg om die plaaslike mark te kan voorsien.

Omdat daar nie regtig uitvoergeleenthede is nie en die moutgarsbedryf in ’n enkelkoperstelsel funksioneer, beteken dit dat die opnemer van die gars tans die dierevoer- bedryf is. Dit beteken dat produsente deur inkomsteverliese in die gesig gestaar word sodra dit as voer verkoop word. Hulle kry tot R1 800/t minder vir hul gars. Produsente sal ook minder moutgars in die komende seisoen moet aanplant.

BELEGGINGS VAN DIE BAAN

Die bedryf het baie uitgesien na moontlike beleggings in meer vermoutingsaanlegte en die uitbreiding van aanlegte. Dit kon daartoe gelei het dat die vraag na moutgars in Suid-Afrika uitbrei en groei.

Die twee grootste bierbroumaatskappye in Suid-Afrika het egter intussen aangekondig dat hulle hul beleggings gaan beëindig. Heineken het reeds verlede Augustus aangedui dat hy nie meer beoog om ’n aanleg van $403 mil- joen (R5,8 miljard) in KwaZulu-Natal te bou nie. Vanjaar het hy met personeelafleggings begin. Eweneens het AB InBev aangekondig dat hy die beoogde R2,5 miljard wat vir beleggings in 2021 geoormerk was, afgelas het, en ook met afleggings begin het.

Die boetiekbiermark het die afgelope jare sterk gegroei, maar nou moes meer as 30% van die brouerye reeds hul deure sluit.

Tans is die volhoubaarheid van die bierbedryf onder groot druk. Al die bogenoemde beteken dat die drankverbod nie net ’n korttermynimpak op die bedryf gehad het nie, maar ook ’n langertermynimpak.

Die regering se herhaaldelike verbod of beperkings op drankverkope tydens die Covid-19-pandemie het bierverkope geknou en gevolglik die vraag na moutgars laat daal. Foto: NEVILLE LOCKHART

EKOLOGIESE IMPAK

Almal wat in die landbou betrokke is, weet dat produsente onkruiddoders sover moontlik verantwoordelik toedien. Een van die bestuursmeganismes om onkruid te bekamp en die opbou van weerstand teen sekere middels teen te werk, is wisselboupraktyke.

Die winterreënstreek het beperkte geleenthede ten opsigte van die mandjie gewasse wat verbou kan word. Dit beteken as boere minder gars kan aanplant, moet daar veranderinge in die wisselboupraktyke wees. Die vraag is wat die langdurige impak hiervan gaan wees.

Dit beteken ook dat dit outomaties gevolge vir ander bedrywe gaan hê omdat daar nou ’n groter aanbod van ander gewasse gaan wees. Neem in ag een van die probleme in die Wes-Kaap is dat hy reeds ’n surplus koring produseer wat verbruik in dié gebied betref.

BOERE ELDERS ONDERSTEUN

Amerika het uitbetalings van sowat R23,5 mil- jard aan boere gedoen om hulle tydens die Covid-19-pandemie te ondersteun. Dit is in verskillende fases betaal, maar het groot verligting vir die produsente gebring.

In die Europese Unie kon boere lenings teen ’n baie lae rentekoers kry om die siklus deur te sien – tot €200 000 per boer. Daar is ook verskeie ander maatreëls, soos toegang tot opbergingsgeriewe, om boere te ondersteun. Die unie het selfs van sy regulasies verslap oor terugbetalings van subsidies wat ontvang is en aanbodkettingbeheermaatreëls.

TER OPSOMMING

Die garsbedryf was goed op dreef en daar was goeie vooruitsigte vir die toekoms. Saam met klimaatsprobleme het Covid-19 en die inperkingsregulasies ’n groot demper op sy vooruitsigte geplaas. Weens die groot voorrade, beperkte markte en risiko met garsverbouing is daar talle boere wat in die komende seisoen waarskynlik produksie gaan inperk.

Die hartseer deel van die impak is dat dit ook gevolge op langer termyn vir die bedryf inhou. Beleggingsvooruitsigte staan stil, wat beteken bykomende markuitbreiding staan ook stil. Die ekologiese gevolge van veranderinge in wisselboupraktyke, veral monokultuurproduksie, kan ernstig wees.

Die kans is skraal dat plaaslike boere en bedrywe binne die alkoholwaardeketting ondersteun gaan word soos in ander lande, veral wat finansiële bystand betref. Daar kan wel ander hulpmiddels wees wat nie noodwendig uit die staatskas hoef te kom nie, soos beleggingsaansporings vir die bou van vermoutingsaanlegte en samewerking oor lenings of beleggings. Uitvoerooreenkomste en die oopmaak van markte gaan ook deurslaggewend wees. 

Dr. Dirk Strydom is bestuurder van graanekonomie en bemarking by Graan SA.