Mnr. Pieter Smith, bemarkingsbestuurder van Bayer SA, het dié nuus bekend gemaak tydens die virtuele Nampo in ’n debat oor die voordele vir boere van die tegnologieheffing op gewasse waarvan die saad teruggehou word.

Intacta Roundup Ready 2-tegnologie sal vir die boer die waarde bring om die sojabone teen bolwurms te beskerm en sal ook gevorderde tegnologie vir onkruidbekamping insluit. “Dit was ’n drie jaar lange proses om die tegnologie in plaaslike omstandighede te toets om te bewys dat dit van waarde is in die Suid-Afrikaanse konteks en ook veilig is vir mense, diere en die omgewing,” het Smith gesê.

“Eers dan kan ’n dossier by die regering ingedien word vir evaluasie en dan kan dit nog ’n jaar duur vir die regulatoriese prosedure om dit goedgekeur te kry. Dan begin die proses eers om deur plaaslike teelprogramme die kultivars te ontwikkel en die kultivars plaaslik te registreer.”

Smith het gesê multinasionale saadmaatskappye ding mee oor waar om te belê. Hulle kyk nie net na opbrengs nie, maar ook na stelsels waar waarde geskep kan word.

“Met die tegnologieheffing is daar ’n stelsel wat ons ’n voet in die deur gegee het om te kan sê ons belegging in die land is veilig. Die stelsel werk, dit word ondersteun deur die produsente en daar is ’n onafhanklike liggaam, Sacta (die Suid-Afrikaanse kultivar- en tegnologie-agentskap), wat dit bestuur. Dit het dit baie makliker gemaak om maatskappye te kon vra om in Suid-Afrika te belê.”

Hy het gesê vir die maatskappye is dit ’n langtermynbelegging. “Ons werk op ’n 30-jaarsiklus, want dit kos maklik 25 jaar om nuwe tegnologie te ontwikkel.”

Mnr. Corné Louw, senior ekonoom van Graan SA, wat van die begin af by die proses betrokke was, het gesê dit is vanjaar die vierde jaar dat koringboere die heffing betaal en die tweede jaar vir sojaboonboere. Die ander gewasse betrokke is gars en hawer. “Ons kan reeds sien die voordele wat ons uit die heffing kry, oortref die koste van die heffing.”

Hy het gesê Suid-Afrikaanse produsente is van die vinnigste ter wêreld om hulle by nuwe tegnologie aan te pas. Met al die data en platforms wat deesdae beskikbaar is, werk boere nie meer op ’n hektaargrondslag om besluite te neem nie, maar per meter.

Mnr. Gert Heyns, uitvoerende hoof van Sacta, het gesê vir baie jare was daar ’n behoefte aan ’n meganisme om boere toegang tot nuwe tegnologie te gee, maar ook ’n rendement op beleggings te kry. “Daar is aanvanklik probeer om die siklusse met nuwe kultivars so kort moontlik te hou. Dit het tot gevolg gehad dat daar met sojabone nou 122 geregistreerde kultivars in Suid-Afrika is vir ’n mark van 700 000 ha. Dit is nie ideaal nie. Ons sit nou met ’n grondslag om vorentoe te kan uitbrei.”