Luidens ’n verklaring sê die JSE instelling van die nuwe kontrakte en die versoeke daarvoor volg hoofsaaklik as gevolg van die afname in die binnelandse produksie van sorghum. Die standaardkontrakgroottes vir gevestigde soetsorghum (kontrakkode SORG) en bittersorghum (kontrakkode SGBT) is van 100 ton tot 30 ton verminder.

Die laaste dag van handel in die 100 ton-kontrak was op 15 Februarie. Vanaf 18 Februarie is die 30 ton-kontrakkode vir soetsorghum MSRG en vir bittersorghum MSBT.

Stimulering van die mark

Mnr. Luan van der Walt, ekonoom by Graan SA, sê hoewel die sorghumkontrakte reeds ’n paar jaar op Safex verhandel, was dit nie doeltreffend as prysverskansingsmeganisme nie. Dit kan grootliks toegeskryf word aan die beperkte deelname aan die kontrak, wat veroorsaak dat daar nie genoeg likiditeit in die mark was nie.

“ ’n Termynkontrak speel ’n belangrike rol in die prysvorming van die gewas en dus is dit noodsaaklik dat daar soveel moontlik deelname aan die kontrakte is om ’n deursigtige prys te weerspieël,” sê Van der Walt.

Graan SA se sorghumspesialiswerkgroep het weens die huidige situasie in die plaaslike bedryf en die daling in produksie en verbruik wat die afgelope paar jaar gesien is, gemeen dat die kontrakte vir 100 ton te groot was.

Die organisasie en werkgroep het aan die res van die bedryf en die JSE voorgestel dat die kontrak kleiner gemaak word met die hoop dat dit verhandeling op Safex sal stimuleer.

“Dit sal baie gunstig wees vir die sorghumbedryf aangesien dit vir die belanghebbendes in die bedryf ’n goeie geleentheid sal bied vir prysverskansing. Dit sal ook bydra tot meer deursigtigheid in die prysvorming van die sorghummark,” sê Van der Walt.

Enigeen met vrae oor die nuwe kontrakte kan die JSE kontak by 011 520 7039 of stuur ’n e-pos na commodities@jse.co.za.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.