Hoewel daar plek-plek versuipskade was en sommige streke ’n midsomerdroogte beleef het, lyk dit asof vanjaar se opbrengste van gemiddeld tot bogemiddeld gaan wissel. Veral sojaboonboere was in hul noppies met hul opbrengs.

Teen strooptyd was die mieliepryse steeds sowat 30% hoër as ’n jaar gelede en sommige boere met wie Landbouweekblad gepraat het, sê die prys is vir hulle ’n groot uitkoms. “Die watertafelgronde se oeste is vanjaar laer as die langtermyngemiddelde weens versuiptoestande. Gelukkig maak die prys op vir die opbrengs wat ingeboet word en sal die boere ’n paar rand maak,” sê mnr. Danie Minnaar, ’n boer van Kroonstad.

Die mielieprys is hul redding, beaam mnr. Danie le Roux van Schweizer-Reneke. “Jy kan amper sê ons het ’n nat droogte gehad. Die versuipskade begin Januarie het ons geknou, want die mielies was in daardie stadium nog te klein vir die oormaat reën wat in so ’n kort tyd geval het.” Dit het veroorsaak dat opbrengste op sy swak grond vanjaar beter was as op sy goeie grond.

Planttyd het in streke soos Mpumalanga ’n groot verskil aan opbrengs gemaak. Vanuit Delmas vertel mnr. Peet Bezuidenhout dat die aanplantings wat hy net ná die eerste goeie Oktoberreën gedoen het, in Januarie in die blom was toe sy distrik ’n midsomerdroogte beleef het. “Daardie opbrengste is maar dieselfde as laasjaar. Die ouens wat van 15 tot 20 November kon plant, het beter oeste gehad.”

Dit lyk asof die oeste oral vroeër as normaalweg gereed was om te stroop. In die laaste week van Mei is 1,335 miljoen ton mielies gelewer en dit was die grootste leweringsweek sedert 17 tot 23 Junie 2017, sê dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat. “Dit wys vir ons die oes is groot en hy is vroeg. Teen einde Mei is 29% van die oesskatting se mielies reeds gelewer.” Die verwagting in dié stadium is dat vanjaar se mielie-oes die tweede grootste nog sal wees.

Hierdie seisoen se lewerings verloop teen ’n baie vinniger tempo as die gemiddelde, sê mnr. Luan van der Walt, landbou-ekonoom van Graan SA. Die gemiddelde leweringstempo van witmielies en geelmielies teen einde Mei is 11% en 19% onderskeidelik.

Waar daar verlede jaar graadprobleme met mielies was, is dit vanjaar nie ’n groot faktor nie, sê mnr. Cobus van Coller van Viljoenskroon. “Die oeste het beter gelyk as wat ons gedink het dit sou. Die graad lyk baie mooi, nêrens is ’n graadprobleem aangeteken by enige silo waarvan ek bewus is nie.”

Hy sê van die silos raak nou vol en hulle begin die graan in silosakke opberg. In dié distrik was die opbrengs op die sandgrond ook weens versuipskade laer as op die harde grond.

Vanuit Bergville in KwaZulu-Natal vertel mnr. Cobus Botha van Winterton dat hul distrik ’n “ongelooflik goeie” sojaboonoes gestroop het. “Daar was gelukkig geen haelskade nie, maar ons mielies het wel ’n bietjie versuipskade gely.”

Waar daar nie waterskade was nie, het die distrik Ladybrand vanjaar “bul-oeste” gestroop, sê ’n dankbare mnr. Christo Beukman. Dié distrik het die afgelope jare eers laat reën gekry en koue weer het laat aanplantings geknou. “Maar hierdie seisoen het die reën op die regte tyd geval en hier by my het ek vanjaar ’n rekordmielie-oes gestroop.”