Die geskatte oes is nou 13% kleiner as die vorige seisoen se 12,510 miljoen ton.

Die jongste skatting is 0,3% of 32 400 ton meer as die vorige skatting. Die skatting vir witmielies is onveranderd gelaat op 5,488 miljoen ton en vir geelmielies is dit opwaarts aangepas van 5,412 miljoen ton tot 5,445 miljoen ton. Die totale oppervlakte onder mielies is 2,301 miljoen ha en die verwagte opbrengs is 4,75 t/ha.

Wat die nie-kommersiële sektor betref, word geraam dat daar 296 000 ha onder mielies is wat ’n afname van sowat 5,98% teenoor die vorige seisoen is. Die verwagte oes word geraam op 549 180 ton, waarvan sowat 43% in die Oos-Kaap en 27% in KwaZulu-Natal geproduseer word.

Mnr. Antony Clark, markontleder, sê die oes, saam met ’n goeie oordragvoorraad van 2,8 miljoen ton, is voldoende om in die plaaslike vraag te voorsien en plaas Suid-Afrika in ’n goeie posisie om ook te kan uitvoer.

Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, glo ook dat Suid-Afrika vanjaar ’n netto uitvoerder van mielies sal wees. Hy voorsien egter dat die uitvoer met die helfte sal verminder teenoor die vorige bemarkingsjaar tot sowat 1,1 miljoen ton.

Hy meen die vraag na mielies in Suider- en Oos-Afrika kan ’n invloed op pryse hê. “Volgens ons berekenings lyk dit of Zimbabwe, Kenia en Mosambiek saam ’n tekort van sowat 2,5 miljoen ton sal hê. Tanzanië het aangedui dat hy sowat ’n miljoen ton aan Kenia gaan verskaf. Dit beteken Suid-Afrika, Zambië en moontlik Mexiko sal waarskynlik die verskaffers aan Zimbabwe en Mosambiek wees.”

Pryse

Hy sê die tekorte in die streek ondersteun die plaaslike pryse. Op 25 Junie was die pryse vir wit- en geelmielies onderskeidelik R2 893/ton en R2 862/ton, wat onderskeidelik 40% en 32% hoër is as in die ooreenstemmende tyd ’n jaar gelede.

Clark wys daarop dat die laat aanplantings weens nat toestande in Amerika ook internasionaal die pryse opjaag en slegte nuus vir groot gebruikers is. “Sedert begin Mei het die Amerikaanse prys met 29% gestyg en dit het ook ’n invloed op die plaaslike prys gehad. Geelmielies se prys plaaslik is sowat 16% hoër sedert begin Mei en meer as 20% hoër as in Desember.”

Hy meen hierdie stygings saam met ’n styging in die prys van sojabone sal ’n ongunstige invloed op die verdienste van pluimveeprodusente en groot voedselverwerkers soos RCL, Pioneer en Quantum hê.

Ander gewasse

Wat ander somergewasse betref, is die produksieskatting vir sojabone 1,216 miljoen ton, wat 6,13% of 79 450 ton minder is as die vorige skatting. Die geskatte oppervlakte onder sojabone is 730 500 ha en die verwagte opbrengs is 1,67 t/ha.

Sonneblomsaad se skatting is onveranderd gelaat op 611 140 ton. Die oppervlakteskatting is 515 350 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,19 t/ha is.

Die verwagte grondboonoes het met 9,36% of 2 125 ton tot 20 580 ton afgeneem. Die opbrengs is is 1,03 t/ha en die oppervlakteskatting is 20 050 ha. Die produksieskatting vir sorghum het ook effens afgeneem met 2,65% of 4 400 ton tot 161 450 ton. Die oppervlakteskatting is 50 500 ha en die verwagte opbrengs is 3,2 t/ha.

Droëbone se produksieskatting is aansienlik afwaarts aangepas met 8,17% of 5 920 ton van 72 450 ton tot 66 530 ton. Die oppervlakteskatting is 59 300 ha en die opbrengs 1,12 t/ha. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.