Die departement van landbou het in 2016 ’n gevolmagtigde aangestel om graan en oliesade by silo’s te gradeer. Op 1 Februarie het Leaf Services aangekondig die inspeksie van graderingsfunksies by silo’s gaan op 1 April 2021 begin. Sedert ’n jaar gelede het die departement en die gevolmagtigde besef ’n gevolmagtigde kan nie die totale graderingsfunksie, personeel en instrumente oorneem nie omdat dit tot groot koste en teenstand in die waardeketting sal lei.

Die departement se gevolmagtigde het op 1 Februarie sy sakeplan en lewensvatbaarheidstudie aan belanghebbendes in die waardeketting beskikbaar gestel.

Die span van Afrilogic wat deur Leaf Services aangestel is om die lewensvatbaarheidstudie te onderneem, en nou ook in Leaf Services se topbestuur aangestel is, het wyd gekonsulteer om die plan af te handel.

Die huidige voorstel is dat die gevolmagtigde die graderingsfunksies en instrumente en personeel se graderingsvermoë sal inspekteer. Om koste laag te hou word voorgestel dat silo’s hul personeel vir ’n dag of twee sal sekondeer om in diens van Leaf Services te wees.

Die bykomende koste vir die totale waardeketting beloop R4/t, in totaal meer as R170 mil- joen. Silo’s sal die heffing, wat statutêr gaan wees, moet insamel en administratiewe stelsels daarvoor in werking moet stel. Sodra die voorstel in die Staatskoerant afgekondig word, is daar 30 dae om kommentaar te lewer.

Die departement van landbou het nog nie verduidelik waarom die graderingsfunksie by silo’s geïnspekteer moet word nie.

SELFREGULERING

Die graderingsinligting word dadelik aan die betrokke partye verskaf. Die Suid-Afrikaanse graanlaboratorium het ringtoetse waaraan opbergers (Agbiz Grain se lede) deelneem. Gradering geskied reg deur die bedryf volgens vereiste standaarde. Afwykings word reggestel. Dispute word besleg op grond van die graderingsregulasies.

Selfregulering in die gradering van grane en oliesade is reeds ná deregulering tot ’n wetlike vlak verhef. Die graderingsregulasie in die Wet op Landbouprodukstandaarde (Wet 119 van 1990) bepaal die minimum vereistes vir gradering, soos dit tydens verhandeling vereis word. Die wet maak ook voorsiening vir regstellende stappe en boetes.

Die graderingsinligting nadat ’n gelewerde kommoditeit gegradeer is, word volledig en tydig aan die betrokke partye verskaf. Dit regverdig dus nie ’n toename in regulering en koste nie.

Daar is nie ’n monopolie in die gradering van graan en oliesade wat groter regulering regverdig nie. Is daar ’n monopolistiese markdeelnemer wat sy oorheersende posisie misbruik, wat tot verliese vir ander deelnemers lei? Indien nie, regverdig dit dus nie ’n toename in regulering oor die totale bedryf nie.

Ryk lande gebruik moderne maatstawwe om te voorkom dat hul bedrywe en ekonomiese groei deur onnodige administratiewe laste belas word. Hierdie lande maak seker die regulatoriese impakstudies voldoen aan hoë standaarde. Taakspanne moet toesien dat administratiewe laste en koste verminder. Suid-Afrika kan daaruit leer.

Dié lande monitor die impak van regulasies wat reeds toegepas is, tot by die regulasie se oorsprong om te bepaal of die regulasie nog regverdig kan word. Is die Wet op Landbouprodukstandaarde en vereistes vir die gevolmagtigde nog van toepassing?

Lande doen deesdae ’n regulatoriese impak-ontleding om te verseker dat regulasies nie hul bedrywe benadeel nie. Die lande streef daarna om duur administratiewe laste deurlopend te verminder.

Politici ondersteun die proses om die administratiewe las op ondernemings te verlig. Inligtingstegnologie word toenemend gebruik om die las op bedrywe te verlig. Die lande kommunikeer die suksesse wat hulle behaal.

In Suid-Afrika word gradering gevoer deur ’n kombinasie van selfregulering en vereistes waaraan gradering dienooreenkomstig die afgekondigde graderingsregulasies moet voldoen. Die stelsel werk uitstekend.

Bly vernuwend en streef daarna om oplossings vir probleme te vind. Die gradering van kommoditeite in Suid-Afrika word behoorlik gereguleer en die inligting word tydig en openlik uitgeruil tussen diegene wat by die transaksie betrokke is. Die instellings wat tans die gradering van graan en oliesade uitvoer, het nie ’n monopolie nie. Boonop het die departement van landbou nog nie met ’n goeie rede vorendag gekom oor hoekom nog regulering nodig is nie.

Volg die ryk lande van die Organisasie vir Ekonomiese Ontwikkeling en Samewerking (OESO) se voorbeeld en bepaal wat die impak op die graan- en oliesade-bedryf gaan wees voor die bedryf en verbruiker ’n bykomende koste van R170 miljoen en administratiewe laste moet absorbeer. Is dit regtig nodig?

LUG JOU MENING

Kragtens die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Wet 3 van 2000) vereis die regering binne 30 dae ’n antwoord van jou af. Van 1 April af word die koste by die waardeketting gevoeg.

Besluit of dit nodig is en maak jou stem dik. Dra jou standpunt oor aan jou verteenwoordiger in die georganiseerde landbou wat hierby ’n belang het, soos Agbiz Grain, Graan SA, die Suid-Afrikaanse graan- en oliesade-handelsvereniging (Sacota), die vereniging van veevoervervaardigers (Afma), die Meulenaarskamer, die Kamer van Bakwese en die nasionale verbruikersunie (Sancu). 

Mnr. Wessel Lemmer is hoofbestuurder van Agbiz Grain.

BRONNE: Cutting Red Tape – National Strategies for Administrative Simplification, OECD, 2006. Richard A. Booth, Self-Regulation in a Democratic Society, 1985.