As hy ’n misoes het, sit hy met die skuld en sonder ’n inkomste vir ’n jaar voor hy weer dieselfde kans kan waag.

Hy sê in 2016 was graanboere in ’n baie sterker posisie om die droogte te trotseer. Goeie oeste het daarna gevolg, maar pryse was baie laag en hulle kon nie finansieel herstel nie. Daarom meen Jannie talle boere gaan dit nie maak nie. Die landbou is in ’n krisis en nuwe planne is nodig.

Jannie meen dat daar struktuurveranderinge in die westelike produksiegebied gaan kom. Markkragte sal boere dwing om byvoorbeeld landerye na weiding om te skakel – soos wat die Regering jare gelede boere betaal het om te doen. Hy meen dit sal ’n impak op die grootte van plase hê en dat net groot boerderye sal oorleef.

Om te vergoed vir produksie-eenhede wat in die weste kan verdwyn, sal daar byvoorbeeld meer mielies in die Oos-Kaap met sy gunstiger klimaat geplant moet word. Die probleem daar is weer dat boere nie die grond besit nie en daarom nie sekuriteit het vir produksielenings nie.

Subsidies se geskiedenis

Met ekstensiewe veeboere in groot dele van die land gaan dit ook benard. Baie van hulle het tot dusver oorleef met eie reserwes, lenings en ook skenkings van voer uit die saaigebiede – waarvan die vervoerkoste deur weldoeners geborg word.

Die ontvangers weet eintlik nie hóé om dankie te sê vir hierdie hulp nie – hulle het in hierdie stadium eintlik niks om te kan teruggee nie. Boere het al lankal vrede gemaak daarmee dat die Regering nooit weer subsidies en hulp, soos die vee-onttrekkingskema, sal instel nie.

Dié skema het vanaf 1969 tot 1978 sowat 7 000 boere op sowat 60 miljoen hektaar ondersteun deur hulle in staat te stel om ’n derde van hul diere van die veld af te onttrek. Boere het toe R3 per onttrekte kleinvee-eenheid per jaar ontvang, tot ’n maksimum van omtrent R5 000. Dit het die belastingbetaler destyds R48 miljoen gekos.

En toe kom die reën en die veld herstel wonderbaarlik. Soveel só dat navorsers verskil het of die herstel was weens die laer weidingsdruk of die inherente vermoë van die halfwoestyn om, met genoeg reën, te herstel. Een wetenskaplike verslag (Baard) het selfs bevind dat al die geld wat tydens die projek bestee is, nie geregverdig kon word nie weens die lae produksiepotensiaal van die droë dele van die land vergeleke met die streke met hoër potensiaal in die noorde.

Die Nasionale Weidingstrategie wat toe later (1987) ingestel is, het ook kritiek van navorsers ontlok. Rimmer (1993) het gemeen omdat dié skema ook gehelp het om boere met skuld op hul plase te hou, het ’n gulde geleentheid vir grondhervorming verlore gegaan.

Die probleem met die navorsing is dat dit eers ná die droogte gedoen is. Grondhervorming het geen kans op sukses as ’n uitmergelende droogte reeds die veld vernietig en talle plattelandse gemeenskappe ontwortel het nie. Gelukkig weet ouer boere darem ook as die reën weer kom, herstel die hulpbronne ook – en dan boer almal weer vorentoe.

Onteiening – die prys om van Zuma ontslae te raak

Die proses met grondhervorming is een massiewe bedrogspul, sê die politieke ontleder Max du Preez. Hy het aan honderde wynboere op Vinpro se inligtingsdag in Kaapstad gesê die waarheid is dat die ANC sedert 1994 nooit juis erns gehad het oor die herverdeling van grond nie.

Volgens hom het dit onder oudpres. Jacob Zuma se bewind niks gevorder nie. Hy sê die redes waarom die ANC so stadig daarmee vorder, is nie die Grondwet nie, maar die Regering se onvermoë, wanadministrasie en korrupsie. Maar hoekom dan die Grondwet verander om onteiening sonder vergoeding toe te laat?

Eenvoudig, sê vriend Max. Die rede is dat die Zuma-Gupta-alliansie met iets moes vorendag kom om die aandag van korrupsie en staatskaping af te lei.

Teen einde 2017 het die Zuma-kamp ook begin besef hy gaan die leierskapstryd in die ANC verloor. Daarom is besluit om vir oulaas ’n landmyn op pres. Cyril Ramaphosa se pad te plant. Dit het tot ’n mosie oor onteiening sonder vergoeding gelei wat onverwags op die laaste aand van die ANC se 54ste konferensie by die Nasrec-skouterrein daardie jaar in Johannesburg ingestel is.

Max vertel ’n vuurwarm debat het gevolg, aangesien Ramaphosa en van sy ondersteuners geheel en al teen die voorstel gekant was. Uit vrees dat die hele konferensie in duie sal stort en Zuma dus aan bewind kon bly, het die Ramaphosa-kamp egter die voorstel (weliswaar met ’n paar riglyne) aanvaar. Dit was dus die prys wat Suid-Afrika moes betaal om van Zuma as president ontslae te raak.

Stedelike grond

Die ironie, sê Max, is dat navorsing deur die Universiteit van die Wes-Kaap toon dat baie min swart mense belang stel in die risiko’s wat die kommersiële landbou inhou. Die grondvraagstuk gaan nie soseer oor landbougrond nie, maar eerder oor stedelike grond. Meer as twee derdes van Suid-Afrikaners woon in stede.

Sedert 1994 het meer as vyf miljoen mense na Gauteng verhuis en nóg drie miljoen na die Wes-Kaap. Sowat 1 miljoen ha kommunale grond lê glo braak.

Die probleem met onteiening is nie dat produktiewe grond en eiendom afgevat sal word nie, meen Max. “Die ware gevaar lê in die reaksie van die armes, die populiste en die radikale opstokers wanneer hulle besef onteiening gaan nie op groot skaal gebeur nie.”

Max sê uiteindelik sal daar net ’n klein verandering aan die Grondwet gemaak word. Hoogstens ’n toevoeging tot artikel 25 (3) wat meld dat geen of min vergoeding ook moontlik is wanneer grond onteien moet word vir die redes wat reeds in die Grondwet uiteengesit is.

Arbitrêre beslaglegging van eiendom kan nie plaasvind nie. Dit is hoogs onwaarskynlik, sê Max, dat enige funksionele boerdery ooit onteien sal word.

As jy kon kies

As jy kon kies tussen ’n goeie vrou en ’n nuwe bakkie, wat sou jy kies? Diesel of petrol?

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.