Dit hoef nie meer 12 jaar te kos om ’n nuwe plantkultivar te ontwikkel nie, sê mnr. Willem Botes, hoof van Universiteit Stellenbosch se plantteellaboratorium. “Ons het soveel kortpaaie en tegnologie dat ons nie meer 12 jaar hoef te wag nie.”

Dubbelhaploïedtegnologie word reeds gebruik om die proses te verkort, maar nuwe tegnologie, soos CRISPR – ’n tegniek waarmee gene verander kan word – en die verbetering van bastertegnologie, kan ook die proses verkort.

Ten spyte daarvan is teling in Suid-Afrika verder agter as wat ons dink, het Botes op Graan SA se eerste jaarlikse streeksvergadering vir die nuwe streek 32 op Riversdal gesê. Die vordering wat met besproeiingskoring gemaak is, het die stadige vordering met droëlandkoring verberg. “Dis iets waaroor lande, soos China en Indië, ook bekommerd is.”

Botes sê hy is optimisties oor onlangse ontwikkelings in Suid-Afrika, soos ’n stelsel van eindpunttantieme wat sal verseker dat telers hul tegnologiefooi kan verhaal en gerugte dat daar nou ’n vierde koringsaadteler is.

Wat hom as ’n plantteler egter meer opgewonde maak, is tegnologie, soos CRISPR (gerigte tegnologie wat genome goedkoop en akkuraat kan verander) en die verbeteringe wat in bastertegnologie plaasvind.

Nuwe tegnologie reeds gebruik

Botes sê CRISPR-tegnologie word reeds in eksperimente gebruik om die ensiem Rubisco doeltreffender te laat werk en koringplante beter te help fotosinteer.

Volgens hom gaan dit ontwrigtende tegnologie wees, maar dit is nodig om koringverbouing die sprong te gee wat die “groen revolusie” meer as 50 jaar gelede vir ander gewasse gegee het.

Volgens Botes kan Suid-Afrika munt slaan uit verbeterings in bastertegnologie. “Een van die onbedoelde gevolge van apartheid is dat ons genetika jare lank geïsoleer was. Wanneer jy basters maak, het jy heterotiese groepe (suiwer genetiese materiaal wat basterkrag tot gevolg het as hulle met ander heterotiese groepe gekruis word) nodig.

“Ons het ’n groot klomp unieke genetika in ons teelprogramme, veral op Stellenbosch. As ons dit kombineer met groepe van ander lande, kan ons wonderlike basters maak.”

Botes sê Suid-Afrika kan ook voordeel trek uit internasionale navorsing om koringproduksie te verhoog deur koring se genetiese opbrengspotensiaal te verbeter, pleks daarvan om meer water of grond te gebruik.